Verbruikersake: Kommissie doen beroep op skole en ouers oor skoolklere

skoolskoene-2

(Argieffoto)

Met die skole wat binnekort heropen, skuif ouers en skole se aandag nou ook na een van die kwessies waarmee ons al jare lank sit: skoolklere. Vra enige ouer oor skoolklere en jy hoor dadelik hoe duur dit is. Dikwels kan mens van die skoolklere wat nie generies is nie, net by sekere handelaars koop en hierdie handelaar is nie skaam om jou deur jou ore te laat betaal nie. Ina Opperman gee raad.

Die Mededingingskommissie het weer eens ’n beroep op skole en ouers gedoen om te hou by die omsendbrief oor die aankoop van skoolklere, genaamd “Procurement of School Uniform and other Learning-Related Goods and Services”, wat gesamentlik uitgegee is deur die kommissie en die department van onderwys op 16 November 2020.

Die omsendbrief is hoofsaaklik daarop gerig om niemededingende aankooppraktyke by skole te beëindig en benadruk die beginsels van die “School Uniform Guidelines” wat die departement van onderwys in Mei 2015 gepubliseer het.

Nasionale riglyne vir skoolklere is reeds in 2006 kragtens die Skolewet in die Staatskoerant gepubliseer, wat bepaal dat skoolklere ’n belangrike sosiale en opvoedkundige doel het. Openbare skole kan skoolklere behou indien hulle dit verkies, maar die beskikbaarheid van skoolklere mag nie toegang tot skole verhinder of inbreuk maak op mense se grondwetlike regte nie. Die koste van skoolklere moet beperk word deur die reeks skoolklere te verminder en die aantal uniforms wat ’n skool vereis, te beperk, sodat meer as een verskaffer dit kan verkoop.

Gedurende die pandemie het die kommissie se fokus ook uitgebrei na ander goedere en dienste wat ouers moet koop, soos gesigmaskers, ontsmettingsmiddels, tegnologiese toestelle vir e-leer en ander benodighede.

Riglyne vir skole en ouers

Hierdie riglyne gee skole en ander betrokkenes riglyne oor die beste praktyke vir alle goedere wat skole of ouers moet aankoop.

Volgens die kommissie het sy toetrede to die kwessie positiewe resultate gehad om die gedrag van die skole en kleinhandelaars te verander en is hy beïndruk met hoe gou skole hul uniforms meer beskikbaar en toeganklik gemaak het.

Die kommissie sê hy het verskeie briewe van ouers gekry wat daarop dui dat hulle ’n verandering sien in hoe skole die kwessie van skoolklere en ander benodighede benader.

Die riglyne sluit in dat:

  • Skoolklere moet so generies wees as moontlik sodat dit oral gekoop kan word;
  • Eksklusiwiteit moet beperk word tot dinge wat die skool beskou as nodig om van vooraf-verkose verskaffers te kry;
  • Skole moet ’n mededingende tenderproses volg wanneer verskaffers aangewys word;
  • Ooreenkomste met verskaffers moet vir ’n beperkte tyd geld en nie vir buitengewone lang tydperke nie; en
  • Skole mag ouers nie dwing om nuwe of bykomende skoolklere te koop om klere te roteer gedurende die pandemie nie. Skole moet liewer alternatiewe oplossings soek, soos om leerlinge toe te laat om gewone klere te dra.

Skole wat nie luister nie

Die kommissie sê as skole nie voldoen aan die riglyne nie, sal hy optree volgens die magte wat hy het ten opsigte van die Wet op Mededinging, veral as die hoofdoel is om die koste te verminder.

Die bepalings van die Wet op Mededinging verbied praktyke wat mededinging verhoed en lei tot hoër pryse en minder keuse en die misbruik van dominansie deur dominante maatskappye wanneer hulle buitensporige pryse vra en kleiner mededingers uitsluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Danie ·

Roer die skole wat alles aflag. Prestige en sulke foefies en die vet weet wat alles in hierdie tye maak dit baie moeilik vir baie ouers om alles by te bring. “Get off your high horses”!

Mallie ·

Skole mmoet begin om self skoolklere te verkoop en nie handelaars nie. Ek stem vir skoolklere want daar is ouers wat dit nie eers kan bekostig om kos te koop nie wat staan nog sivvies. Skoolklere wys dat daar eenheid is, en dit maak nie saak of jy ryk of arm is nie.

ᛄᚪᚾ ·

Ouers moet in ieder geval klere aanskaf vir hul kinders. Waarom dubbele druk op beperkte begrotings plaas met NOG klere wat vir n kind aangeskaf moet word? Groeiende kinders se klerekaste moet boonop 2 maal `n jaar vervang word. Wat is die “belangrike sosiale en opvoedkundige doel” van skool uniforms soos genoem in die Nasionale skolewet van 2006? Vergeet van skooluniforms, laat leerders gewone klere aantrek skooltoe. Genugtig, 30 jaar (waarvan ek weet) se debat oor skooluniforms en nog niks het vorentoe beweeg nie

Alet ·

Want het jy al gesien hoe lyk party leerders? Veral die denims wat so onder die boude hang. Lyk soos regte gom gatte. Almal skree altyd kinders van vandag word nie gedisiplineer nie. Wel skool klere is deel daarvan. Leer om ordentlik te lyk wanneer jy skool toe gaan , hare netjies en kweek trots. Ek is heeltemal vir skoolklere. Eendag wanneer daai kind begin werk sal hy trots en netjies geklee by die werk opdaag ipv ‘n slierterige griesbol. En praat van 30 jaar terug. Genugtig vandag se kinders het juis daarom skoolklere nodig. Gaan kyk na die kleredrag van vandag en van 30 jaar terug.

Elizbe ·

Ek het groot waardering vir my kinders se skool wat onlangs weggebreek het van die tradisie en beperkinge rondom skoolklere. Ek was altyd ‘n groot voorstander van skoolklere, tot ek beleef het hoeveel beter, makliker en goedkoper dit is om sonder dit klaar te kom nadat ons skool toegewings gemaak het tydens die inperking. Ons skoolgemeenskap het dit so positief ervaar, dat die beheerliggaam besluit het om vir ‘n toetsperiode van 1 jaar heeltemal weg te doen daarmee. (Behalwe sportklere en ‘n basiese t-hempie vir spesiale geleenthede bv. uitstappies ens. ) Dit werk vir ons!

Alet ·

Hmm en nou begin boetie nag omdat sy vreind net Levi’s en Soviets dra en hy moet PnP brand denims dra.

Elizbe ·

Haha, ja, dit was aanvanklik die vrese, maar om een of ander rede het dit nogals glad nie gebeur nie. Soos ek sê, dit werk vir ons gemeenskap. Dalk het ons ons kinders goed genoeg grootgemaak dat hulle besef “brands” is maar net ‘n foefie (waarvoor ouers maar gerus kan nee ook sê)

Porseleintjie ·

Die prys van skoolklere maak dit eksklusief. Grens aan boutique pryse as jy my vra. Ouers word gemelk.

Alet ·

Sorry maar ek betaal R300 vir skoolbroek en R800 vir ‘n denim. So waar is die besparing?

Piet ·

Hoekom is daar so ding soos skoolklere om mee te begin? Dis ‘n erfenis van 1800s England. Ons moet ontslae raak van dit. Dis kinders, nie soldate nie. Laat hulle skool toe gaan in wat hulle wil!

Chantel ·

Dis belaglik as jy kyk wat dit kos, betaal tot R1200 vir ‘n kleurbaaitjie.
Die ander kwessie wat ek voel regtig aangespreek kan word is hare by beide seuns en dogter.
Genade as dit netjies is, los die kinders. Net my gevoel

Hydi ·

My seun nou matriek. Hul trek ander kleure en ander klere aan. Kos ons R650 ‘n broek en R400’ n hemp. 2 broeke en 4 hemde, én ons moes spesiale das, serp en pullover koop.
‘n Friekken fortuin.
Ek’ s nou al so gatvol v daardie skool en kan nie wag dat hy klaarmaak nie. Als gaan or hoeveel geld hul uit jou kan druk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.