Verskillende skole beskikbaar vir dowe kinders

(Argieffoto: Verskaf)

Deur Wilmaré du Buisson

In my vorige berig het ek taalintervensie-opsies bespreek vir horende ouers met ’n kind waarby gehoorverlies gediagnoseer is. Die tipe onderrig wat beskikbaar is vir dié kinders het ook ’n groot invloed op die besluit van intervensies. In dié berig gaan ons verskillende skole in Suid-Afrika wat beskikbaar is vir kinders met gehoorverlies, bespreek.

Daar is goeie en slegte nuus ten opsigte skole vir dowe kinders. Die goeie nuus is dat al die skole wat spesialiseer in onderrig vir kinders met ’n gehoorverlies weet hoe vroeër mens met intervensie kan begin, hoe beter. Dit is ook by dié skole waar hulle die ouers kan help met ’n taalintervensieprogram.

Die slegte nuus is dat sulke gespesialiseerde skole nie orals is nie, veral nie in die platteland nie. Daarom vereis dit dikwels van plattelandse ouers om ver te reis vir konsultasies en afsprake, of selfs om hul kleuter van 4 jaar oud in ’n koshuis te plaas.

Daar is basies twee taalintervensiemetodes. Die eerste intervensie word na verwys as die patologiese intervensie. Met hierdie intervensies is die doel om die gehoor te herstel deur middel van gehoorapparate en om gesproke taal te ontwikkel. Die tweede intervensie is die kulturele intervensie. Hier word die huistaal van die gesin aangepas en die doel is om Suid-Afrikaanse Gebaretaal aan te leer as huistaal.

Skole wat beskikbaar is vir kinders met ’n gehoorverlies word ook so geklassifiseer. Daar is skole wat fokus op die ontwikkeling van gesproke taal en dan is daar skole wie se onderrigtaal Suid-Afrikaanse Gebaretaal is. Skole wat die twee tale meng, is ook beskikbaar, maar dis gewoonlik vir kinders met ’n gehoorverlies wat nie gesproke taal teen ’n gepaste tyd kon aanleer nie. As gesproke taal en gebaretaal gemeng word, word nie een van die twee tale se sinskonstruksie reg toegepas nie of die leksikon word selfs verander en daarom sê ons hulle gebruik Totale Kommunikasie inplaas van ’n spesifieke taal.

As ouers die patologiese intervensies kies, gaan hulle na skole kyk waar hul kind kan integreer met kinders wat nie ’n gehoorverlies het nie. Afhangend van die graad van gehoorverlies, ouderdom van gehoorverlies, kognitiewe- en taalvermoë, is dit definitief moontlik. Daar is baie kinders met kogleêre inplantings wat na skole toe gaan wat nie spesialiseer in onderrig vir dowe kinders nie. Die oudioloog of spraakterapeut behoort te kan leiding gee of die kind meer gespesialiseerde onderrig nodig het, andersins sal die onderwysers by die gewone skool vir die ouers kan inlig of hul kind met die werk en die ander leerlinge bybly.

Vir die kinders wat meer gespesialiseerde onderrig benodig, is daar tog ’n skool beskikbaar in Suid-Afrika waar kinders nie spesiale onderrig hoef te ontvang nie en steeds saam met horende kinders in die klas sit. Eduplex is die enigste inklusiewe skool in Suid-Afrika waar hulle horende kinders en kinders met ’n gehoorverlies inneem. Eduplex is wel ’n privaat skool, maar hulle werk saam met internasionale organisasies wat help met befondsing. Met die befondsing kan hulle vir leerders help met die fondse vir die kogleêre inplantings en beurse aanbied.

Kinders kan by hulle so vroeg as 2 jaar oud begin, waar hulle dan saam met hul ouers weeklikse afsprake het om by te woon. So begin hulle hul pad saam met die skool totdat hulle dan saam met die horende kinders in die klas ingedeel word. Selfs gedurende klastyd sal die juffrou ’n tydjie inruim om individuele aandag aan die kinders te gee met ’n gehoorverlies en seker maak hulle verstaan wat verduidelik word. Die kinders met gehoorverlies by die skool kry die nodige aandag sodat hulle die geleentheid het om net so sterk of selfs beter as die gewone leerling te presteer. Eduplex is in Pretoria geleë en het ongelukkig nie koshuise nie. Dus is hulle slegs vir ouers en kinders wat in die omgewing bly, ’n opsie.

Daar is wel ander skole in die land wat ook gespesialiseerde onderrig aan kinders met gehoorverlies bied. Carel du Toit is ’n spesiale skool wat ’n soortgelyke onderrigproses as Eduplex het, hoewel daar in Carel du Toit slegs kinders met gehoorverlies is. Carel du Toit se intervensieprogram begin ook vroeg, maar hulle bied ongelukkig slegs voorskool- en grondslagfaseklasse aan. Die kinders hier word aan die einde van graad 3 na ander skole verplaas, na gelang van hul vermoëns. Carel du Toit se hoofskool is in Kaapstad, maar het hy ook satellietskole in Oos-Londen en Bloemfontein. Carel du Toit se skole het ongelukkig ook nie koshuise nie.

Die beste uitkoms van dié soorte skole is dat jou kind maklik in die samelewing kan aanpas omdat hy of sy die mees gebruikte taal in die omgewing kan gebruik. Aan die ander kant is die moontlikheid ook daar dat ná jare se toewyding jou kind nie die gesproke taal spontaan kan gebruik nie. Dan word hy of sy gewoonlik na ’n ander skool toe verwys. Dit is dan gewoonlik ’n skool vir spesiale onderrig waar hulle kinders met verskillende gestremdhede onderrig. Dit is ook hier waar die kinders soms gebruikmaak van totale kommunikasie. Die ander opsie is dat die kind na ’n skool vir dowe kinders gestuur word.

Wilmaré du Bussion (Foto: Verskaf)

Skole vir dowe kinders is vir kinders wat die kulturele intervensie volg. Die skole is meer volop en het gewoonlik koshuise. Die meeste skole vir dowe mense in Suid-Afrika gebruik Suid-Afrikaanse Gebaretaal as taal van onderrig. Omdat daar nie ’n gestandaardiseerde geskrewe vorm van Suid-Afrikaanse Gebaretaal is nie, is die inhoud van die materiaal in gesproke taal. Dus is die groot uitdaging in dié skole om vir hul leerders geletterdheid aan te leer.

Maar soos alle ander skole het elkeen van hierdie skole hul unieke metodes wat hulle volg en ook hul unieke suksesgetalle. Daarom is dit belangrik om navorsing te doen oor die algehele vaardighede van die spesifieke skole vir dowe kinders in jou omgewing. ’n Paar fantastiese skole is die Dominican School for the Deaf in Kaapstad, die De la Bat Skool vir Dowes in Worcester, in Johannesburg is die St. Vincent School for the Deaf, en in Pretoria is die Transoranje School for the Deaf.

Die groot voordeel van skole vir dowes is dat daar ’n kultuur van veiligheid en geborgenheid is. Die kinders hier word ook nie weens hul taalvaardigheid verwys na ander skole toe nie. Alle kinders het die vermoë om gebaretaal aan te leer, maar dit is nie altyd die geval met gesproke taal nie.

Die sleutel tot sukses vir jou kind met gehoorverlies, ongeag in watter skool hy of sy is, is die ouers se toewyding en betrokkenheid. As ouer moet jy aktief deelneem in jou kind se onderrig. Nie net deur fisieke huiswerktake nie, maar ook deur belangstelling en motivering. Dit gaan vir jou ook ’n realistiese prentjie skep oor wat jy kan verwag van hom of haar. Dit is nie ’n maklike proses nie, maar daar is definitief hulpbronne by al hierdie skole wat jou as ouer kan ondersteun.

  • Hierdie is die derde berig uit ’n reeks van vier deur Wilmaré du Buisson. Sy is tans besig met haar meestersgraad in Suid-Afrikaanse Gebaretaal aan die Universiteit van die Vrystaat. Du Buisson en Solidariteit Helpende Hand het kragte saamgesnoer om deur Helpende Hand se nuut gestigte tak vir mense met gehoorgestremdheid, bewusmaking te skep oor kinders met gehoorgestremdheid. Vir meer inligting besoek www.shhgehoorgestremdhede.co.za of stuur ’n e-pos na [email protected]. Vrae kan ook na dié e-pos gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.