Video: Geliefde Britse varkie ‘Peppa Pig’ kuier in SA

Peppa Pig en Anna is mal oor avonture. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Jong storiekykers regoor die wêreld heen is gek oor Peppa Pig, die Britse pienkvarkie met die rooi rokkie, haar boetie, George, en haar ouers, Daddy Pig en Mummy Pig.

Dié geliefde animasie-gesin kry nou in Suid-Afrika gestalte op die verhoog in ʼn landswye toer van Gauteng na Kaapstad en KwaZulu-Natal.

Die verhoogproduksie getiteld, Peppa Pig’s Perfect Day, lok reeds sedert vroeër vandeesweek gehore van groot en klein, en dis veral die peuters wat gaande is oor dié prettige produksie.

Peppa Pig se maatjie in die menswêreld, Anna (vertolk deur Taylor Salgado), het saam met Peppa Pig in Maroela Media se ateljee gekuier om meer oor die opwindende toer in Suid-Afrika te vertel.

“Ek is mal daaroor om saam met Peppa te reis en saam met haar ander maats, soos Rebecca Rabbit en Candy Cat, keer op keer ʼn wonderlike avontuur te onderneem,” sê Anna.

In Peppa Pig’s Perfect Day wil Peppa en haar maats vir Daddy Pig en Mummy Pig die perfekte dag beplan, maar dinge hou aan om lelik skeef te loop. Sal Peppa dit kan regkry om Daddy Pig se groot verrassing te red? Wat gaan gebeur met Goldie in die akwarium? En kom George al die pad van die ruimte af terug?

Peppa Pig is tans op die planke by Emperors Palace. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Peppa Pig behou tans die nommer 1-posisie wêreldwyd vir ʼn kindertelevisieprogram vir kinders tussen die ouderdomme van twee en vyf jaar. Die handelsmerk se kernwaardes oor familie, vriende, verbeelding en vriendelikheid, het Peppa Pig legioene aanhangers besorg.

Peppa Pig-produksies het voorheen in Londen se West End, VSA, Europa, Australië en Nieu-Seeland uitverkoop.

Peppa Pig’s Perfect Day is tot 10 April by Emporers Palace te sien in die Theatre of Marcellus. Daarna vertrek Peppa en haar vriende na die Cape Town International Convention Centre van 14 tot 16 April, waarna Peppa op die planke is by die Suncoast in Durban van 21 tot 23 April.

Kaartjies is beskikbaar by www.peppapiglive.co.za.

“Dit is werklik ʼn avontuur vir die hele gesin en dit is die moeite werd vir ouers om hulle kinders na die vertoning te bring, net om die uitdrukking op hulle gesigte te sien wanneer hulle vir Peppa Pig in lewende lywe sien. Sy is soos ʼn rockster vir kinders!”

Video:

Peppa Pig en Anna het in Maroela Media se ateljee kom kuier om te gesels oor Peppa Pig’s Perfect Day. Kyk hier:

WEN:

Twee gelukkige lesers kan elkeen ʼn bondel van vier kaartjies na die vertoning van Peppa Pig’s Perfect Day op Saterdag 8 April om 10:00 wen.

Skryf vir die kompetisie in deur die vorm in te vul. Die kompetisie sluit op Woensdag 5 April om middernag. Die wenners sal per e-pos in kennis gestel word.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes:

  • Elkeen van die twee bondel kaartjies is geldig vir een volwassene en drie kinders of twee volwassenes en twee kinders. Alle kinders moet deur ten minste een volwassene vergesel word.
  • Die kaartjies sal per e-pos aan die wenners gestuur word.
  • Die kaartjies is slegs geldig vir die spesifieke datum en tyd soos aangedui (Saterdag 8 April 10:00).
  • Die kaartjies kan nie geruil word vir kontant of die datum verander word nie.
  • Die prys bestaan slegs uit vier kaartjies per wenner.
  • Die wenners is verantwoordelik vir hulle eie vervoer en verblyf vir die vertoning.
  • Die kaartjies moet uitgedruk word en vertoon word met aankoms by Emperors Palace.
  • Bykomende kaartjies kan by peppapiglive.co.za aangekoop word. Die sitplekke van addisionele kaartjies kan nie saam met die pryskaartjies gesit word nie, aangesien die pryskaartjies deel vorm van ʼn blokbespreking.
  • Die prys kan nie oorgedra word nie.
  • Die kompetisie sluit op Woensdag 5 April om middernag.
  • ’n Wenner sal lukraak gekies word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media per e-pos met die wenner in verbinding sal tree.
  • Die wenner sal ook op Maroela Media bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.