Video’s help studente om regte studierigting te kies

Argieffoto (Foto: TeroVesalainen, Pixabay)

Akademia bied ʼn insiggewende reeks video’s met die titel ‘Jou Loopbaan: Akademia 101’ aan wat die verskillende kwalifikasies in aanbod in ‘n neutedop aan voornemende studente bekend stel.

Die eerste program aan die beurt is die BCom Ondernemingsbestuur-graad: ’n student, die programbestuurder en ʼn kenner vertel.

In die eerste video beskryf ʼn tweedejaarstudent sy ervaring van die programinhoud en klasse, terwyl die programbestuurder in die tweede video alle administratiewe en akademiese inligting oor die graad eenvoudig en visueel aan voornemende studente oordra. Die derde video fokus op die bedryf en wat die kwalifikasie vir afgestudeerde studente kan beteken, in die woorde van Stefan van der Walt, uitvoerende hoof van Nikon Suid-Afrika en uitvoerende voorsitter van die Premium Groep. Hy gee ook raad uit lesse wat hy self oor die jare heen geleer het.

ʼn Toepaslike graadkwalifikasie as wegspringplek vir ʼn suksesvolle werksloopbaan, word al belangriker in die moderne kennisekonomie. Die BCom Ondernemingsbestuur-graadkwalifikasie wat Akademia bied, voldoen aan internasionale kriteria en is ten volle geakkrediteer by die Raad op Hoër Onderwys. Dié program stel die student in staat om die beginsels van bestuur in alle afdelings van ’n onderneming te verstaan en in die praktyk toe te pas.

Dit is dus ’n omvattende program wat vir die student ’n breër insig sal gee oor elke aspek van ’n sakeonderneming en ook hoe om sy/haar eie sakeonderneming op te rig en suksesvol te bestuur.

Aansoeke vir studies in 2018 sluit op 19 Januarie 2018 en daar word op 13 Januarie 2018 ’n opedag gehou.

Kyk die video’s hier:
Video van huidige student
Video van programbestuurder
Video van iemand uit die praktyk

Indien jy meer te wete wil kom oor die aansoekproses, kyk gerus hierdie video.

Volg ons gerus op Facebook, Twitter en Instagram om voortdurend inligting oor Akademia te ontvang en besoek die webblad by www.akademia.ac.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.