Vind vreugde in die feesseisoen

Dis tyd dat mense weer besin oor hulle idee van vreugde en hoe dit beleef word, met of sonder ʼn stapel duur geskenke onder boom. Foto: Verskaf.

Dit is hierdie tyd van die jaar dat die kommersiële wêreld behoorlik sy tande wys en vir jou en jou kinders probeer wysmaak dat die ware geluk van Kerstyd daarin lê om soveel geld as moontlik uit te gee.

“Gesinne voel in die tyd dikwels verplig om allerhande duur en onnodige geskenke te koop om aan die verwagtinge van die samelewing en sakeondernemings te voldoen.

“Daar is natuurlik niks verkeerd daarmee om geskenke vir geliefdes uit te deel nie, maar daar is ʼn probleem wanneer ons verwagtinge van materiële geskenke gebruik word om ons vreugde, of die gebrek daaraan, te definieer.

“Dit is ook ʼn probleem wanneer gesinne of families voel dat hulle geen ander keuse het as om hul liefde te bewys deur te veel te bestee en dit boonop nog spanning en angs vir gesinslede skep nie,” het Cindy Glass, eienaar en medestigter van die Step Up‑onderwyssentrums gesê. Die sentrums verskaf sedert 2016 naskoolse remediëring en tutoriale dienste vir kinders wat sukkel om in ʼn onsimpatieke skoolstelsel te presteer.

Glass meen dit is tyd dat mense weer besin oor hulle idee van vreugde en hoe dit beleef word, met of sonder ʼn stapel duur geskenke onder boom.

Sy definieer eerstens wat vreugde nie is nie:

  • Daar is nie iets soos vreugde wat vir altyd duur nie. Niemand voel die hele tyd gelukkig of vreugdevol nie. Ons moet wel oomblikke skep waarin vreugde ervaar kan word. Hierdie soort oomblikke moet erken en waardeer word.
  • Vreugde kan nie gekoop word nie. Dit is eerder ʼn emosie wat binne ʼn enkele oomblik ervaar kan word.

Fokus hierdie Kersfees om eerder herinneringe saam met jou gesin te skep. Foto: Verskaf.

Glass bied eenvoudige idees wat jou kan help om hierdie Kersfees vreugde te skep:

  1. Die beste manier om vreugde te ervaar, is om dit aan iemand anders te gee. Waarom werk julle nie as gesin of familie saam om iemand se nood te verlig nie? Bespreek idees hiervoor saam. Jy kan regtig kreatief raak met ʼn paar eenvoudige items of kospakkies, wat julle dan saam kan weggee.
  2. Wees onbaatsugtig. Kies ʼn organisasie wat op soek is na vrywilligers en besluit om iets as ʼn gesin by te dra. Daar is groot oomblikke van vreugde daarin te vind om diensbaar te wees aan mense wat minderbevoorreg as jyself.
  3. Beperk die begroting op geskenke. Fokus eerder op geskenke wat vir die ontvanger ʼn besonderse betekenis het. Dit kan baie plesier verskaf as jy eers kreatief begin raak en dit beteken veel meer as wat ʼn haastig gekoopte geskenk ooit sal doen.
  4. Skep herinneringe. Soek geleenthede om ervaringe saam te beleef eerder as om duur geskenke uit te deel. Organiseer ʼn piekniek in ʼn park of ʼn dag op die strand. Jy kan jou ervaringsgeskenk in ʼn tuisgemaakte kaartjie bekend maak. Onthou mooi herinneringe hoef nie baie geld te kos nie, maar dit kan jou ʼn leeftyd bybly.
  5. Liefde is al wat jy nodig het. Onthou daar is niks in die wêreld wat jy kan koop wat die liefde van ʼn gesin kan vervang nie. Moenie jou oor die klein goedjies bekommer nie, die lewe is beslis te kort daarvoor. Kyk na mekaar, waardeer mekaar en wys daardie dankbaarheid vir mekaar. Respekteer mekaar en maak ʼn punt daarvan om op die uitkyk te wees vir daardie klein oomblikke van vreugde.
  6. Leer jou kinders om ʼn dankbare gesindheid te hê. Hulle het dalk nie al die materiële luukshede onder die son nie, maar daar is steeds soveel om dankbaar te wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.