Virtuele beroepsvoorligting vir gr. 11’s en 12’s aangebied

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Leerders word dikwels oorweldig deur die belangrike besluit oor wat hulle ná skool gaan doen. Onsekerheid heers dikwels oor wat voorgestelde kwalifikasies behels en watter loopbaankeuses met só ʼn kwalifikasie gemaak kan word.

Akademia bring nou akademie en praktyk bymekaar met ʼn gratis virtuele beroepsvoorligtingskonferensie wat vanaf 26 tot 29 Oktober daagliks van 09:00 tot 11:00 vir gr. 11- en 12-leerders gehou word.

Die konferensie word aangebied om belangstellendes toe te rus met die nodige kennis om deurdagte besluite met die oog op die toekoms te neem.

“Dikwels besef studente eers in die middel van hulle studies dat ʼn kwalifikasie nie is wat hulle verwag het nie,” vertel Mareli Rall, projekkoördineerder van die beroepsvoorligtingskonferensie.

“Met hierdie konferensie hoop Akademia dat ons kan help om onsekerhede sommer vroegtydig al op te klaar.”

Rall meen verder dat beroepsvoorligting talle voordele inhou en voeg by dat behalwe dat jy presies weet wat jou beroep gaan behels wanneer jy afstudeer het, hierdie blootstelling ook kan help om nuwe kontakte op te bou.

“Jy ontmoet dalk net die regte persoon en word later ʼn uitstekende pos aangebied. Of wie weet, dalk prikkel die konferensie ʼn nuwe beroepsbelangstelling en voor jy jou oë uitvee het jy ʼn kwalifikasie in hierdie rigting voltooi.”

Akademia se voltydse akademiese aanbod vir 2021 word tydens die konferensie van alle kante bekyk. Akademici gaan verskeie kwalifikasies deurtrap terwyl uitgesoekte persone uit die praktyk hul persoonlike beroepservarings gaan deel. Boonop kry belangstellendes die geleentheid om beroepsrelevante vrae aan hierdie persone te rig.

Belangstellendes kan vir een of meer van die volgende sessies registreer:

  • BA (Kommunikasie en Joernalistiek) – 26 Oktober
  • BSc (Wiskundige Wetenskappe) – 26 Oktober
  • BCom (Ekonomie en Regte) – 27 Oktober
  • BCom (Ondernemingsbestuur) – 28 Oktober
  • BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie) – 29 Oktober
  • BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde) – 29 Oktober

Hierdie beroepsvoorligtingskonferensie is net een van die maniere hoe Akademia daartoe bydra om afgeronde studente aan gemeenskappe te lewer.

“By Akademia wil ons nie net studente akademies oplei nie, maar ook opvoed sodat hulle gereed is vir hulle loopbane,” sê Rall.

Bespreek hier vir die sessies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.