Vrae oor wetsgehoorsaamheid

(Foto: @tingeyinjurylawfirm/Unsplash)

Deur Francisca Wessels

Wetsgehoorsaamheid is ʼn begrip wat dikwels debat uitlok. Dit is in die omgang bekend dat mense in baie ander lande baie meer wetsgehoorsaam is en die reëls en regulasies van hul land te alle tye tot op die letter nakom. Orde in hierdie lande word bewonder en as voorbeeld gestel. In Suid-Afrika is wetsgehoorsaamheid ʼn meer vloeibare begrip.

Baie van ons stel orde hoog op prys, maar skop vas teen sekere reëls of oortree dit so ongemerk. Wetsgehoorsaamheid is ook omstrede sodra die toepassing daarvan plaasvind deur ʼn instansie of regering waarmee jy dalk nie saamstem nie. Is jou wetsgehoorsaamheid dus gekoppel aan jou politieke siening of jou interpretasie van billikheid en logika? Hoe moet jy as verantwoordelike landsburger hieroor dink?

Francisca Wessels, prokureur en notaris van Johannesburg, gebruik die afgelope Desember se Covid-inperkingsmaatreëls as voorbeeld om meer lig op hierdie saak te werp.

Ek het lanklaas so uitgesien na ʼn vakansie soos na die afgelope Desembervakansie. Die relatiewe vryheid van vlak een van die inperkingsregulasies het my spreekwoordelike vlerke gegee om van Johannesburg na Jongensfontein in die Suid-Kaap te reis. Dit is sekerlik te verstane, omdat ek sedert Maart 2020, soos baie ander Suid-Afrikaners, van die huis af gewerk het en niks meer vooruit kon beplan nie. Ek het gedurende die jaar nie werklik iets gehad om na uit te sien nie. My doen en late, of eerder die gebrek daaraan, is skielik deur die wetgewer vir my bepaal, gekommunikeer deur die president en daarna in die staatskoerant gepubliseer.

Op pad het twee goed in my kop gedraai: My 12-jarige seun se opgewondenheid om net by die see te kom om te swem en die stygende Covid-19-infeksies in die Tuinroete-gebied. Ek vermoed dat die risiko vir vlak 1-regulasies nie meer weerstand sou kon bied teen die groeiende uitdagings nie.

Min het ek verwag dat ek vir my opgewonde seun sou moes verduidelik dat hy tydens sy seevakansie nie in die branders of op die strand sou kon baljaar nie. Gewoonlik is gesprekke oor die navolg van reëls maklik – daar is mos reg en verkeerd. Maar wat gemaak as die reg nou so verkeerd en onregverdig voel?

Gehoorsaamheid: wit en swart of ʼn grys gebied?

Op 15 Desember sit ek met my slimfoon op die strand en soek op die internet na die definisie van “strand” in plaas daarvan om die laaste dag op die strand te geniet. Ek het enige uitweg gesoek om te regverdig dat ons steeds tussen die rotspoele voor ons vakansiehuis kon swem. Tegnies is daar mos ‘n verskil tussen die strand en rotse.

Toe besef ek dat ek besig is om ‘n skuiwergat te soek en daardeur die bedoeling van die wetgewing te probeer ontwyk. As ‘n regspraktisyn was dit juis tóé nodig om vir my seun die voorbeeld van wetsgehoorsaamheid te stel. Te oordeel aan hoe besig die strand (en die rotspoele) steeds ná 16 Desember was, is ek oortuig daarvan dat nie alle vakansiegangers my gewetensuitdaging oor wetsgehoorsaamheid gedeel het nie.

Dit het my laat terugdink aan die eerste hofuitspraak in Maart 2020, ‘n paar dae ná die aankondiging van die eerste vlak 5-grendeltydperkregulasies.

Karel Willem van Heerden wat in Mpumalanga woon, se oupa is in Hofmeyer in die Oos-Kaap oorlede. Die regulasies het op daardie stadium wel die hou en bywoon van begrafnisse toegelaat, maar interprovinsiale reis verbied en sodanige reis ‘n strafbare oortreding gemaak. Karel wou sy ma met die begrafnisreëlings bystaan en het, eerder as om ‘n kans te vat of bloot die reëls te ignoreer, die hof genader om hom wettig toe te laat om vir dié doel te reis. Hy het geldig en gemotiveerd aangevoer dat sy reis om menslikheidsredes geregverdig was en nie ‘n verspreidingsrisiko van die virus sou inhou nie. Die regter se sentimente oor die onreg van die regulasies teenoor Karel en sy familie was duidelik uit sy onderstaande woorde:

“The circumstances of this application are extremely upsetting. It shows in the crudest manner the crude effects of the final lockdown regulations upon a family.”

Ten spyte van Karel se pleidooi het die hof sy aansoek geweier en beklemtoon dat die reëls en regulasies vir almal geld, Karel se spesifieke omstandighede ten spyt:

“I have extreme sympathy for the applicant but I must uphold the law. Unfortunately, presently, the law prohibits that which the applicant wants to do however urgent and deserving.”

Moet alle wette te alle tye gehoorsaam word?

Wat beteken die onafhanklikheid van die regbank (howe) dan as rigiede en oënskynlik onregverdige reëls en regulasies onbuigbaar deur die howe toegepas word? Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, is die oppergesag in ons land. Artikel 165 van die Grondwet verleen aan die howe hul mag en bepaal ook die grense waarbinne die mag toegepas moet word. Dit bepaal dat howe onafhanklik is, maar steeds onderworpe is aan die Grondwet en die reg (wat wetgewing en regulasies insluit) wat hul onpartydig en sonder vrees, bevoordeling of benadeling moet toepas. Daarvolgens kan die howe dus nie ‘n verbod wat die wetgewer in wetgewing bepaal (byvoorbeeld die verbod op interprovinsiale reis), goedkeur nie. Dit sou daarop neerkom dat die howe strafbare gedrag toelaat of goedkeur. Niemand (selfs nie eens die howe nie) is bo die reg verhewe nie.

Steeds het ek gesukkel om wetsgehoorsaamheid te regverdig, omdat die rasionaliteit van die strand- en swemverbod my en soveel ander Suid-Afrikaners bly ontwyk het.

Waar kry ‘n mens nou meer natuurlike ventilasie, geleentheid vir die handhawing van sosiale afstand en beperking van nabye kontak as op ‘n wye, oop strand?

Die feit dat die wetgewer ook aanvanklik toegang tot strande, maar nie riviere en riviermondings, beperk het nie, het die debat oor die rasionaliteit van wetgewing soos ‘n veldbrand aangehits. Die rebel in my is uitgelok en ek kon identifiseer met die mense wat ongestoord met hul Desembervakansie voortgegaan het. Ek het met skok en afgryse gekyk na foto’s op sosiale media van ‘n paartjie wat op Nuwejaarsdag druipnat in hul swemklere in ‘n polisievangwa ná ‘n vroegoggendswem in Plettenbergbaai gedruk is. Saam met baie ander het ek myself afgevra of dit werklik nodig is om mense vir so ‘n oënskynlike onskuldige plesier te arresteer?

Wetsgehoorsaamheid in Desember het ‘n hoogs belaaide en emosionele aangeleentheid geword. Hoewel ek my by die rebelle wou skaar, het beredeneerde kommentaar van Brett Heron, ʼn plaaslike politikus, vir my ʼn wekroep ingehou:

“The arrests are necessary. It’s allegedly the rule of law. If we’re to have any prospect of beginning the recovery in 2021, we need everyone to suck up the small inconvenience of compliance. Let’s not encourage or suggest there are blurred lines. The law must apply to us all to succeed.”

Die staat en burgers se verantwoordelikheid

Die standpunt strook met dit wat my seun in gr. 6 oor die doel van wette geleer het, naamlik dat dit daar is om orde te skep en te verseker dat almal regverdig behandel word. Juis daarom stem ek saam met Thuli Madonsela se sin vir billikheid in haar ope brief in Junie 2020 aan die president. Sy haal aan uit The Little Prince (Die klein prinsie) om haar standpunt dat reëls en regulasies redelik moet wees, veral in die hof van openbare menings, te onderstreep.

“In Antoine de Saint-Exupéry’s classic The Little Prince, the prince narrates the story of a king he met on a tiny planet far away. Speaking of authority and public obedience, the king opined: ‘Authority rests first of all on reason. If you command your subjects to go and throw themselves into the sea, there will be a revolution. I have a right to demand obedience because my orders are reasonable’.”

Artikel 33 van die Grondwet bepaal dat elkeen van ons die reg het op administratiewe aksies, wat die bepaling en neerlê van die wetgewing insluit. Dit moet wettig, redelik en prosedureel billik wees. Dit beteken egter nie dat ons die reëls en regulasie kan ignoreer of oortree as ons dit as onredelik of onbillik beskou nie. Sulke wetgewing hou wel onbedoelde gevolge in, soos Madonsela waarsku:

“People’s resistance to colonial and apartheid laws has taught me that when the law is unjust, violating it is not only justified as legitimate, it is exalted as heroic.”

Ek het tot die slotsom gekom dat wetsgehoorsaamheid nie ʼn keuse is nie. Ek aanvaar dat die bedoeling van die wetgewer is om reëls en regulasies wat in die openbare belang is, daar te stel. Ek het verder tot die gevolgtrekking gekom dat wetsgehoorsaamheid in die wiele gery word, omdat dit in die hof vir openbare menings nie altyd redelik en billik is nie. Bowenal is my belewenis dat mense tans regulasie- en navolgingvoos is te midde van die pandemie. Die vraag kan gevra word of Winston Churchill dus ʼn punt beet het as hy sê:

“If you have ten thousand regulations you destroy all respect for the law.”

Besprekingsvrae:

  • Is jy ʼn wetsgehoorsame burger en volg jy normaalweg die reëls? (Covid of nie-Covid). Wat is jou motivering?
  • Watter wette volg jy na en watter nie?
  • Waarom het party mense hande geklap vir swartmarkverkopers wat eintlik mense wat nie sonder drank of sigarette kon uithou nie, uitgebuit het?
  • Reëls en wette is veronderstel om goeie orde in ʼn gemeenskap te handhaaf. Stem jy saam dat, indien jy dit nie navolg nie, jy gesien kan word as ʼn anargis?
  • Is dit ooit geregverdig om nie ʼn wet of reël na te kom nie?
  • Kan wetstoepassers ʼn blinde oog draai vir wetsoortreders wat oënskynlike onskuldige handelinge uitvoer wat nie noodwendig nadelige gevolge vir ander inhou nie?

Hierdie artikel is met die vergunning van die tydskrif Granaat, van Die Dameskring, geplaas.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Drikus

Vraag 1: Ja, in soverre dit met die Bybel ooreenstem, dan bring dit orde. Vraag 2: Wette wat op Bybelse beginsels geskoei is. Die wette wat teen God se Woord is, kan en mag ek nie volg nie. Vraag 3: Want hulle het hulself nog nie onderwerp aan God se gesag nie! Vraag 4:Nee, nie as ‘n anargis, as ek nie gehoorsaam is aan die “Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act – PEPUDA, dan kan ek eerder gesien word as ‘n martelaar. Vraag 5: Solank as die wet in ooreenstemming is met God se Woord, dan is… Lees meer »

OW

Geen mens kan alle regulasies en reëls tot op die letter nakom nie.Dit is al in die Ou Testament bewys.Ek kan nie dink dat orde bewonder word in SA nie.Hierdie land is misdaad vodde.Na dekades van toepassing van verordeninge en regulasies het ek gevind dat die verdediging van ‘n persoon wat oortree het in elk geval net na skuiwergate gesoek het om hulle klient los te kry, om ‘n kriminele klad te verhoed.Wat is die doel van ‘n regulasie dan as daar na skuiwergate gesoek word?SA sit met van die beste wetgewing in die wêreld maar die toepassing daarvan is… Lees meer »

Stof

‘n Uittreksel uit Psigoêt, 2004:
Sodra menslike owerhede die outoriteit wat slegs per delegasie aan hulle geleen is vir ‘n bepaalde doel en tydperk, poog te gebruik teen die Gewer daarvan, of Sy gestuurdes, verval hierdie gedelegeerde gesag.
Enige verdere “uitsprake” of aksies wat wat gepleeg word in die ilusie dat hulle steeds oor hierdie gedelegeerde gesag beskik, is dus suiwer Godslaster en dra derhalwe geen waarde nie.
Die gevolge vir hierdie lasteraars, is gevolglik voor die hand liggend…