Vroue trek swaar onder pandemie

Fotor ter illustrasie. (Foto: Becca Tapert/Unsplash)

“Ons leef in ʼn tyd van steeds erger wordende ekonomiese en maatskaplike druk. Niemand kon voorsien toe die nuus oor die virus uit Wuhan die wêreld bereik het, waar ons vandag, 18 maande later sou wees nie, en dit voel ook of sake nie makliker of duideliker raak nie.”

Só sê Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) se tak in die Gauteng-Oos-streek.

“As ʼn kinderbeskermingsorganisasie wat dienste lewer aan gesinne en kinders in nood, is ons in kontak met die ergste van die gemeenskap se behoeftes; behoeftes wat verder strek as basiese behuising en kos.”

CMR Gauteng-Oos lewer dienste reg oor Pretoria en onder wyd uiteenlopende gemeenskappe, van Waterkloof tot Kaalfontein in die suide en Bronkhorstspruit in die ooste.

Van der Merwe sê vroue bestee dikwels tot drie keer meer tyd as mans aan take wat in die huis gedoen moet word – ongesiens en onbetaald – en die inperkings het hul las vergroot.

“Tot op hede is meer as twee-derdes van diegene wat hul werk in 2020 verloor het vroue en proporsioneel is minder vroue as mans weer in diens geneem. Terwyl families hul inkomste verloor het, kinders tuis gehou en aanlyn geskool moes word, moes vroue ekstra pligte op hul neem en nuwe vaardighede aanleer om al die balle in die lug te hou.”

Volgens ʼn beleidsdokument van die Verenigde Nasies (VN) is die situasie veral in ontwikkelende lande uiters kommerwekkend.

In hierdie lande werk die meeste vroue in die informele sektor, wat die hardste deur die pandemie geraak word. Hulle maak staat op openbare plekke om hul ware te verkoop en dit is ook hul enigste inkomste. Baie vroue voel oorweldig, wat ʼn impak op hul algemene geestesgesondheid het, terwyl die gebrek aan sosiale samesyn en interaksie sy tol eis. Die syfers toon ook ʼn toename in geslagsgebaseerde geweld.

“Behalwe die behoefte om hul eie nuwe uitdagings die hoof te bied, is vroue die naaste aan hul kinders en hulle moet seker maak hul kinders se behoeftes word ook emosioneel hanteer.

“Bowe alles toets hierdie pandemie die menslike gees,” sê Van der Merwe.

“Vroue bly die ruggraat van die opbouproses; ons sien dit oral. Ons moet ons vroue bystaan en vereer; hulle dra tans ʼn bykans onmenslike las. Dit is Vrouemaand – kom ons omarm ons vroue en help hul om staande te bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Janine ·

Meeste mans wat ek ken, kla oor die algemeen meer as vrouens….

Liewe Land ·

Ek stem dat daar vroueregte moet wees, maar ek word soms gewalg deur die ophef wat van vroue gemaak word. Daar is net soveel goeie hardwerkende mans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.