Vryheid vir ons kinders!

Argieffoto (Foto: Pezibear/Pixabay)

Op 27 April het ons Vryheidsdag gevier en op 8 Mei kan ons weer vry ons kruisie gaan trek vir die party wat na ons mening die meeste vryheid vir ons gaan bied. Suid-Afrika bied ʼn wye verskeidenheid van vryhede soos vryheid van spraak, vryheid van assosiasie en godsdiensvryheid.

Daar word deur die staat soveel vryhede veronderstel, maar ervaar die kind in Suid-Afrika regtig die nodige vryheid van ʼn kind?

Na my mening word ons kinders se vryheid bewustelik en onbewustelik al hoe meer ingeperk.

  • Die omgewing waarin hulle woon bied dikwels min vryheid. Omgewings is nie meer veilig nie; hulle kan nie meer in ʼn park speel sonder om permanent oor die skouer te loer nie. Geen ouer kan met ʼn geruste hart hul kinders meer skool toe laat stap nie, daar is altyd daardie kommer of my kind veilig is.
  • Ons kinders is ook nie meer vry om hul unieke self te wees nie. Sosiale media, groepsdruk en boelies bepaal hoe hulle moet lyk, dink, voel en wees. Ons kinders besef dit nie, maar so doen hulle afstand van hul unieke denke, talente en gawes. Hul vryheid as menswees word hierdeur beperk.

“No one ever made a difference by being like everyone else”.

– PT Barnum

  • Kinders is nie meer vry om net kind te wees nie. Daar is nie meer tyd vir speel en laf wees nie. Elke oomblik van die dag word spandeer aan skoolwerk, huiswerk en ekstra aktiwiteite. Met goeie bedoelings wil ouers hê hulle kinders moet presteer en die hoogste sport bereik, maar dikwels word vrywees en kindwees ingeboet.
  • Selfs kos op ons winkelrakke en kombuiskaste bied nie aan kinders die nodige vryheid nie. Die kinders word met kleurmiddels, geurmiddels en ongesonde voedsel deur die media gebombardeer. Selfs voedsel wat as sogenaamd “gesond” geadverteer word, is geensins gesond nie, maar dit word as ʼn moet-hê aan ons kinders verkondig.
  • Die kind van vandag het nie eens meer die voorreg van ʼn oomblik van niksdoen se vryheid nie. Sosiale media hou die kind van vandag só besig dat hulle nie die vryheid van ʼn oomblik se niksdoen kan ervaar nie. Oomblikke van verveeld wees is die tyd wanneer ʼn kind ʼn leë skoenboks in ʼn motor kan verander of ʼn stukkende bal in ʼn hoed. Daarom het kinders die vryheid van niksdoen nodig.

Vryheid kan natuurlik nooit sonder grense gepaard gaan nie. Indien die grense nie vir die kind gestel is nie, ervaar die kind angs en onsekerheid, en kan hy die vryheid nie ten volle geniet nie.

Ons, as ouers, dink soms dat ons vryheid aan ons kinders gee deur so gou as moontlik ʼn vriendskaplike verhouding met ons kinders te hê. So ʼn verhouding beteken min grense en dat die kind te veel keuses het. ʼn Vriendskapsverhouding met ʼn kind beteken nie dat jy ʼn cool ouer is nie, dit beteken dat jy jou kind van vryheid ontneem. ʼn Kind wil nie ʼn veertigjarige vriend hê nie, maar ʼn ouer wat hom/haar baie lief het.

Om vir die kind vryheid te gee beteken dat die grens en die gevolge reeds gestel en verduidelik is. Die gevolge van optredes moet verduidelik word, sodat grense verstaan kan word, met die doel dat die kind die grens later sy eie sal maak. Vryheid en grense gaan hand aan hand en as ons as ouers dit nie verstaan nie, kan ons dit ook nie aan ons kinders leer nie.

Gee vandag aan jou kind vryheid deur hom te leer, af te rig, te vermaan, by te staan en ʼn goeie voorbeeld te stel omdat jy hom liefhet.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.