Vyf maniere om jou kinders op koers te hou in die pandemie

leandie-brasler

Leandie Bräsler is die burgerregteorganisasie AfriForum se bestuurder vir junior jeugleierskap. (Foto: Verskaf.)

Deur Leandie Bräsler

Die Covid-19-pandemie het gesinslewe oor die ganse wêreld omgekeer. Skole wat langer gesluit is, afstandwerk, fisieke en sosiale afstand – dit is vir enige ouer ’n uitdaging.

Hier is vyf wenke aan ouers om hul kinders se onderwys en basiese opvoeding op koers te hou terwyl hulle tuis bly.

  1. Beplan ’n roetine saam

Probeer om jou kind se roetine so na as moontlik aan sy/haar gewone roetine te hou. Vestig ’n roetine rondom ouderdomsgepaste onderwys- en opvoedkundige programme wat aanlyn, op die televisie of oor die radio gevolg kan word. Neem ook hul speeltyd, fisieke aktiwiteite, leestyd, familietyd en rustyd in ag. Gebruik alledaagse aktiwiteite as leergeleenthede vir jou kinders. Moenie vergeet om (waar moontlik) saam met jou kind (of kinders) sy/haar daaglikse doenlysie te beplan en op te stel nie – dit sal hulle ook leer hoe om hul beplanningsvaardighede op te skerp. ’n Roetine help om grense te stel omdat daar huisreëls en tuisskoolreëls is, en dit dra by tot die bevordering van dissipline en laat kinders ook veiliger voel. Dit is dus belangrik om ’n mate van normaliteit by hulle te vestig en roetine sorg daarvoor.

Alhoewel ’n roetine en ’n struktuur aan die dag vir kinders en jongmense van kritiese belang is, behoort jy moontlik in hierdie tye te sien dat jou kind ook ’n mate van buigsaamheid benodig. As jou kinders rusteloos, angstig of bekommerd raak wanneer jy ’n aanlyn leerprogram saam met hulle volg, of hulle sukkel om volgehoue aandag te gee, kies dan ’n meer aktiewe opsie sodat hulle gefokus kan bly. Dit is dan tyd om jou aktiwiteite aan die gang te kry.

Onthou die beplanning en veilige saamdoen van huistakies is goed vir die ontwikkeling van jou kinders se fyn- en grootmotoriese funksies. Betrek hulle by huistakies soos wanneer jy kook – hulle kan dalk vir jou die groente afspoel of skrop, skottelgoed was of die kombuisvloer vee. Dit sal hulle help om noodsaaklike vaardighede aan te leer soos netheid, dissipline en tydsbestuur. Dit sal ook ’n gevoel van verantwoordelikheid by hulle ontwikkel.

Probeer om soveel moontlik by hul behoeftes aan te pas. Daar moet ’n goeie balans van aktiwiteite wees sodat hulle gestimuleer kan word gedurende die staat van inperking. ’n Goeie roetine help kinders ook om hul wêreld as ’n bietjie meer voorspelbaar en veilig te sien, selfs in hierdie onsekere tye.

  1. Voer oop gesprekke met jou kinders

Moedig jou kinders aan om vrae te vra en om ook hul gevoelens met jou te deel. Neem in ag dat kinders op verskillende wyses kan reageer as hulle stres ervaar. Wees dus geduldig en simpatiek. Jy kan begin deur jou kinders uit te nooi om te praat oor dit wat hulle pla. Vind uit hoeveel jou kinders reeds weet deur hulle toe te laat om leiding in die gesprek te neem. Bespreek met jou kinders wat goeie higiëne alles behels deur gebruik te maak van alledaagse gebeure en oomblikke om die belangrikheid van dinge soos gereelde en deeglike handewas te beklemtoon. Sorg dat julle in ’n veilige omgewing is sodat jou kinders vrylik kan gesels. Wanneer jy jou kinders prentjies laat teken of stories laat skryf, kan dit hulle help om te begin praat oor wat hulle bekommer.

Probeer om nie jou kinders se kommer oor wat besig is om in die wêreld te gebeur, te vermy nie. Maak seker dat jy jou kinders se gevoelens in ag neem en hulle verseker dat dit natuurlik is om bang of onseker te voel, of om bekommerd te wees oor wat aan die gang is. Gee jou volle aandag wanneer hulle met jou praat en stel hulle gerus dat hulle enige tyd (wanneer hulle wil) met jou as ouer kan gesels. Waarsku jou kinders ook oor fopnuus en moedig hulle aan – en herinner jouself daaraan – om betroubare inligtingsbronne te gebruik. Hier is ’n paar:

Vir meer inligting rakende die bogenoemde, laai gerus AfriForum en die Impact Therapy Centre se hulpbrongids vir Covid-19-grendeltyd en ander krisistye gratis hier af.

Ashleigh Yaman, Impact Therapy Centre Inc., wat die gids saam met AfriForum ontwikkel het, hoop die hulpbron sal gesinne en ouers aanmoedig om beheer te neem van dit wat binne hul bereik is. Die idee agter die gids is om mense se algehele welstand in hierdie uitdagende tyd te bevorder.

  1. Neem jou tyd

Begin met korter leersessies en maak dit geleidelik langer. As die doel is om ’n sessie van 30 of 45 minute te hou, begin dan met 10 minute en bou daarvandaan op. ’n Leersessie kan bestaan uit ’n kombinasie van aanlyn- of skermtyd binnenshuis, en fisieke aktiwiteite of oefeninge buite. Dit hang natuurlik alles van die kind se ouderdom af.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) bied ook aanlynklasse vir kinders deur middel van Die Wolkskool. Alle leerders kan Die Wolkskool tot 30 Junie 2020 gratis gebruik. Besoek gerus die SOS se webtuiste vir meer inligting:.

  1. Beskerm jou kind op aanlyn platforms

Digitale platforms bied aan kinders die geleentheid om aan te hou leer, om te speel en om kontak met hul maats te behou. Maar verhoogde toegang tot aanlyn platforms hou groter risiko’s in vir kinders se veiligheid, beskerming en privaatheid. Dit is dus noodsaaklik om die internet, asook die voor- en nadele daarvan, met jou kind te bespreek sodat hy of sy die nodige inligting het om te verstaan hoe dit werk, waarvoor hulle op die uitkyk moet wees, en ook wat die regte gedrag is op die platforms wat hulle gebruik, soos video-oproepe.

Stel saam met jou kind reëls op oor hoe, wanneer en waar die internet gebruik mag word. Stel ouerkontroles op hul toestelle (soos Netflix, ensovoorts) in om aanlyn risiko’s te verminder, veral vir jonger kinders. Identifiseer saam toepaslike aanlyn hulpmiddels wat gebruik kan word – organisasies soos Common Sense Media gee advies oor ouderdomsgepaste toepassings, speletjies en ander aanlyn vermaak. In die geval van kuberafknouery of waar onvanpaste inhoud op aanlyn platforms sou verskyn, moet jy vertroud wees met die skool- en ander plaaslike meganismes waar hierdie tipe gedrag gerapporteer kan word. Hou ook noodnommers byderhand:

  • Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling: 012 315 1111
  • Kinderlyn: 080 005 5555
  • Suid-Afrikaanse Polisiediens: 10111 of 086 001 0111

Moenie die volgende vergeet nie: Kinders en jongmense hoef nie foto’s van hulself of ander persoonlike inligting te deel om toegang tot digitale leerplatforms te verkry nie.

  1. Bly in kontak met jou kinders se skool

Vind uit hoe jy in kontak met jou kind se onderwyser of skool kan bly sodat jy op hoogte kan bly van sake en sodat jy vrae kan vra om meer leiding te kry. Ouergroepe of gemeenskapsgroepe kan ook ’n goeie manier wees om mekaar te ondersteun met tuisonderrig. Skole maak veral deesdae gebruik van sosialemediaplatforms soos Facebook en Instagram. Kommunikasie word ook gehandhaaf deur nuusbriewe wat per e-pos gestuur word of van hul webtuiste afgelaai kan word.

  • Leandie Bräsler is die burgerregteorganisasie AfriForum se bestuurder vir junior jeugleierskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.