Waarom kinders boelies word

boelie-hartseer-alleen

(Foto: Wokandapix/Pixabay)

Straf is die eerste ding waaraan die meeste mense dink wanneer hulle uitvind ’n kind is ’n boelie. Hulle ondersoek selde die rede waarom die kind sy of haar maats emosioneel, verbaal en selfs fisiek afknou.

Tebello Mabusela, ’n sielkundedosent aan die Noordwes-Universiteit (NWU), wys op die faktore wat moontlik tot boeliegedrag aanleiding kan gee, asook die soort ondersteuning wat aan ’n “boelie” verleen kan word.

“Die wyse waarop ’n kind grootword, moontlike behoeftes wat nie aandag ontvang het nie, sosio-ekonomiese kwessies en blootstelling aan ’n gewelddadige en aggressiewe omgewing waar hulle moet veg om te oorleef is ʼn paar faktore wat kan lei tot boeliegedrag by kinders,” meen Mabusela.

Sy voeg by dat boeliegedrag ook aangeleerde gedrag kan wees. ’n Kind se omgewing speel ’n beduidende rol in die ontwikkeling van sy of haar persoonlikheid en karakter. Sy gebruik die idee van “’n kind is nie ’n eiland nie” – ’n kind se gedrag kan nie van sy omgewing geskei word nie: Hy of sy leer die gedrag by diegene om hom of haar en boots dit na.

Op ’n sekere ontwikkelingstadium kan kinders hulleself van diegene om hulle onderskei en begin om hulle eie denke, emosies en gedrag te ontwikkel. Sommige kinders vind dit egter moeilik om hierdie onderskeid te maak, en gaan voort om tot met volwassenheid die gedrag na te boots wat hulle uit hulle omgewing aangeleer het.

Hulp wat vir boelies aangebied kan word

Hoewel daar verskillende negatiewe en positiewe versterkingstrategieë ten opsigte van boeliegedrag is, is erge straf gewoonlik die algemeenste en maklikste metode wat gebruik word. Dit maak egter net die gedrag erger en ander maniere om in te gryp moet eerder ondersoek word.

Mabusela hou vol dat boeliegedrag ook met geestesgesondheidsprobleme soos angs, depressie en persoonlikheidsversteurings verband kan hou.

“Daar moet aan sekere sielkundige behoeftes van ’n kind voldoen word vir hulle om goed as ’n volwassene te kan funksioneer. Wanneer daardie behoeftes nie bevredig word nie, en verwerping, aggressie en verwaarlosing ervaar word, ontwikkel ’n kind angs en depressie, wat in aggressie en woede teenoor hom- of haarself en ander manifesteer.”

Die aggressie teenoor hulself kan gewoonlik as selfbesering en gedagtes van selfmoord geïdentifiseer word.

Sy beklemtoon dat die ondersteuning van gesondheidsorgkenners soos sielkundiges, maatskaplike werkers en psigiaters boelies kan help om trauma uit hulle kindertyd wat as woede en aggressie manifesteer, te verwerk. Hierdie gedrag kan deur psigo-opvoeding en ander intervensiemetodes verander word, soos om selfbewussyn-, gesonde hanterings-, positiewe aanpassings- en aanpasbaarheidsvaardighede aan te leer.

Mabusela voeg by dat as boelie-eienskappe nie gekorrigeer word nie, dit tot in volwassenheid kan voortduur.

“Hierdie volwassenes sal sukkel om hul emosies te beheer, hulle sal nie insig hê in dié goed wat hul gedrag veroorsaak nie, en hulle sal op alle gebiede van hul lewens gewelddadig en aggressief teenoor hulself en ander wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

deHAS ·

As ‘n kind so af is, gaan soek, hoog en laag, skool, internet, jou huis of dalk by jouself

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.