Waaroor die bohaai oor skolekaping?

onderwyser

Foto: Homeyesterday.com

Die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys het tot groot konsternasie in die onderwyssektor gelei. Die voorgestelde wysigings is onder meer daarop gemik om sekere funksies van skoolbeheerliggame in te perk, insluitend aanbevelings oor sekere aanstellings, toelatings- en taalbeleid, asook bepaalde finansiële funksies. Dr. Jaco Deacon, onderwysregspesialis en adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) gee ʼn uiteensetting van die werklike omvang van hierdie wetsontwerp.

Waaroor gaan die bohaai? Indien iets nie werk nie, moet daar tog sekerlik daadwerklik opgetree word en tans funksioneer net 20% van die land se 23 719 openbare skole goed. Maar dít is juis waar die groot kopkrap begin – weinig van die 46 klousules in die voorgestelde wet gaan enigsins iets doen aan die werklike probleme in die stelsel. Inteendeel, dit gaan die handjievol skole wat top-prestasies lewer eenvoudig sink.

Die aanhef van die Skolewet bepaal dat “hierdie land ʼn behoefte het aan ʼn nuwe nasionale stelsel vir skole wat die onregte in onderwysvoorsiening van die verlede sal regstel, onderwys van progressief hoë gehalte aan alle leerders sal voorsien en op hierdie wyse ʼn hegte fondament vir die ontwikkeling van al ons mense se talente en bekwaamhede sal lê, die demokratiese transformasie van die gemeenskap sal bevorder, rassisme en seksisme en alle ander vorms van onregverdige diskriminasie en onverdraagsaamheid sal bekamp, tot die uitwissing van armoede en die ekonomiese welstand van die gemeenskap sal bydra, ons verskeidenheid van kulture en tale sal beskerm en bevorder, die regte van alle leerders, ouers en opvoeders sal handhaaf, en hul aanvaarding van verantwoordelikheid vir die organisasie, beheer en finansiering van skole in vennootskap met die Staat sal bevorder.”

Die wysigingswet trek ʼn dik, rooi streep deur hierdie doel en die model van openbare skole waar gemeenskappe eienaarskap vir skole aanvaar en ouers direkte inspraak in die onderrig van hulle kinders het. Die wysigingswet druk ʼn verdoeselde model van staatskole op ʼn demokratiese samelewing af waar die staat sentraal staan en staatsamptenare op ʼn outokratiese wyse die septer swaai. Die hele manier waarop hierdie wysigingswet nou gestoomroller word, dui nie juis op bona fide samewerking tussen staat, leerders, ouers en opvoeders nie.

Witskrif 1 van 1995 was een van die voorlopers vir die Skolewet en in dié dokument is bepaal dat die eienaarskap van skole teruggegee moet word aan skoolgemeenskappe en dat ouers direkte inspraak in die onderrig van hulle kinders moet hê. Skole het regspersoonlikheid ontvang wat deur beheerliggame beheer word en die meerderheid lede van beheerliggame is ouers.

Met magte kom daar natuurlik verantwoordelikheid en die Skolewet is so opgestel dat die staat die verantwoordelikheid ontvang het om toe te sien dat beheerliggame behoorlik toegerus word vir hul belangrike taak. Dit is hier waar die probleem begin, met provinsiale onderwysdepartemente wat nie die nodige of voldoende opleiding of ondersteuning aan beheerliggame gee nie.

Dit is ʼn feit dat baie skole swak beheerliggame het, maar by ʼn gebrek aan opleiding en ondersteuning deur die staat het dit ʼn baie gerieflike argument vir amptenare en politici geword om skielik alle beheerliggame (lees: ook ouers) se magte te verwater.

Dit is ook ʼn feit dat bevoegde beheerliggame en goed funksionerende skole ʼn doring in die vlees van amptenare en politici is. Beheerliggame wat hul regte ken en in die beste belang van die skool optree duld nie onregmatige inmenging of die vertrapping van skole se belange nie.

Om die volle sê oor aanstellings van skoolhoofde en ander senior personeel aan amptenare te gee is om vir wolf skaapwagter te maak! Ouers weet wat is die behoeftes van die skool en skoolgemeenskap en baie beheerliggame gaan deur volledige aanstellingsprosesse om juis die regte leiers aan te beveel. As ʼn amptenaar “iewers in ʼn kantoor” moet besluit oor die aanstellings gaan ons meer onrus en onstabiliteit in skole sien. Hofsake gaan meer word, nie minder nie.  Provinsiale departemente moet baie meer doen om seker te maak dat elke skool ʼn goeie skool is en dan is taal- en toelatingsbeleid ook nie meer ʼn kwessie nie.

Ons hoor gereeld dat onderwys ʼn “samelewingsaangeleentheid” is – dit is so! Die samelewing moet dus nou sy stem laat hoor. Ons het geleentheid tot 10 November om kommentaar op die wysigingswet te lewer. Gewone mense, burgers van die land, pa’s en ma’s, oupas en oumas word saam met die burgerlike gemeenskap opgeroep om hul mening te lug.

Onthou ook die E-tol-lesse – dit is baie moeilik om ʼn besluit te beveg as jy die geleentheid gemis het om insette te lewer voordat die besluit geneem is. As die elektroniese hekke eers opgesit is, kom hulle moeilik en teen groot koste af.

So, waaroor gaan die bohaai? Ons het openbare skole, nie staatskole nie en dit moet so bly. Kinders het die meeste om te verloor as ouers nie meer insae in onderwys het nie. Laat jou stem tel.

Fedsas het reeds ʼn veldtog op sosiale media geloods met die hutsmerk #StopSkoleKaping en #StopSchoolCapture. Die publiek het tot 10 November vanjaar om kommentaar lewer en Fedsas moedig alle Suid-Afrikaners aan om kommentaar te lewer. ʼn Afskrif van die wetsontwerp is op Fedsas se webtuiste beskikbaar by www.fedsas.org.za onder die skakel vir “Wat is nuut?”

  • Dr. Jaco Deacon is die adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole, outeur van Skoolbeheer: Antwoorde op alledaagse uitdagings, Case Law Handbook on Education en redakteur van die Juta Education Law and Policy Handbook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Otjie Potjie

Ag, asseblief. Laat AL die sogenaamde openbare skole sink. Daar is niks “openbaar” in elk geval by hierdie skole nie. Die sogenaamde beheerliggame is een “kliek” op die ander wat net daarop uit is om die hardwerkendste ouers met die laagste inkomste nog verder in die grond te vertrap. Openbare skole het ‘n “werkskeppings agentskap” geword vir onderwysers wat op alles “ja en amen” solank die beheerliggaam hulle tog net nie afdank nie. Skole sit nou met begrotings van miljoene rande want ouers bly betaal…..of anders word jou kind benadeel, en niemand by so ‘n skool het ‘n idee hoe… Lees meer »

One World Order 2030 plan

Otjie Potjie, die tuis onderrig sit met presies dieselfde wetgewing wat nou inkom en hul belange word erger vas gevat as hierdie. Gaan op jou kniee en bid hieroor, want as jy nog nooit van die One World Order 2030 plan gehoor het nie, gaan soek dit en jy sal sien dat dit woord vir woord dieselfde is waaronder ‘n derde van die wereld nie meer gaan bestaan nie en dan gaan lees jy wat in die Bybel staan. Al wat ons kan doen is op ons kniee bly en God vra om ons kinders genadig te wees en uitstel… Lees meer »

Nuwe wetgewing vir tuis onderrig vereistes wat voorgestel word

You must follow the CAPS Curriculum “51(2)(c) the proposed home education programme is suitable for the learner’s age, grade level, ability and covers the acquisition of content and skills at least comparable to the relevant national curriculum determined by the Minister; and” The key phrase here is “contents”. You will have to have a curriculum that at least covers the content of CAPS A “competent assessor” must assess your child every year at your cost “51(2)(d)(iii) arrange for the learner’s educational attainment to be assessed annually by a competent assessor, approved by the Head of Department, at the parent ‘s… Lees meer »

Nuwe wetgewing vir tuis onderrig vereistes wat voorgestel word

“51(6) A parent of a learner who wishes to continue with home education after the learner has completed grade 9, must make use of the services of a private or independent service provider accredited by Umalusi, established in terms of section 4 of the General and Further Education and Training Quality Assurance Act. 2001 (Act No. 58 of 2001), to register for the Senior Certificate Examination through an independent or private assessment body.” This means the following: You must use an “accredited service provider” – no self study You must complete grade 10,11 and 12 to write your matric This… Lees meer »

Nog 'n ouer

Ek het self kinders in ‘n openbare skool en is heel tevrede met die diens wat ek ontvang. Ek ken niemant op die beheerliggaam nie, nie eers net van sien nie, maar ons skool werk goed. My skoolfonds betaal vir ekstra onderwysers, maar my kind is in ‘n klein klassie. My skoolfonds betaal ook vir toerusting, wat onderwys in die klasse vergemaklik met behulp van tegnologie. Die skool lyk mooi as jy daar verby ry, omrede my skoolfonds bydrae tot die instandhouding van die terrein en geboue. Ek het nie nodig om te wonder of my kinders veilig is nie,… Lees meer »