Wanneer ek ma-wees moet aanvaar

Argieffoto (Foto: Shlomaster/Pixabay)

Ek moes onlangs ʼn keuse maak. ʼn Moeilike keuse. Wel, vir my was dit ʼn moeilike keuse.

Ek het ʼn skool-reünie gehad. Ek bly nie meer in my grootword-stad nie en dus het ek vliegkaartjies gekoop, betaal vir die reünie en regtig uitgesien na die nostalgie en lag van die dae wat was. Mense wat my geskiedenis ken en deel was daarvan. Te hoor wat mense met hulle lewens gedoen het ná skool en hoe hulle kinders lyk … en ʼn aand kon deurslaap.

Toe gebeur dit.

My jongste besluit om te kyk hoe vinnig hy van ons sewende trap na die grond kan kom, sonder om sy voete te gebruik … Net vir die rekord: Dis vinnig, maar sluit ligte harsingskudding en ʼn gekraakte sleutelbeen in. Dankie tog kinders is soepel op daardie ouderdom en groei maklik weer.

Dit het die Vrydagmiddag gebeur. ʼn Besoek aan die ongevalle, pynmedikasie en ʼn armstut later is hy in die bed en aan die slaap.

En nou lê die keuse voor my: Vlieg ek môreoggend voor dagbreek of bly ek?

Dis ongelooflik hoe baie gedagtes, skuldgevoelens en planne deur mense kop kan gaan in so ʼn situasie. Elke moontlike scenario word bereken en oorweeg. Ek en my man praat tot laat in die aand. Alhoewel ek volle vertroue in Manlief het, is hy bekommerd dat as kleintjie wakker word en hy het pyn, gaan hy net vir mamma soek en dan sit hy dalk later met twee ongelukkige kleuters onder vier jaar oud vir ʼn dag en ʼn aand …

Dit was egter my gewete wat my die meeste laat les opsê het. Gaan ek ʼn slegte ma wees as ek nou my kind in sy “uur van nood” versaak? Gaan ander dink ek is ʼn slegte ma as ek hom los om na ʼn funksie toe te gaan waarna ek al so lank uitsien? Gaan ek dit eintlik nie geniet as ek dit doen nie, juis omdat ek my die hele tyd oor hom gaan bekommer?

Dis toe dat ek besef, daar gaan nie ʼn wonderfeetjie kom en vir my sê wat ek moet doen of wat die regte keuse is nie. Ek gaan self ʼn keuse moet maak en die belangrikste van alles, ek gaan moet lewe met daardie besluit, wat dit ook al is. Ek gaan nie myself, my man of my kinders daarna kan verwyt nie. Ek moet “adult” en net besluit.

Ek het my reünie misgeloop.

Nou moet ek nog 10 jaar wag vir die volgende een. Dit is nie die dood van Katryn nie, maar my seuntjie het my toe wel nodig gehad die volgende dag en ek is dankbaar ek het gebly. Ek gaan doodeerlik wees deur te sê dit was nie die lekkerste keuse vir my op daardie oomblik nie, en ek het ʼn klein bietjie van ʼn “pity-party” gehad daardie dag, maar dit maak my nie ʼn slegte ma om dit te sê nie. Dit maak my menslik, want soms het ʼn ma ook ek-tyd nodig en gaan sy teleurgesteld wees as sy nie dit kan doen wat sy so graag wou doen nie, as gevolg van haar kinders se doen en late.

Mens wens nie jou kinders weg in daardie oomblik nie, jy wens net dinge was anders. Maar my leuse van “dit is wat dit is”, het my weereens daardeur gedra en ek het die dag ekstra baie probeer geniet saam met my gesin om saam met hulle nuwe herinneringe te skep, waaroor ek eendag nostalgies kan raak.

Ek dink egter die belangrikste les wat ek hieruit moes leer, is aanvaarding. Die lewe gebeur terwyl jy ander planne maak. Aanvaar dit.

Dit is nou die tydperk waarin ek my kinders gaan grootmaak en soms gaan ek ander goed moet prysgee vir ma-wees. Aanvaar dit.

Ek gaan keuses moet maak wat nie reg of verkeerd gaan wees nie, dit gaan net die keuse wees wat ek maak en ek gaan daarmee moet saamleef. Aanvaar dit.

En soms gaan ma-wees net ma-wees wees … want ma-wees is ʼn unieke verskynsel. Aanvaar dit en geniet dit terselfdertyd!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Z ·

Ma-wees… wat ‘n voorreg.
Ja, elkeen wens vir so ‘n lekker wegbreek, maar jy het die regte (ma) ding gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.