Wat is belangriker as toetspunte?

Foto slegs ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Deur Charlotte Fourie

Die Fourie’s het die afgelope Desembervakansie gaan kamp, maar ons pakplek met drie kleuters en twee honde was maar baie beperk. Op die vooraand van ons vertrek, moes ek ʼn moeilike keuse tussen twee items maak: die kinders se leesboeke of hulle spogboeke (“flip files”). Sien, die spogboeke bevat vorderingsverslae en ongeveer dertig abstrakte kunswerke. Dit was tog te lekker om met die ontvangs daarvan teen die einde van 2021, te lees dat Charlot gedurende Oktober baie gewild onder haar maatjies was en dat Josua nou ʼn “2” vir sy skêrhantering gekry het (ʼn groot verbetering op die vorige kwartaal se 4). Ná baie oorweging, het die leesboeke toe maar hulle plek in die tas verloor.

Trek jou keel ook toe as dit rapporttyd raak? As daardie stukkie papier goeie resultate wys, klop ouers hulself lank op die skouer, sit dit in die spogboek en vat dit saam wanneer daar by Ouma en Oupa gekuier word. Rondom die braaivleisvuur word alle gesprekke vernuftig in die rigting van ons kinders se prestasies gestuur. Hierdie stukkie papier laat ons baie selfvoldaan voel: “Dankie tog, iewers doen ons darem iets reg!” Die hoogste simbool vir “kan vorme goed uitken” of ʼn onderskeiding in Wiskunde is mos spogtaal en watter ouer wil hierdie taal nie baie goed kan praat nie?

Wanneer die rapport egter nie so goed lyk nie, is ons geneig om die gesprekke om die braaivleisvuur in ʼn ander rigting te stuur, baie geld aan ekstra klasse te bestee en selfs dissiplinêre strafaksies teen ons kinders in te stel.

Ek is onlangs tot stilstand geroep met die besef dat mooi prestasies wel vir ons kinders baie deure oopmaak, maar dit is net karakter wat daardie deure oop hóú. Ek moes myself afvra: Het ons die afgelope vier jaar belê in die ontwikkeling van ons kinders se karakter? Of het ons maar net probeer oorleef en die meetinstrument van die skool as die hoogste gesag aanvaar?

Hoe lyk ʼn Christelike karakter?

Die realiteit van karakterontwikkeling as deel van ʼn Christenouer se roeping, het my vroeg in die jaar soos ʼn tsunami getref.

Een aand het ek die bad begin tap en rustig saam met my man en kinders buite gespeel. Toe my man later vra of almal reg is om te bad, het ek yskoud geword en baie vinnig opgespring. Die tweede tree wat ek binne die huis geneem het, was so gly-gly in die sitkamer in. Die helf­te van ons huis se oppervlakte was onder water van twee krane wat al vir langer as vyftien minute volstoom die huis oorstroom!

Die kinders was natuurlik baie opgewonde. Hulle het op die sitkamerbanke gaan staan en geskater van plesier oor die water rondom hulle. Terwyl ek en my man ʼn wal van handdoeke bou, het die kinders van die bank af met my geraas: “Mamma, jy is stout, jy mors water in die huis!” Met die mop in die een hand en ʼn handdoek in die ander, het ek my kant van die saak probeer stel: “Dit was ʼn ongeluk!,” pleit ek, “julle kan nie met mamma raas, omdat ek per ongeluk water gemors het nie!” Buiten dat ek toe besluit het om my benadering tot dissipline te verander, moes ek en my man ook vinnig besluit hoe ons hierdie situasie gaan hanteer. Dit sou baie maklik wees om kwaad en geïrriteerd te wees, maar ons was deeglik bewus van die drie stelle ogies wat elke beweging van ons op daardie oomblik noukeurig dophou. Of ons nou wou of nie, ons moes in hierdie situasie ʼn voorbeeld van ouers met ʼn Christelike karakter wees.

Die Sondagmôre het ons dominee dit boonop verder beklemtoon met die tema uit Galasiërs 5: “Die vrug van die Gees”. Ek het in my stilligheid geglimlag terwyl ek saam met die dominee lees: “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”.

Kweek ʼn kind met karakter

Charlotte Fourie. (Foto: Verskaf.)

Werk tydig en ontydig aan jou kind se karakter. Werk harder daaraan as wat jy hulle sou help om eksamenvraestelle uit te werk. Verpak die “vrug van die Gees” as gedrag wat by hul ouderdom pas en meet jou kinders (en jouself) daagliks daaraan. Beklemtoon hierdie eienskappe wanneer jy dissiplineer, maar ook wanneer jy bemoedig en vertroos.

Hier is ʼn paar Christelike karaktereienskappe waarmee jy in ʼn jong kind kan spog:

  • ʼn Kind wat vasbyt.
  • ʼn Kind met selfbeheersing.
  • ʼn Kind met lewenslus en waagmoed.
  • ʼn Dankbare, optimistiese en blymoedige kind.
  • ʼn Nuuskierige en leergierige kind wat sy talente ontgin en tot eer van God gebruik.
  • ʼn Kind wat nie verslaaf is aan onmiddellike bevrediging nie.

Hoe kan jy dit help ontwikkel?

  • As opvoeder moet jy jou kind van onder af optrek met die nodige “kos”: Wys vir jou kind hoe ʼn persoon met karakter lyk (wees dus ook ʼn persoon met Christelike karaktereienskappe en werk daagliks daaraan om jou eie karakter te ontwikkel).
  • Stel jou kinders bloot aan Christelike rolmodelle: Lees die regte biografieë saam met hulle en omring jou gesin met mense wat ook met ʼn Christelike karakter voor staan en voor loop.
  • Jou kinders kan glo as hulle hoor (vgl. Romeine 10:14). Maak dus seker dat hulle God in julle huis hoor. Lees saam Bybel en memoriseer teksverse en lofliedere. Maak ook seker dat daar belyning is tussen alles wat in die huis gebeur: van die huisgodsdiens, tot by die hantering van krisisse (soos baddens wat oorloop) moet die vrug van die Gees adem. Kies ʼn Christelike woordeskat en gebruik dit wanneer jy met jou kinders praat.
  • Meet jou kinders se karakterontwikkeling en spog eerder by jou vriende oor hulle goeie gedrag, as net oor hulle akademiese prestasies.

Ouerskap is moeilik en karakterontwikkeling is dikwels nie bo-aan ons taaklysie vir die dag nie. As geroepe ouers, moet dit egter die hoogste prioriteit geniet. Werk tydig en ontydig aan jou kind se karakter.

Die artikel het eerste in die Maart 2022-uitgawe van “Die Boodskapper” verskyn. Lees dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek sou meer omgegee het as die toetse meer holisties was. Selfs met Wiskunde is ons nie geleer waarom mens sus of so maak nie, jy is net “truuks” geleer om die sommetjie te kan doen sodat jy ‘n A in Matriek kan kry. Ek moes by ‘n Indiese Youtuber leer WAAROM jy die tweetjie daar sit, en hom daar anderkat wegvat.

VaalDonkie ·

As ek die minister van onderwys was, sou ek minder inligting in die kurrikulum sit, en meer tyd laat spandeer op WAAROM ‘n ding is soos hy is. Want jy sien in die universiteite dat ons baie goed is met feite herhaal, maar as dit kom by argumenteer en krities dink, dan raak ons agter die res van die wereld. Ons redenaars lees net toesprake met gevoel af. Hulle debatteer nie rerig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.