Wat is die probleem?

 hartseer_seun-Medium.jpg

Foto: bedwettingtherapy.com

[promosie-artikel]

Kinders ondervind dikwels verskeie probleme – hulle sukkel dalk akademies, ervaar probleme met hul vriende, struikel op sportgebied of weet eenvoudig nie hoe om ’n spesifieke taak te voltooi nie. As ouers wil ons hê dat ons kinders hierdie kwessies self moet kan hanteer, maar meeste konvensionele ouerskappraktyke lei daartoe dat ons hul probleme vir hulle oplos.

Hoewel jy graag elke struikelblok uit jou kind se weg wil ruim, is probleemoplossing ’n noodsaaklike lewensvaardigheid wat ons vir ons kinders móét leer. As ons dit nie doen, kan selfs die kleinste kwessie tot angstigheid en vrees lei. Aan die ander kant sal die oplossing van alledaagse probleme help om kinders se selfbeheersing, selfbeeld en selfvertroue ’n hupstoot te gee.

Die beste manier om jou kind te leer om probleme op te los, is om daaroor te praat wanneer iets opduik. Hier is drie vrae om die gesprek te lei:

  1. Wat is die probleem? Laat jou kind toe om die situasie te verduidelik.
  2. Wat is jou keuses? Laat jou kind al die opsies oorweeg, en praat dan oor die gevolge van elkeen. Dit is belangrik dat jou kind die moontlike positiewe en negatiewe gevolge van elke keuse oorweeg.
  3. Watter opsie is die beste vir dié spesifieke probleem? Sodra jou kind al die opsies oorweeg het, laat hom toe om te besluit watter een die beste is. Maak egter seker dat hy verstaan dat indien hy ’n keuse maak wat nie die probleem oplos nie, hy altyd iets anders kan probeer. Sommige probleme is ook moeiliker om op te los as ander. Kom dus terug na die kwessie indien nodig, en moedig hom aan om weer te probeer.

Hoewel dit ’n goeie leerervaring is om probleme te takel soos dit opduik, is daar twee vaardighede wat jou kind van kleins af kan aanleer wat probleemoplossing sal vergemaklik: om kreatief en logies te dink.

  • Om kreatief te dink is die vermoë om uit verskillende oogpunte na ’n probleem te kyk. Jy kan jou kind help deur hom te leer om aan alternatiewe oplossings te probeer dink en situasies in ’n ander lig te probeer sien.
  • Logies dink is die vermoë om ’n probleem of idee af te breek en dit dan te analiseer. Jy kan jou kind help deur hom te leer om kwessies of situasies te sorteer, te klassifiseer en te vergelyk.

Dit mag soms voel asof dit makliker en vinniger is om in te spring en jou kind se probleme op te los, maar as jy intree kan dit jou kind se vermoë om kreatief en logies te dink, onderdruk. Selfs erger is dat dit die boodskap kan oordra dat jy nie vertroue het in sy vermoë om self probleme deur te werk nie.

Om te leer hoe om moeilike goed op sy eie te hanteer is noodsaaklik vir jou kind se groei en ontwikkeling. Deur hom toe te laat om sy eie probleme op te los, sal hy onafhanklikheid verkry en leer hoe om die lewe sonder jou konstante leiding te navigeer.

Artikel geskryf deur Danielle Barfoot, Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.