Wat is kindermishandeling?

Argieffoto

Kindermishandeling word deur Childline gedefinieer as enige interaksie (of die gebrek daaraan) tussen ‘n kind en sy of haar ouers of versorgers wat tot fisieke- of ontwikkelingskade van die kind kan lei en waarvan die skade nie per ongeluk berokken is nie.

Kindermishandeling sluit emosionele mishandeling en verwaarlosing, fisieke mishandeling, fisieke verwaarlosing en seksuele misbruik in. Een uit elke vier kinders in Suid-Afrika word in hul kindertyd mishandel.

Net soveel seuns as meisies onder die ouderdom van 10 jaar word seksueel gemolesteer.

80% van die oortreders van seksuele molestering is goed bekend aan en word vertrou deur die kind (bv. ‘n lid van die gesin, die bure, ’n onderwyser, ’n ouer, ’n versorger of familievriende).

Seksuele molestering gebeur gewoonlik in ‘n bekende omgewing van die oortreder waar hy volkome beheer het (bv. sy motor of ’n klaskamer).

Daar is ‘n beduidende toename in die seksuele molestering van kinders deur jongmense (onder die ouderdom van 18 jaar).

Wêreldwyd word slegs 5-7% van die oortreders van seksuele molestering gevonnis.

As ‘n kind geglo word en die nodige ondersteuning by sy/haar ouers kry wanneer die seksuele molestering geïdentifiseer word, het hulle ‘n goeie kans op herstel.

Hoe langer die molestering aanhou en hoe minder ondersteuning ‘n kind ontvang ná die bekendmaking daarvan, hoe erger gaan die gevolge van die molestering wees en hoe langer gaan die effek duur.

Indien dit betyds aangemeld word kan ʼn kind liggaamlike en emosionele skade gespaar word, en ‘n lewe kan selfs gered word maar dit is nie ongelukkig altyd maklik om ʼn misbruikte kind uit te ken nie of om ‘n hoërisikosituasie te voorspel nie.

Sommige kinders is bloot deur die omstandighede van hul ouers, hul gesin en omgewingsfaktore meer weerloos en vatbaar vir misbruik.

Wees bedag

Waarskuwingstekens kan gebruik word om die weerlose kinders uit te ken en die onderliggende risikofaktore te probeer oplos voordat kindermishandeling voorkom.

Wat kan jy doen om te help?

Maak seker jy is goed ingelig. Lees meer daaroor en wees bewus van die verskillende tipes molestering. Fisieke molestering is dikwels baie makliker om te ontdek. Verwaarlosing, uitbuiting en emosionele mishandeling is net so traumaties en moet ook aandag kry.

Wees bewus van wat in jou gemeenskap, by jou kind se skool en tussen jou familie en vriende aangaan. Moenie dit net ignoreer nie. Vra vrae as dit nodig is, moenie altyd als wat oor die boeg van “privaatheid” gegooi word, glo nie. Daar is niks privaat omtrent kindermolestering nie.

Wees oop en toeganklik. Glo ʼn kind wat met jou praat. Wees bewus daarvan dat ʼn kind nie altyd direk oor die molestering of mishandeling wat hulle ervaar het, of steeds ervaar, sal praat nie. Luister en wees op die uitkyk vir tekens.

Wanneer ’n kind bieg, sê vir hom/haar dankie dat hulle praat, vertel hulle dat dit nie hul skuld is nie, en dat jy iemand sal vind om hulle te help.

Rapporteer die mishandeling. Jy sal inligting soos die naam, van en ouderdom van die kind, hul fisieke adres of kontakbesonderhede en inligting oor die ouers of versorgers moet gee. Jy sal ook die tipe mishandeling wat jy vermoed, moet beskryf. Laastens sal jy jou eie besonderhede moet gee, hoewel anonieme rapportering ook aanvaar is en ondersoek sal word.

Jy kan kindermishandeling aanmeld by:

◦ CMR Noord (hoofkantoor) 012 460 9272

◦ Childline – 08000 55 555

◦ Die polisie – 10111/08600 10 111

◦ Waar mensehandel betrokke is – 0800 555 999

Bron: Childline

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

perfek ·

Hierdie artikel is so goed saamgestel. Dankie-mag die mense luister

Elize ·

Die National Resource Line waar jy mensehandel aanmeld is 0800 222 777.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.