Wat om te doen met boelies, selfdood

Leandie Brasler. (Foto: Verskaf)

Deur Leandie Bräsler

Ons staan in Meimaand van 2021 en die winter is behoorlik hier. Nie net omdat ’n kouefront die land tref, of ’n Covid-19-pandemie al weer sy kop hoog uitsteek nie. Hierdie twee dinge gee mens wel koue rillings, maar daar is ’n groter pandemie wat ons land, asook die res van die wêreld tref: die toename van boeliegedrag, geweld en selfdood onder ons jeug en ons land se skole.

Onlangs het daar ’n 11-jarige seun in die Amerikaanse deelstaat Georgia uit ’n venster van ’n skoolbus gespring om van sy boelies te ontsnap. In April 2021 is die graad 10-leerder, Lufuno, van Limpopo oorlede nadat sy geboelie was en ’n video daarvan op sosiale media versprei is – #JusticeForLufuno was die nommer een hutsmerk op Twitter. In Mei 2021 is ’n onderwyser in die Noordwes vermoedelik deur ’n vriendin met ’n mes voor die leerders gesteek. In dieselfde maand is die hoof van Laerskool Theresapark letterlik uit die skool uitgegooi en op spesiale verlof gesit as gevolg van boeliegedrag en finansiële wanbestuur.

Ek vra myself gereeld: Waarom? Waarom moet daar nóg ’n kind geboelie word? Waarom moet nóg ’n kind sy eie lewe neem? Waarom moet nóg ’n kind fisiek seerkry? Hoekom neem kuberboeliery toe? Daar is egter oneindige redes en antwoorde op al hierdie vrae. Elke kind, elke skool, elke ouer en elke onderwyser se situasie verskil, asook die rede waarom dit gebeur:

Baie kinders se emosionele welstand ly onder Covid-19. Die nasionale staat van inperking het veroorsaak dat kinders nie skool toe kon gaan nie en so kon hulle nie met ander sosialiseer nie. Die enigste manier hoe hulle wel met ander en hul maats in kontak kon kom, was deur die internet, sosiale media, of hul selfone. Dit veroorsaak ook dat daar ’n styging is in voorvalle wat kuberafknouery behels. Vir ander kinders is die skool weer ’n ontvlugting van huishoudelike geweld en moes hulle deur daardie tyd ekstra stres en spanning ervaar.

In September 2021 het AfriForum ’n kortdokumentêr van die 12-jarige Herman Odendaal, van Kestell in die Vrystaat, bekendgestel ter bewusmaking van boeliegedrag en selfdood. Herman het homself gehang, en boeliery asook Covid-19 het gelei tot hierdie tragiese gebeurtenis. Kyk gerus die kortdokumentêr hier. Herman se ouers wou die boodskap aan ander ouers gee om in te gryp voordat dit te laat is.

Wat om te doen?

Dit help ook nie dat Panyaza Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, net by skole opdaag of hulle veroordeel nádat die boelievoorvalle of die selfdoodgevalle plaasgevind het nie. Nee, dit is dan reeds te laat!

Die enigste manier hoe die departement van basiese onderwys daadwerklik ’n verskil kan maak, is om leerders, ouers, onderwysers en beheerliggame toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om boeliegedrag hok te slaan. Alle partye moet geleer word om proaktief op te tree sodat boeliegedrag gekeer kan word voordat dit te laat is. Daar is te veel skole wat AfriForum al besoek het wat nie weet hoe om boeliegedrag te hanteer nie. Daar is te veel leerders en ouers wat nog nie bewus is van wat die verskil tussen boeliegedrag en konflik is nie. Daar is te veel mense wat nie die noodsaaklikheid raaksien om oor selfdood in skole te gesels nie, want dit word gesien as ’n taboe-onderwerp.

AfriForum doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om ook bewese selfdoodvoorkomingstrategieë op ’n volhoubare wyse in nasionale gesondheids- en opvoedingsprogramme op te neem. Selfdoodvoorkoming en -intervensie is noodsaaklik binne enige geestesgesondheidsprogram en dit moet ’n hele skoolbenadering behels wat bewusmaking en opleiding vir personeel en leerders insluit. Dit is oukei om nie oukei te wees nie. Daar is ’n uitweg, daar is hoop en daar is hulp beskikbaar. Hoe meer ons openlik oor selfdood praat, hoe makliker en vinniger gaan ons die stigma rondom selfdood vernietig.

Vir meer inligting rondom selfdood, gaan lees gerus my kollega Gerhard Nieuwoudt se blogs:

Bietjie meer oor AfriForum se teenboelieveldtog:

AfriForum se teenboelieveldtogspan skep sedert 2017 bewustheid en byna 100 skole landwyd is reeds toegespreek oor boeliegedrag asook die impak daarvan op jouself en ander.

Boeliegedrag is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifiek waar daar ’n wanbalans van mag voorkom:

  • Afknouery is ’n wêreldwye probleem en Suid-Afrika is beslis geen uitsondering nie;
  • Volgens ’n Unesco-verslag word bykans 250 miljoen kinders en jongmense jaarliks wêreldwyd afgeknou;
  • 25% van Suid-Afrika se ouers beweer dat hul kind al ’n slagoffer van afknouery/boeliegedrag was;
  • In 2018 het ’n studie, waaraan ongeveer 21 000 mense van 28 verskillende lande deelgeneem het, bevind dat Suid-Afrika die meeste voorvalle van kuberafknouery het;
  • Meer as helfte (54%) van Suid-Afrika se ouers weet dat ’n kind in hul gemeenskap kuberafknouery ervaar.

Kuberafknouery word gedefinieer as die optrede waardeur iemand geteister, verneder, gedreig, of in die verleentheid gestel word deur elektroniese metodes, soos blitsboodskappe, e-posse of sosiale media.

Ander vorme van afknouery sluit in: fisieke, verbale en emosionele afknouery.

AfriForum se teenboelieveldtog fokus op die boeliedriehoek, oftewel die driehoek van teistering, naamlik die boelie, die slagoffer en die omstanders en beoog om leerders in al drie hierdie kategorieë toe te rus met die nodige vaardighede en kennis om boeliegedrag hok te slaan.

AfriForum doen ’n beroep op ouers en onderwysers om proaktief op te tree. Dit is jou werk as ouer om ’n oog oor jou kind te hou en na hom/haar te luister. Wees bewus! Dit is belangrik om na ons kinders se geestelike welstand om te sien; hulle is immers die leiers van die toekoms.

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelie- en selfdoodbewusmakingsveldtog, besoek www.teenboelie.co.za en laai ons Teenboeliegids gratis af.

  • Leandie Bräsler is AfriForum se bestuurder vir junior jeugleierskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Elke terapeut wat omsien na slagoffers van boelies en na kinders met ‘n swak selfbeeld of selfmoordneigings, het my applous.
Daar is so baie trauma in hierdie verband, maar so min ware omgee-terapeute om ‘n medemens tr mentor op die pad na restourasie.
Hou vol met hierdie roeping. Julle word werklik waardeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.