Wat ouers moet weet oor skoolangstigheid

Argieffoto.

Angstigheid by die skool is nie ʼn nuwe verskynsel nie. Opvoeders en ouers is dit egter eens dat kinders ʼn drastiese toename in angstigheid toon weens die Covid-19-pandemie, inperkings en die voorsorgmaatreëls wat ingestel is om die veiligheid te verseker van die kinders wat in die laaste paar maande teruggekeer het skool toe.

Angstigheid behoort nie ligtelik opgeneem te word nie. Die goeie nuus is dat ouers en onderwysers stappe kan doen om die waarskuwingstekens by kinders raak te sien en toepaslik te reageer sou daar kommer ontstaan dat ʼn kind emosioneel swaar kry, sê dr. Jacques Mostert, ʼn onderwyskenner.

“Kinders en ouers kan die aanvang van angstigheid erken wanneer ʼn skielike verandering in gedrag getoon word en dit vir ten minste drie weke of langer aanhou,” sê Mostert, akademiese handelsmerkbestuurder van ADvTECH, Suid-Afrika se voorste private onderrigverskaffer.

Mostert is wêreldbekend in sy veld en het navorsing gedoen in Denemarke, Brittanje, Suid-Afrika en Nederland.

Hy sê gedragstekens om voor uit te kyk sluit in aandagafleibaarheid, rusteloosheid, bywoningsprobleme, klouerigheid, ontwrigting en swak punte in vakke waarin daar voorheen goed gevaar of presteer is. Daar moet ook aandag geskenk word wanneer ʼn kind sosialisering of groepwerk vermy.

“Angstigheid is die liggaam se normale reaksie op gevare of belangrike gebeurtenisse. Dit is asof jou liggaam se interne alarmstelsel gestel is om jou van gevare bewus te maak wat moontlik lewensgevaarlik is en dit help jou liggaam om voor te berei om met die gevaar af te reken.

“Jou interne alarm is egter nie baie goed daarmee om te herken wanneer jou lewe werklik in gevaar is of nie. Jou liggaam reageer byvoorbeeld dieselfde op senuweeagtigheid om skool toe te gaan en ʼn groot spinnekop. Nie een van die twee kan jou werklik skade berokken nie, maar jou liggaam bly steeds bewus en gereed om te hardloop in albei gevalle.”

Mostert sê angstigheid en senuweeagtigheid is normale emosies en is te wagte in tye van oorskakeling of verandering, veral in tye van ongekende ontwrigting.

“Die nuus en sosiale media is gevul met verslae van gevare wat Covid-19 inhou, die viriliteit van die virus en hoe om infeksies te verhoed. Selfs jong kinders wat nie na die nuus kyk nie, kan steeds die bekommernisse van die volwassenes om hulle aanvoel.”

As ʼn ouer bekommerd is oor ʼn kind se angstigheid nadat simptome geïdentifiseer is en voortduur vir ʼn paar weke, moet die probleem eerstens by die huis aandag kry.

“Roetine is die sleutel. Die eerste belangrike stap is om alle gewone roetines weer in te stel, in die oggend en in die aand. Niemand vaar goed wanneer hulle moeg of honger is nie. Angstige kinders wil dikwels nie ontbyt eet nie, voel nie honger nie en word naar na ontbyt, so maak seker jou kind kom weer in die gewoonte om voeding te kry voor skool.

“Maak ook seker jou kind word vroeg wakker om enige haas voor skool te vermy. Dit beteken natuurlik dat jy moet seker maak hy gaan vroeg bed toe op ʼn gereelde tyd. As jou kind ure voor slaaptyd op ʼn toestel speel of op sosiale media tyd deurbring, is dit ʼn gewoonte wat beëindig moet word. Dit is nie gesond vir kinders of selfs vir volwassenes nie.”

Mostert voeg by dat ʼn kind wat ongewoon stil raak of begin mompel ook ʼn aanduiding kan wees van angstigheid om terug te gaan skool toe.

Hier is ʼn paar praktiese wenke om angstigheid onmiddellik te hanteer:

  • Haal diep asem
  • Neem ʼn breuk en gaan buitentoe
  • Gesels openlik en objektief oor angstigheid
  • Begin beweeg
  • Gesels en stap
  • Beoefen positiewe denke en hou ʼn dankbaarheidsjoernaal
  • Probeer om so gesond as moontlik te eet en drink genoeg water

“Volwassenes moet in gedagte hou dat hulle ʼn belangrike rol speel in die ondersteuning van kinders in hierdie tyd en dat hulle kinders se aandag moet weglei van bekommernisse soos maats, onderwysers, huiswerk en Covid-19,” sê Mostert.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.