Wat ouers moet weet van kuberafknouery

Foto slegs ter illustrasie. (Foto: FYI Play It Safe/Verskaf)

Kuberafknouery is een van die aanlyn bedreigings wat ouers die meeste vrees. Dit is geheimsinnig en verraderlik, soms moeilik om ʼn mens se vinger daarop te sit, en net so moeilik om stop te sit. Dit is ook skrikwekkend algemeen en wydverspreid, en kinders van 10 tot 18 jaar oud word deur dit geraak. Ongemerk kan hierdie soort afknouery ernstige gevolge hê.

Afgesien van die voor die hand liggende pyn en lyding wat dit kan veroorsaak, kan kuberboelies kwesbare kinders tot selfskade, selfmoordgedagtes en selfdoodpogings dryf. Dit is ʼn nagmerrie vir ouers, wat dikwels ʼn intense emosionele reaksie van almal daarby betrokke ontlok.

Anders as afknouery waarvan jou kind op die skoolterrein kan wegstap, kan ʼn aanlyn boelie moeiteloos die veilige ruimte van die huis betree om jou kind 24 uur lank, sewe dae per week te teister en seer te maak. Alle soorte afknouery kan ʼn sterk gevoel van skaamte ontlok, asook angs oor vergelding as ʼn kind aan volwassenes openbaar wat met hulle gebeur.

Talle kinders en tieners wat geboelie word, ly eerder in stilte wat net die negatiewe uitwerking op hulle vererger.

Hoekom is ouers se reaksie op aanlyn afknouery so belangrik?

Wanneer dit by hierdie boeliegedrag kom, dink kinders ook oor hoe hul ouers kan reageer; en as hulle vrees dat hul ouers kan oorreageer of ingryp op ʼn manier wat die situasie mag vererger, kan hulle kies om liewer nie met hul ouers te praat oor wat met hulle gebeur nie. Hulle kan ook vrees dat ouers hul toestelle sal wegneem, nuwe perke op hul internettoegang sal stel of dat daar op hul privaatheid inbreuk gemaak kan word.

Volgens Gurshwen Thöle, ʼn geregistreerde berader, wat die berading-sentrumbestuurder by die SACAP (South African College of Applied Psychology) Foundation: The Youth Hub is, moet ouers weet dat kuberboelies algemeen voorkom op ʼn verskeidenheid van aanlyn platforms, en dat die oortreder moontlik persoonlik aan hul kind onbekend is.

“Kuberafknouery is dikwels anoniem, wat dit besonder moeilik maak om te takel. Dit gebeur gereeld via kitsboodskap-apps, in speletjie se kletskamers en op sosialemediaplatforms. Dit is noodsaaklik om nie net jou kind se aktiwiteite aanlyn te monitor nie, maar om ook ʼn funksionele verhouding te hê sodat jy vinnig tekens van verandering in jou kind se gedrag kan identifiseer.

“Gereelde, oop kommunikasie oor kuberboelies – wat dit is, hoe om dit te identifiseer en wat om te doen as dit gebeur – skep ʼn hoë vlak van bewustheid in jou gesin en wys jou kinders dat jy gereed en in staat is om kalm en doeltreffend te ondersteun en op te tree om dit stop te sit.”

Kuberboelies se uitwerking op jou kind se geestesgesondheid

Rachelle Best, ma van ʼn tienerdogter en stigter van die FYI Play It Safe-app, wat insiggewende onderhoude met Suid-Afrikaanse tieners vir die podsendingreeks Sip the Tea voer, sê tot dusver het elke tiener met wie sy gesels ʼn storie oor aanlyn afknouery aan haar vertel.

“As dit nie self met hulle gebeur het nie, dan ken hulle iemand in hul onmiddellike vriendekring wat aanlyn geboelie is. Ek het met ʼn meisie gepraat wat haar tot self seergemaak het omdat sy geboelie is. Dit is hartverskeurend.

“Nog ʼn verrassing vir my was die kuberafknouery wanneer dit by seuns kom. Ons is geneig om te dink dat afknouery onder seuns daaroor gaan dat hulle mekaar fisiek rondstoot, maar seuns ly ook aanlyn. ʼn Aantal seuns wat tot dusver aan Sip the Tea deelgeneem het, het stories vertel van waar hulle aanlyn geboelie is weens hul gewig of hul fisieke voorkoms.”

Volgens Gurshwen is die mees kommerwekkende uitwerking van aanlyn boeliegedrag dat dit kan lei tot depressie en angs.

“Dit kan lei tot selfdoodgedagtes en selfskade wat vandag algemeen in die nuus gesien word. Die moontlike tekens dat ʼn kind aanlyn geboelie word, sluit in dat die kind teruggetrokke raak en veranderinge in eet- en slaappatrone het. Daar is ook opvallende veranderinge in sosiale gedrag soos geïrriteerdheid, aggressiewe gedrag, praatjies oor selfmoord en hoe betekenisloos die lewe kan wees, selfisolasie en distansiëring van aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het. Kuberafknouery kan langtermyn-komplikasies vir geestesgesondheid veroorsaak wat kinders tot ver in hul volwasse lewens kan ervaar.”

Foto slegs ter illustrasie. (Foto: FYI Play It Safe/Verskaf)

Wat kan jy doen as jou kind aanlyn geboelie word?

“Eerstens is dit belangrik om kalm te bly en rasioneel te reageer. Moenie jou kind blameer of vinger wys na die tyd wat hulle aanlyn deurbring of dat jou kind ʼn speletjie speel waarvan jy nie hou nie. Weerhou jouself van die behoefte om toestelle weg te neem of nuwe beperkings op jou kind se aanlyn konneksies te stel. Dit is nie jou kind se skuld nie, en hulle moet nie voel hulle word gestraf omdat dit met hulle gebeur het nie.

“Ondersteun jou kind en gee erkenning aan hoe hierdie ervaring hulle laat voel het. Ouers moet nie oordeel, kritiseer of hul kind skuldig laat voel oor wat met hulle gebeur het nie. Dit is belangrik om te bepaal of jy professionele hulp vir jou kind moet soek sodat hulle die gevolge van die kuberafknouery kan takel.

“Jy moet meganismes ondersoek om jou kind teen verdere boeliegedrag aanlyn te beskerm. Dit kan insluit om die saak by die polisie, skool of ʼn kuberafknouery-hulplyn aan te meld. Daar is verskeie maniere om op te tree, en jy moet jou kind betrek en saamwerk om ʼn oplossing te vind,” voeg Gurshwen by.

Rachelle van ‘FYI Play It Safe’ beveel die volgende aan:

Sê vir die boelie om op te hou: Jy kan jou kind ondersteun om teen die boelie op te staan deur hul gedrag aan te raak en aan te dring daarop dat dit ophou.

Blok die boelie op alle platforms: Hierdie metode kan hoogs doeltreffend wees as jy nie die boelie ken nie. Om hulle te blok en aan die platform te rapporteer, is ʼn doeltreffende manier om die boelie uit jou kind se lewe kry. As die kuberafknouery egter die grens na ʼn kubermisdaad oorgesteek het, wil jy dalk die verbinding behou sodat jy hulle eerder by die polisie kan aanmeld. Maak ʼn strafregtelike saak aanhangig teen die boelie en oorhandig die bewyse wat jy bymekaargemaak het van die boelie se strafregtelike oortredings. Om ʼn persoon te blok én te rapporteer beteken dat die geskiedenis van die gesprek op die meeste platforms uitgevee word.

Bespreek dit met die boelie se ouers of ʼn ondersteuner by die skool: As die boelie in jou kind se vriende- of skoolkringe is, kan jy dit oorweeg om direkte gesprekke aan te knoop om te help om die situasie reg te stel. Maak seker dat jou kind gemaklik is met hierdie benadering.

Ignoreer die boelie: Jou kind kan hom van die boelie losmaak sonder om die gedrag aan te pak. Dikwels, as ʼn boelie geen reaksie kry nie, gaan hulle aan. Jy kan daarop fokus om jou kind te ondersteun in die hantering van die uitwerking van die boelie se gedrag op jou kind.

Versterk jou kind se aanlyn veiligheid-ekostelsel: Jy kan nie kuberafknouery voorkom deur net op ouerbeheer-apps staat te maak nie. Hierdie apps monitor nie die inhoud van ʼn interaksie waaraan jou kind blootgestel word nie. FYI Play It Safe-app bied wel ʼn ekstra laag sekuriteit deur die inhoud te monitor waarmee jou kind besig is. Dit kan ouers ook waarsku oor moontlike aanduidings dat jou kind aanlyn geboelie word. Verken dus die hele ekostelsel van aanlyn veiligheid vir jou gesin, en moenie nie net fokus op een oplossing nie.

ʼn Pa, wie se dogter volgens waarskuwings van die FYI Play It Safe-app geboelie is, het onlangs vir Rachelle genader.

“Toe hy die gesprek met sy dogter begin, het sy vir hom die hele spoor van boodskappe gewys, en hy het gesien dat sy meer as 100 werklik skadelike boodskappe van ʼn seun in dieselfde skool ontvang het. Hierdie seun het selfs vir haar boodskappe gestuur wat as doodsdreigemente vertolk kan word.

“Deur saam met sy dogter te werk, kon hierdie pa betyds inspring en ʼn heeltemal onaanvaarbare situasie stopsit. As ouer wil jy in staat wees om hierdie soort oop vertrouensgesprek met jou kind te hê om hulle veiliger te hou in die digitale wêreld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.