Wat van die mense wat agterbly?

(Foto: Steven Coffey/Unsplash)

Deur dr. Sulette Ferreira

Bykans almal van ons ervaar die impak van, of ken iemand wat geraak is, deur die groeiende tendens van Suid-Afrikaners wat emigreer. Die dryfvere is legio, met die hoofdoel om beter lewensgehalte in ander uithoeke van die wêreld te vind.

Risenga Maluleke, statistikus-generaal, bevestig dat emigrasie ʼn gewilde gesprekspunt in die hedendaagse Suid-Afrika is, wat oral oor passievolle opinies ontlok.

Daar is komplekse sielkundige en sosio-kulturele aspekte verbonde aan hierdie fenomeen wat ingrypende gevolge het, nie net vir die emigrant nie, maar ook vir diegene wat agterbly. Die beskikbare literatuur oor Suid-Afrikaanse emigrasie fokus hoofsaaklik op die ekonomiese effek, insluitende die verlies aan vaardighede, terwyl studies oor die sosiale en sielkundige impak van emigrasie opvallend afwesig is.

Jongste syfers

Statistiek Suid-Afrika (StatsSA) se heel eerste migrasieprofielverslag het onlangs verskyn. Dit bevestig dat bykans een miljoen mense die land reeds permanent verlaat het.

Dit is gebaseer op die jongste sensusdata, sowel as data uit huishoudelike opnames, akademiese navorsing, die Wêreldbank, die Verenigde Nasies (VN) se hoë kommissaris vir vlugtelinge, Unesco, die Suid-Afrikaanse polisiediens en die departemente van binnelandse sake en basiese opvoeding. Die Europese Unie (EU) het StatsSA se langverwagte migrasieverslag gefinansier.

Die verslag dui die aantal Suid-Afrikaans gebore burgers wat in die buiteland woon sedert 2000 aan, soos uitgebeeld in die grafiek hieronder, wat die data tot 2025 projekteer.

(Grafika verskaf)

In 2024 is daar gerapporteer dat daar ʼn oplewing van belangstelling van Suid-Afrikaanse emigrante is om terug te keer na die land – daar is genoem dat 30% emigrante navraag doen oor eiendom in Suid-Afrika, asof hulle binnekort sou terugkeer. Die StatsSA-verslag bevestig die aantal Suid-Afrikaanse burgers wat teruggekeer het – die verslag noem hulle terugkommers – in net twee spesifieke jare: In 2011 het 45 866 burgers teruggekeer (46,2% was mans en 53,8% vroue), maar teen 2022 het die teruggekeerdes gedaal tot 27 983 met ʼn gelyke verdeling tussen mans en vroue.

Die wat agterbly

Emigrasie word dikwels beskou as ʼn individuele besluit wat uitsluitlik die emigrant raak. Tog is die werklikheid nie so eenvoudig nie. Die rimpeleffek van emigrasie kring heelwat verder uit en veral die emigrant se naaste familielede word geraak.

Die StatsSA-verslag wys dat 914 901 Suid-Afrika geborenes in 2020 in die buiteland woon. Die aantal mense wat geraak word, kan verdubbel of selfs verdrievoudig wanneer die uitgebreide gesin ingesluit word.

In ʼn land waar familiebande diep gekoester word, word twee of drie miljoen of selfs meer mense dus deur emigrasie geraak.

My navorsing as emigrasie-terapeut toon dat alhoewel elke ouer met kinders in die buiteland se emigrasie-reis uniek is, dit altyd aanleiding gee tot fundamentele verandering in die sosiale en emosionele dinamika binne gesinne.

Ouers ervaar gewoonlik teenstrydige emosies: verligting en trots, vermeng met onsekerheid. Terwyl hulle verlig is dat hul kinders ʼn beter lewe in ʼn meer suksesvolle land ervaar, sou hulle tog verkies dat die kinders fisies deel van hul lewens bly.

Soos ons ouer word, raak ons al meer afhanklik van ons familie vir versorging en geselskap. Naas gade-ondersteuning het die ondersteuning van kinders die meeste invloed op die algemene welstand van bejaardes. Navorsing toon voorts dat die emosionele en sielkundige kwesbaarheid van ouers wat agterbly, toeneem, wat kan aanleiding gee lei tot ʼn gevoel van verlies, eensaamheid, angs en ʼn verminderde lewenskwaliteit.

ʼn Verdere komplikasie is dat talle grootouers ook van die vreugde om hulle kleinkinders te sien grootword, ontneem word.

Alhoewel geldelike bydraes vanaf kinders in die buiteland kan help om die ouers se finansiële las te verlig, verminder dit nie die emosionele verlies nie. Die verlange na familie-nabyheid en dit ‘wat kon gewees het’ eis ʼn tol op die geestelike en emosionele toestand van die ouers.

Die impak van emigrasiebestemmings

Die StatsSA-verslag toon die 10 vernaamste lande waar Suid-Afrikaanse emigrante hulle bevind, soos in die meegaande grafiek uitgebeeld.

(Grafika verskaf)

Die Engelssprekende lande Brittanje, Australië, die VSA, Nieu-Seeland en Kanada is verreweg die grootste trekpleister vir Suid-Afrikaners.

Die enigste lewenslyn wat die ouers met hul emigrante-kinders en -kleinkinders het, is aanlyn-kommunikasie en besoeke na en van hul kinders. Daarom speel die land van bestemming ʼn belangrike rol in die ouers se ervaring van hulle volwasse kind(ers) en kleinkinders se emigrasie.

Gereelde kommunikasie word bemoeilik deur die tydsone-verskil. Australië is ses tot agt uur voor Suid-Afrika, afhangende van die spesifieke ligging. Nieu-Seeland is ons 10 tot 11 uur voor, met die daglig-besparing-reëling wat daarin ʼn rol speel.

Kanada en die VSA is weer 7 tot 10 uur ná Suid-Afrika. Hierdie tydsverskille maak dit moeilik om telefoonoproepe of video-geselsies te koördineer.

Die afstand tussen die emigrant se nuwe tuiste en hul tuisland, met die gepaardgaande hoë koste, kan gereelde besoeke aan ouers en familielede belemmer. ʼn Vlug van Suid-Afrika na Australië duur tussen 11 en 14 ure. In die geval van Kanada is die vlugduur 17 ure.

ʼn Ouer verduidelik:

“Hy het so ver gegaan om te vergelyk met mense wie se kinders “slegs” na Europa emigreer. Amerika is veel erger as gevolg van die reistyd en vlugvoosheid. ʼn Mens is nooit regtig gelukkig met ʼn situasie soos hierdie nie. Ai, daar is iemand wat jy liefhet en sy familie en hulle is ver weg. Te vêr weg! Uhm, ek is eintlik baie dankbaar dat toe ek vir die eerste keer oorsee gegaan het, hulle ʼn direkte vlug van hier af gehad het, net verby Miami, maar dit was nog steeds 15 uur in die vliegtuig.”

Internasionale vlugte vereis voorbereiding, beplanning en organisasie ruim voor die reisdatum. Diegene wat met Suid-Afrikaanse paspoorte reis, benodig ʼn visum om na die meeste lande te reis. Versekering moet vir die volle duur van die voorgenome besoek uitgeneem word.

Hierdie werklikhede lei daartoe dat emigrante en hulle familielede belangrike familiegebeure en mylpale misloop.

Sommige ouers het kinders in verskillende lande wat die situasie verder kompliseer, met meer as een tydsone om in ag te neem.

Meer as syfers

Die ontstellende statistiek dat bykans ʼn miljoen Suid-Afrikaners hul land verlaat het, vertel nie die volle verhaal nie. Agter elke datapunt skuil ʼn persoonlike verhaal: families wat gedwing word om hul verhoudings op nuwe maniere te herdefinieer te midde van die uitdagings wat geografiese afstande skep.

Dit is ʼn troos vir Suid-Afrikaanse ouers dat hulle kinders beter geleenthede kan najaag, maar dit kom teen ʼn duur prys – ingrypende verandering in die kern van gesinsverhoudinge.

Stephen Miller het tereg gesê: “Immigrasie is ʼn emosionele kwessie, en dit behoort ʼn emosionele kwessie te wees, want dit raak mense se lewens”.

  • Sulette Ferreira is ʼn berader en navorser in sosiale wetenskappe in privaat praktyk in Suid-Afrika, wat spesialiseer in die emosionele uitwerking van emigrasie. Sy het die Facebook-groep, Worlds Apart Living in One Heart, gestig wat poog om veral ouers, wie se kinders emigreer, te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Migrasie is oud soos die berge. Afrikaners se voorouers het vanuit Europa hierheen migreer. Dis in ons bloed. Ons maak net te veel van migrasie. Moontlik word dit vertolk as wegvlug van ons omstandighede. Dis werklik onnodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.