Watter rol moet ouers in akademiese prestasie speel?

helikopter-ouerskap

Foto: Willingness.com.mt/Verskaf.

Deur Hilda Erasmus ’n grondslagfasespesialis

Ouers het deesdae baie meer beheer oor hul kinders se lewe en hulle wil konstant ingelig wees oor hul kinders se doen en late. Sosiale media laat ouers ook toe om aan groepe te behoort, sodat hulle ingelig kan wees oor elke aspek van hul kinders se lewe. Hiermee saam neem hulle ook verantwoordelikheid vir dit wat kinders eintlik self moet leer.

Het jy al ooit van die uitdrukking “helikopter-ouerskap” gehoor? Wel, as jy nog nie daarvan gehoor het nie, het jy dit verseker al gesien. Dié ouers is die hele tyd besig om alles agter hul kinders aan te dra om seker te maak dat die kind alles het wat hul hartjies begeer. Die kinders word so afhanklik van die ouer dat hulle nie die geleentheid kry om tot onafhanklike volwassenes te ontwikkel nie.

Nou ontstaan die groot vraag: Hoe betrokke moet jy, as ouer, wees by jou kind se akademiese loopbaan? Daar is ’n hele paar eenvoudige reëls wat ouers kan toepas:

  • Hoe jonger die kind is, hoe meer tyd moet jy, as ouer, spandeer om die leerder te help met take en huiswerk. Begelei die kind tot akademiese volwassenheid sodat hulle later self take kan aanpak.
  • Maak seker dat jou kind genoeg speeltyd kry sodat hulle basiese vaardighede, soos om skoenveters vas te maak, fiets te ry en uit te knip, kan aanleer. Hierdie belangrike vaardighede gaan hulle help om te konsentreer as hulle moet leer.
  • Beperk hulle tot minimale skermtyd. Dit is baie maklik om ’n kind voor die televisie neer te sit sodat jy dinge gedoen kan kry. Kinders moet egter leer om vir hulself te dink, hulself besig te hou. Dit is die grondslag van probleemoplossing. As jy alle antwoorde vir kinders gee, gaan hulle nooit leer om vir hulself te dink nie.
  • Leerders moet beperk word in hul buitemuurse aktiwiteite. Gebruik die geld wat jy daarop sou spandeer het, om vir jou kind boeke te koop. Grondslagfase-leerders se tydrooster hoef nie voller gepak wees as hul ouers s’n nie en dit is belangrik dat hulle moet ontspan.
  • Sorg dat jou kind ’n plek het om huiswerk te doen. Die kombuistafel is nie noodwendig die beste plek nie.
  • Moenie jou kind se huiswerk doen nie, maar moet ook nie jou kind los om self te sukkel nie. ’n Leerder wat moedeloos oor ’n boek hang, weet dikwels nie wat om te doen nie, soms is hulle net te skaam om weer te vra nadat dit aan hulle verduidelik is omdat hulle bang is dat daar met hulle geraas gaan word.

Eintlik kom alles daarop neer om ’n gesonde balans te handhaaf. Kinders moet vir hulself kan dink, onder die wakende oog van ’n ouer om seker te maak dat hul kinders uit hul foute leer sonder om hul vingers te verbrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

… En as die kind te bang is om te vra wanneer hy sukkel, wie moet die saak hanteer? Moet die helikopter op die rugbyveld gaan land of moet die kind met ‘n valskerm by ‘n duur naskoolse sentrum of by die leerkrag met sy mooi huis afgepos word en met ‘n halwe duisend rand in die hand?

Veritas ·

John, uit ondervinding het ek geleer om ‘n kind van kleinsaf te leer om eers iets self te probeer doen. Indien die poging onsuksesvol is moet die kind vir sy poging geprys en daarna reggehelp word. Maak ‘n groot ophef wanneer sy/haar poging korrek is en help kalm reg met ‘n ‘mooi probeer, indien verkeerd, eerder as om die kind dom te laat voel. ‘n Foutiewe poging tel meer punte as ‘n halfhartige poging.

John ·

Nou weet ek ok waar my lewe verkeerd geloop het…. my psigiater gaan nie baie bly wees oor hierdie nuwe lig wat in my lewe opgegaan het nie… ek hoop dis led van aard…. anders….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.