Wees kreatief!

kind_hande_verf_.jpg

Foto: Merlotsart.com

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Kreatiwiteit is nie ’n ingebore talent wat kinders het of nie het nie – dit is ’n vaardigheid wat ouers hul kinders kan help ontwikkel. Om die waarheid te sê, dit is ’n vaardigheid wat ouers hul kinders moet help ontwikkel aangesien dit belangrik is vir hulle algehele ontwikkeling en welstand.

’n Kind se vermoë om kreatief te dink bevorder nie net emosionele en geestelike gesondheid nie, maar kreatiewe vryheid is ook noodsaaklik om kinders te help om besluitnemingsvaardighede, selfvertroue en onafhanklikheid te kweek. Juis daarom is dit belangrik om aan kinders genoeg geleenthede te bied om aan aktiwiteite wat hul kreatiwiteit ontlok, deel te neem.

Soos kinders ouer word, word hul verbeelding ongelukkig dikwels getem deur die samelewing se reëls, moets en moenies. Gelukkig is daar baie wat jy kan doen om kreatiwiteit in jou kind te koester.

Bied die hulpbronne wat benodig word vir kreatiewe uitdrukking

Die belangrikste hulpbron wat kinders benodig is tyd, spesifiek vir ongestruktureerde en verbeeldingryke spel. Hulle het nie baie vervaardigde speelgoed nodig nie. Bied eerder ’n verskeidenheid leë bokse, papier, kryte en ander kunsmateriaal, asook boublokkies en klere vir verbeeldingspel. Kinders het ’n ongelooflike aangebore vermoë om kreatief te wees wanneer hulle op vrye wyse speel.

Skep ’n toegewyde ruimte

Tensy jy nie omgee om ’n kreatiewe deurmekaarspul oral te hê nie, moet jy ’n spesifieke plekkie aan jou kind bied waar hy of sy kreatief kan wees. Dit hoef nie ’n spoggerige speelkamer te wees nie – al wat hy of sy nodig het is ’n veilige ruimte waar die kind hom- of haarself kan uitleef, of dit nou ’n speelhoekie in die sitkamer is vir blokkies bou, of spasie in die motorhuis waar ’n groot gemors gemaak kan word.

Moedig pret aan en vier kreatiwiteit

Jou kind se kreatiwiteit moet nie daaroor gaan om ouers, onderwysers of vriende te beïndruk nie. ’n Kind moet vry wees in sy of haar kreatiewe denke. Deur enige druk om ander te beïndruk te verwyder, sal jou kind meer gemaklik voel om hom- of haarself uit te druk en vrylik te skep. Wanneer die kind klaar is, vier sy of haar kreatiwiteit deur die skeppings uit te stal.

Bied jou kind die vryheid om te ontdek

Laat jou kind toe om aan kreatiewe aktiwiteite wat hy of sy intrinsiek gemotiveerd is om te doen, deel te neem, eerder as om hom of haar met belonings en aansporings te motiveer om dinge te doen wat die kind nie interesseer nie. Help die kind ook om al sy of haar sintuie in te span en bied hom of haar die vryheid om dinge self te ontdek. As jy nie die situasie bestuur en sekere verwagtinge daarstel nie, sal jou kind moontlik ’n unieke manier ontdek om na die wêreld te kyk. Wie weet, jy kry dalk self ’n nuwe perspektief!

Leer hom om selfversekerd te wees

Leer jou kind om op te staan vir dit wat hy of sy dink, voel en glo, en nie om ander toe te laat om kreatiewe keuses te beïnvloed nie. As iemand byvoorbeeld vir hom of haar sê om nié die lug groen in te kleur nie, moedig jou kind aan om sy of haar kleurkeuse te verdedig.

Dit is jou verantwoordelikheid om jou kind se kreatiwiteit te koester. Bied jou kind namate hy of sy groei geleenthede vir verbeeldingryke avonture en prettige aktiwiteite wat hom of haar sal toelaat om te dagdroom, te skep en te ontdek. Selfs nog beter, sluit by jou kind aan wanneer hy of sy weer inkleur, ’n huis uit bokse skep of in ’n superheldvorm teddiebere van gevaar red!

Artikel verskaf deur Impak Onderwys 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.