Wenke vir die onvoorbereide skoledebatkompetisie

(Foto: Robinson Recalde/Unsplash)

Deur Ianthe Sipsma

Op skool word leerders oorweldig met ’n magdom verskillende aktiwiteite. Sekere aktiwiteite, soos sport, maak jou fikser en miskien bietjie maerder; ander aktiwiteite help jou dalk om die volgende Beyoncé te wees. Daar is wel niks wat jou so op jou voete laat dink, selfvertroue gee en slimmer maak soos onvoorbereide debat nie. Die beste deel is dat dit geen voorbereiding vereis nie, geen lang maande en laat aande nie. Jy daag op, neem deel en gaan slaap lekker daarna (dit was altyd my gunstelingdeel).

Onvoorbereide debat was altyd ’n geleentheid om meer te leer. Die onderwerpe dwing jou om buite die boks te dink, veral omdat jy ’n kant kies nog voor jy weet wat die onderwerp is. Dit is baie uitdagend om vir of teen ’n onderwerp te praat waarmee jy glad nie saamstem nie of wel mee saamstem. Onvoorbereide debat is die een aktiwiteit op skool wat jou ’n vaardigheid aanleer wat jy vir die res van jou lewe sal kan gebruik. Om op jou voete te kan dink, vinnig ’n argument aanmekaar te sit en om met die wêreld se selfvertroue jou punt te bewerkstellig, is ’n vaardigheid van onskatbare waarde.

Ná skool het ek as debatafrigter by hoërskole betrokke geraak. Ek het 10 stappe opgestel om die jong debatteerders voor te berei vir onvoorbereide debat.

Stap 1: Die loting

Dink of Sink maak gebruik van dobbelstene wat bestaan uit die simbole van ’n skêr, klip en papier. Die kapteins van die twee debatspanne moet die dobbelstene gooi om te bepaal of hulle inleidend of opponerend wil praat. Onthou: skêr wen papier, papier wen klip en klip wen skêr.

Stap 2: Inleidend of opponerend

Die span wat die loting gewen het, kan bepaal of hulle inleidend of opponerend wil praat, dit wil sê, vir of teen die onderwerp. Die leerders moet onthou dat hulle ’n kant kies voordat die onderwerp bekend gemaak word. Die inleidende span sit aan die linkerkant en die opponerende span aan die regterkant voor die beoordelaars.

Stap 3: Die onderwerp

Die voorsitter in die lokaal maak die onderwerp bekend.

Stap 4: Voorbereidingstyd

Direk nadat die voorsitter die onderwerp bekendgemaak het, begin die 5 min.-voorbereidingstyd. Jy het reg gelees, slegs vyf minute om voor te berei.

Stap 5: Verstaan ons die onderwerp?

As die vyf minute voorbereidingstyd begin, vra vir mekaar: Verstaan ons die onderwerp? Maak seker dat elke spreker elke woord in die onderwerp verstaan. Dit verhoed dat die debat nie gaan oor ’n woorddispuut nie, maar eerder oor die onderwerp as geheel. Verstaan presies wat die onderwerp vra.

Stap 6: Besluit op drie individuele argumente

Noudat die span die onderwerp verstaan, moet elke spreker ’n individuele argument uiteensit. Maak seker dat jy en jou spanmaat nie oor dieselfde argument praat nie. ’n Goeie debatspan het drie verskillende en individuele argumente.

Stap 7: Skryf jou toespraak

Gebruik die oorblywende tyd om jou toespraak te skryf. Maak seker dat jy ’n inleiding, argument en ’n slot het. Geen onderwerpontleding is nodig nie.

Stap 8: Praat

Elke spreker gaan die geleentheid kry om te praat. Die inleidende span se eerste spreker gaan begin, dan die opponerende span se eerste spreker en so volg die leerders opmekaar. Elke spreker het 2 minute en 30 sekondes om hul toespraak te lewer.

Stap 9: Kruisverhoor

Ná elke leerder se spreekbeurt, gaan daar ’n 7 minute-debatsgesprek wees. Die opponerende span sal die eerste vraag mag vra en daarna is dit ’n oop debat.

Stap 10: Vrae en Antwoorde

Maak seker dat daar vrae gevra en antwoorde gegee word in die kruisverhoor. Om ’n stelling te maak, is nie ’n vraag of antwoord nie en verhoed dat die debat vloei.

Volg dié 10 stappe as voorbereiding en kom praat ’n hond uit ’n bos uit by hierdie jaar se Dink of Sink-virtuele skoledebatkompetisie.

 Besoek Dinkofsink.co.za of e-pos Nicolene Müller by [email protected] vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.