Wenke vir die perfekte kosblik

(Foto: Katerina Holmes/Pexels)

Teen dié tyd van die jaar het jy al moontlik tot 135 kosblikkies gepak – en dit is net vir een kind. Geen wonder ouers voel dalk al hulle het nou geen goeie idees meer vir ʼn gesonde kosblikkie nie.

Maroela Media het egter gaan loer na ʼn paar plaaslike ouerskapblogs soos Justamamma.com, Becomingyou.co.za en BabyYumYum.co.za om raad te kry vir die jaar se laaste sowat 80 (vir een kind) kosblikke wat voorlê:

1. Begin die dag reg

ʼn Gesonde ontbyt is onontbeerlik en verseker dat jou kind sy of haar dag reg begin, maak nie saak wat verder in die dag gebeur nie.

2. Beplanning is die sleutel tot enige gesonde kosblik

Jy kan die stryd om gesonde idees vir ʼn kosblik wen deur elke week ʼn paar minute opsy te sit om die gesin se spyskaart vir kosblikke te beplan. Onthou, jy kan aandetes se oorskietkos ook insluit. Koop vrugte en groente in oormaat. Jy kan dieselfde met neute doen en dit self meng. Vra jou kinders om jou te help met dié beplanning.

3. Tuisgebak bly die beste

Bak jou eie happies soos proteïenstafies, piesangbrood, muffins en souttertjies. Jy kan 25 muffins bak en dit vries vir gebruik in die week. Oorweeg dit om groente-tjips te maak en dit in die kosblikke in te sluit.

4. Broodjies bly ʼn wenner

Broodjies vir ʼn kosblik bly ʼn wenner, maar jy kan dit ook oorweeg om ryskoekies met roomkaas en biltong vir variasie in te pak.

5. Onthou om proteïene in te sluit

Dit is altyd goed om maer proteïene soos tuna, gekookte eiers, beesvleis of hoendervleis in jou kosblikke in te sluit. Onthou, oorskietmaalvleis en -bredie is ʼn maklike vuller vir môreoggend se toebroodjies. Selfs grondboontjiebotter of neutbotter tel ook as ʼn proteïen.

(Foto: Katerina Holmes/Pexels)

6. Vermy dit

Vermy eerder melk, jogurt, vis en vleis as dit ʼn heerlike sonnige somersdag is, behalwe as jy ʼn koelsak van goeie gehalte vir jou kosblikke het wat varsheid kan verseker.

Los die margarien en probeer eerder avokado, met ʼn bietjie suurlemoen om verbruining te voorkom, of ʼn laevet-mayonnaise as ʼn smeer vir die toebroodjies.

Onthou, jy kan (en moet) altyd vars seisoensvrugte en krakerige groente in jou kind se kosblik insluit.

7. Die verpakking

Belê in ʼn kosblik, verkoelsak of -houer van goeie gehalte. Maak seker dit is ʼn sterk houer wat die kos sal beskerm sodat dit nie plat gedruk word nie. Dit is ideaal as die kosblik verskillende houertjies het vir souse, gesnyde vrugte en groente en broodjies. Onthou om die kosblikke elke dag uit te was.

8. Onaangeraakte kosblikkies?

Daar is niks so frustrerend soos onaangeraakte kosblikke wat elke middag tuis opdaag nie. Vra jouself af of die kosblik te veel kos bevat en of die kos mooi verpak is. ʼn Kosblikkie hoef nie perfek te lyk nie, maar klein mensies eet ook met hulle oë. So, sluit ʼn verskeidenheid van kleure in. Kleiner porsies kan ook verseker dat kosblikke leeg huis toe kom.

9. Water bly die beste

Ouers is dit eens, water bly die beste om jou kind se dors te les. Nie net is dit gesonder as gaskoeldranke en ander koeldranke wat dikwels met suiker belaai is nie, maar dit is ook selfs ʼn beter keuse as talle vrugtesappe. Boonop is dit ook goedkoper.

10. Help mekaar

Kry inspirasie by ander mammas. Daar is duisende bladsye op sosialemediaplatforms soos Facebook, Instagram en Pinterest wat toegewy is aan kosblikidees om elke dag se kosblikke gesond te vul.

  • In Suid-Afrika is daar ongelukkig elke aand kleuters wat honger gaan slaap. Hulle ouers kan dit eenvoudig net nie bekostig om vir hulle kos te gee nie. Die #StopHonger-veldtog van Solidariteit Helpende Hand se kosblikkie-projek is daarop gemik om te sorg dat hierdie kleuters daagliks ʼn voedsame bord kos ontvang. Klik hier of besoek stophonger.co.za om vas te stel hoe jy dié kosblikkie-projek kan ondersteun. So kan jy help om elke dag 8 000 kleuters te voed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.