Werkende ma’s deel hul wenke met Maroela-lesers

Foto ter illustrasie.(Foto: Karolina Grabowska/Pexels)

Die skrywer en motiveringspreker Sharon Meers het eens gesê dat ’n gelukkige ma ’n goeie ma is, en as jou werk jou laat neurie, dan sing jou hele gesin saam.

Dit is so dat ʼn werkende ma, veral iemand wat gelukkig genoeg is om haar huislewe en haar werk te kan balanseer, die bevrediging wat haar loopbaan bring kan geniet.

Om daardie balans egter te vind is nie altyd maklik nie.

Ons wou by Maroela se werkende ma’s weet wat hulle wenke is om kop bo water te hou, hoe hulle dit regkry om werk en huislewe te balanseer, of iets anders wat hulle doen wat ander ma’s kan help.

Lesers wat vir dié kompetisie ingeskryf het, het die kans gestaan om ʼn bederfgeskenkpak met die komplimente van Placecol en Innoxa te wen. Die waarde van elke geskenkpak (Placecol en Innoxa-produkte tesame) het R3 580 beloop.

Marizelle Nortje, Clarissa Fernandez Moreno en Hettie Mills was die gelukkige ma’s wat elkeen só bederfgeskenkpak gewen het.

Hettie sê sy bid elke dag vir haar bediening, werk en kliënte, want sonder God sou sy dit nie gemaak het nie.

“Dit is vir hierdie rede belangrik om na jouself te kyk, want uitbranding wys nie net op jou vel nie, maar jou hele liggaamstaal skree ‘oorwerk en onderbetaald’ vir die heelal om vir jou te lag. Mens het net een lewe – laat dit tel!”

Hier is wat van ons ander lesers gesê het:

(Foto: Anastasiia Ostapovych/Unsplash)

Selfsorg is nie selfsugtig nie

“Maak tyd vir jouself én jou huisgesin. Dis belangrik om weer mens te word en te herlaai sodat jy tyd vir ander kán maak anders kan jy maklik jouself verloor,” sê Alberta Marais.

Alta Smit sluit hierby aan: “Delegeer. Vra vir hulp en maak jouself ook ʼn prioriteit. Jy kan nie skep uit ʼn leë tenk nie.”

“Selfsorg begin by jou, dit is uiters belangrik om tyd vir jouself te maak. Leer jou kinders al van baie kleins af om uit te help by die huis, al is dit iets klein, dit help jou én leer hulle bietjie selfstandigheid,” sê Lydene van der Merwe.

Moenie moederskap onderskat nie

Natalie Jason vertel dat sy ma-wees onderskat het totdat sy haar eie kroos gehad het. “My ma was altyd ʼn hardwerkende ma en ek’t nooit gedink dit kan so moeilik wees want sy het dit altyd maklik laat lyk… toe kry ek my eie dogters!”

Hoewel die lewe gejaagd is, voeg sy by dat sy tyd saam met haar dogters vir niks sal verruil nie. “Dis soms moeilik om net alleen badkamer toe te gaan,” skerts sy. “Maar geniet die tyd met jou kleintjie want hulle is nie vir lank só klein nie.”

Balans is belangrik vir werkende ma’s. (Foto: Helena Lopes/Unsplash)

Beplanning is van kern belang

Madelein van Straaten moedig ma’s aan om nie bang te wees om vir hulp te vra nie en benadruk die belangrikheid van beplanning. “Sit weeklikse beplanners teen die yskas op om belangrike dinge te onthou en stel kennisgewings op jou foon. Moet ook nie skaam wees om vir hulp te vra nie. Die mense naby aan jou en selfs jou kinders kan met klein dinge help.”

Esme Swart glo in lysies. “Ons hele huisgesin weet as iets op die yskaslysie is, dan sal dit gebeur. Jy hoef ook nie alles self te doen nie, leer om te delegeer. Kinders mag hulle eie kosblikke pak, dit maak nie van jou ʼn slegte ma nie. Inteendeel, dit maak van hulle verantwoordelike kinders.”

Liezel Louw erken dat die korporatiewe wêreld soms genadeloos vir ʼn werkende ma is. “Of jou kind nou tande sny of waterpokkies het, die spertye bly dieselfde. Volg ʼn roetine, oefen, al is dit net vir 15 minute om jou kop skoon te kry en wees heeltemal teenwoordig in jou kinders se lewe. Sit weg daai foon en kyk jou kind in die oë, anders kan jy spesiale oomblikke ongesiens laat verbygaan.”

Talle ma’s, onder wie Michelle Gerlag, Lammarié van der Westhuizen en Marianne Bester glo in vooruit kook en kos vries om die lading van dol weeksaande te verminder.

Tracy Smit vertel dat sy ‘n twee-weeklikse spyskaart uitwerk wat sy dan roteer. “Dit help baie wanneer mens nie weet wat om saans te maak vir ete nie!”

‘Sit neer jou foon,’ waarsku ma’s. (Foto: Vitolda Klein/Unsplash)

Los die werk by die ‘kantoor’, al is die huis nou ook jou werkspasie

“Weet wanneer om af te skakel wanneer dit by werk kom en werk dieselfde hoeveelheid ure wat jy sou werk as wat jy op kantoor was indien jy van die huis af werk,” sê Chantal Smit. “Koester elke sekonde saam jou gesin want die lewe is kort.”

Hou vas aan jou geloof en moenie vergelyk nie

“Prioriteite verander in elke seisoen van ons lewensreis. Moenie te hard op jouself wees nie,” sê Suné Bothma.

Eyonne Wolhuter glo daarin om daar dag met ʼn glimlag te begin. “Pak elke uitdaging stukkie vir stukkie aan. God se genade sal jou die ekstra huppel gee wat jy kort kom om die dag se take te voltooi.”

“Liewe werkende mamma, moet nie jou huis vergelyk met ander se huise nie. Vir jou familie is jy ALLES onthou dit,” meen Salome Jansen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.