Wiskunde ontwikkel sleutelvaardighede

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

 Deur Santie Louw

Onderwysers en opvoeders speel ʼn baie belangrike rol in die oordrag van vaardighede aan die jeug. Hierdie vaardighede berei hulle nie net voor vir die arbeidsmark nie, maar lei hulle om aktiewe en verantwoordbare lede van die gemeenskap te wees. In die lig hiervan speel Wiskunde ʼn belangrike rol.

Wiskunde en wiskundige geletterdheid mag vir menige ʼn bron van frustrasie wees, maar die waardering vir die impak daarvan is al van antieke tye af bekend. In opvolging van Plato en sy tydgenote se idees, het die onderwyskurrikulum in die Middeleeue uit drie taalgebaseerde studievelde bestaan, naamlik die trivium (grammatika, logika en retorika) en vier getalgebaseerde studievelde – die quadrivium (rekenkunde, sterrekunde, meetkunde en musiek). Vandag dek wiskunde en wiskundige geletterdheid, soos dit toegepas word in die Suid-Afrikaanse onderwysleerplan, onder meer basiese logika, rekenkunde en meetkunde.

Alhoewel die vakkennis op sigself talle toepassings het, kyk ons soms hul bydrae tot die ontwikkeling van belangrike lewensvaardighede mis. Deur te woel met wiskunde en die groot verskeidenheid lewenswerklike probleme wat in wiskundige geletterdheid gestel word, ontwikkel leerders waagmoed, deursettingsvermoë en kreatiwiteit.

Selfs die grootste entoesiaste moet erken dat wiskundeprobleme ʼn mens dikwels op jou tande laat kners, en by tye na trane kan dryf. Sou ʼn mens egter vasbyt en die probleem die stryd aansê, is die gevoel van oorwinning later die rede waarom ʼn mens met groter waagmoed die volgende probleem aanpak. Die woord “probleem” waarsku ons immers alreeds dat die taak ter hand nie noodwendig maklik gaan wees nie. Die kurrikulum is daarom so uitgelê dat probleme in klein inkremente meer ingewikkeld raak, sodat die vaardigheid in probleemoplossing ooreenkomstig ontwikkel.

Die proses kan pynlik wees, soos om met toenemende swaarder gewigte te worstel wanneer jy spiere bou. Die geheim vir groei is dan ook juis om gereeld te oefen. Vaardighede in die wiskundige dissiplines (dit sou fisika, rekeningkunde en programmering insluit) word soos ʼn muur gebou waarin elke steen op twee voriges rus. Die onderste vaardighede moet gevolglik deeglik ingeoefen wees voordat die nuwe vaardigheid met vertroue aangepak kan word. Dit is waar pligsgetrouheid die kanse op sukses verbeter.

Santie Louw, dosent in professionele studies, meen wiskunde en wiskundige geletterdheid speel ʼn belangrike rol in die ontwikkeling van sleutelvaardighede vir die jeug. (Foto verskaf)

Die wêreld maak deesdae ʼn groot bohaai oor kunsmatige intelligensie (KI) en ons sal moet vasstel wat ons as mense beter of selfs uitsluitlik kan doen. Aangesien KI staatmaak op die blitsvinnige verkenning en verwerking van bestaande data, is onvoorspelbare en onkonvensionele kreatiwiteit iets wat KI ons nie kan namaak nie. Om dié rede is dit belangrik dat jy derhalwe elke geleentheid moet aangryp om kreatiewe denke te ontwikkel.

Kreatiwiteit is die vermoë om iets daar te stel wat nie alreeds bestaan nie. Dis is ʼn belangrike stap in probleemoplossing. Die Hongaarse wiskundige, George Pólya, het dit “Stap 2” genoem in sy vierstapbenadering tot probleemoplossing. Nadat die probleem eers deeglik bestudeer is, moet daar ʼn plan gemaak word. In ʼn goeie probleem is die plan nie voor die hand liggend nie en die dinkwerk om ʼn geskikte plan te maak is ʼn kreatiewe proses.

Dit is daarom so belangrik om leerders aan te moedig om vas te byt met wiskundige probleme, aangesien dit hulle dapper, kreatief, gehard en pligsgetrou maak.

  • Santie Louw is ’n dosent in professionele studies aan Akademia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.