Wolkskool bemagtig leerders én onderwysers

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wolkskool is ontwikkel om Afrikaanse skole, onderwysers en leerders te ondersteun en te versterk deur hulle met vaardighede wat relevant is vir die Vierde Industriële Rewolusie (4IR) toe te rus.

Die gebruik van hierdie aanlyn leerplatform vir graad 1 tot 12 is gratis tydens die inperkingsmaatreëls wat miljoene kinders noodgedwonge tuis hou. Meer as 112 000 leerders maak tans daagliks gebruik van dié aanlyn leerplatform.

Die SOS fokus egter ook daarop om onderwysers te bemagtig en optimaal te ondersteun deur onderrig in die klaskamer te help integreer.

Leerderondersteuning

Die Covid-19-krisis het die SOS genoop om die Wolkskool tot 30 Junie vanjaar gratis vir leerders en onderwysers beskikbaar te stel.

Tans word die volgende vakke en grade aangebied of binnekort beskikbaar gestel:

Afrikaans Huistaal, besigheidstudies, EBW, Engels EAT, fisiese wetenskap, IGO, inligtingstegnologie, lewenswetenskap, natuurwetenskap, RTT, rekeningkunde, sosiale wetenskap, tegnologie, wiskunde en wiskundige geletterdheid. Alle inhoud vir graad 1 tot 3 is ook op die Wolkskool beskikbaar.

Daar is reeds sowat 4 000 lesse in Afrikaans in video-formaat deur professionele onderwysers geskep. Leerders kan die lesse in hul eie tyd, vanaf enige plek en teen hul eie pas, aanvullend tot skoolonderrig deurkyk. By elke les kry leerders die geleentheid om hul eie kennis te toets deur die toepaslike assesserings te doen. Uitslae word so gou moontlik beskikbaar gestel en hulle kan oor die onmiddellike uitslae nadink en die toets herhaal totdat hulle die kennis bemeester.

Aanvullend tot die lesse kan werkkaarte ook afgelaai word. Volledige werkboeke wat oor die vier kwartale strek, is ook gratis aflaaibaar. Dit bevat afdelings wat met die Wolkskoolinhoud gekoördineer is, bladsyverwysings na handboeke wat algemeen deur skole gebruik word, sowel as opdragte wat na video’s en assesserings verwys. Daar is ook verskeie oefeninge en memorandums beskikbaar.

Ouers ontvang tweeweekliks vorderingsverslae wat per e-pos aan hulle gestuur word. Gereelde blog-artikels met wenke vir ouers oor hoe om hul leerders te ondersteun, word gereeld hier gepubliseer.

Vir die onderwyser is hierdie ondersteunende funksie vir leerders en ouers baie belangrik omdat dit selfwerksaamheid by leerders bevorder. Daar is al hoe meer aanlyn kursusse wat buite die tradisionele residensiële tersiêre instansies gevolg kan word en leerders word met die Wolkskool aan die aard en unieke uitdagings van aanlyn leer blootgestel.

Dit bevorder ook deursigtigheid oor die leerproses by leerders sodat hulle uiteindelik lewenslange leerders kan word – dit is ʼn belangrike vaardigheid vir die 4IR. Die Wolkskool-inhoud word ook al hoe meer geposisioneer om die 21ste-eeuse vaardighede van kritiese denke, samewerking, kommunikasie en kreatiwiteit te help ontwikkel.

Onderwysers word ondersteun

(Foto: Verskaf)

Die Wolkskool bied funksionaliteit om algemene klaskameradministrasie moontlik te maak aan onderwysers. Onderwysers kan self registreer, klasse skep, leerders koppel, dokumente versprei, opdragte met keerdatums stuur, afgehandelde opdragte ontvang en met leerders kommunikeer.

Verdere voorbeelde van inhoud, wat aan leerders oorgedra kan word, is video’s, lesmateriaal, videokonferensieskakels en skakels na vraelyste.

Die Wolkskoolinhoud help leerders ook om die werk beter te verstaan. Wolkskool se video’s bied perspektief, ʼn vergelyking deur ander oë en ʼn hoek wat dalk aansluit by leerders met leerstyle waarby daar moeilik aansluiting gevind word. Daarby vind onderwysers wat van Wolkskoolvideo’s gebruik maak dat hulle nou meer tyd tot hul beskikking het om verrykend of remediërend te werk kan gaan.

In hierdie opsig bied die Wolkskool insig oor die aktiwiteit van leerders aan die onderwyser. Nie net kry onderwysers insae in die vordering ten opsigte van leeraktiwiteite en die vordering van individuele leerders nie, maar ook oor die klas in die geheel. Uitskieters kan dadelik geïdentifiseer word sodat die nodige ingryping spoedig kan plaasvind.

Opsommend lyk die Wolkskool se nuwe funksionaliteite vir onderwysers wat onlangs geïmplementeer is of binnekort geïmplementeer word, as volg:

  1. Onderwysers kan self aanlyn klasse skep en leerders daarmee koppel.
  2. Dis nou moontlik om meer as een onderwyser per klas te hê.
  3. Dis nou moontlik om afkondigings/boodskappe/dokumente aan leerders en ouers te stuur.
  4. Toegang tot verbeterde vorderingsverslae van leerders of klasse (binnekort).
  5. Toegang tot verbeterde assesseringsuitslae van leerders of klasse (binnekort).
  6. Onderwysers kan opdragte skeduleer en leerders kan dit elektronies indien.
  7. Kalenderitems soos toetse kan geskeduleer word (binnekort).

Onderwysers word gereeld deur e-posse en ʼn algemene inligtingsblad op hoogte gehou van die nuwe funksionaliteit en hoe om dit te gebruik.

Die Wolkskool doen tans navorsing om onderwysers te help om die kapasiteit wat deur aanlyn lesse ontsluit word, te gebruik om vaardighede wat vir die toekoms nodig is by leerders te ontwikkel. Wolkskoolinhoud word tans ingebou om momentum daaraan te gee, maar daar verskyn ook gereeld blog-artikels daaroor.

ʼn Handleiding vir onderwysers is in wording en ʼn navorsingsverslag oor toekomsgerigte onderrig sal aan die einde van Junie verskyn. As jy ʼn onderwyser is en jy wil deel word van die nuwe inisiatiewe, is hier ʼn uitstekende geleentheid deur ʼn vraelys oor toekomsgerigte leer te voltooi: http://bit.ly/dieperleer. Die SOS bied ook pedagogiese hulp aan onderwysers deur gereelde SACE geakkrediteerde webinare, seminare, werkswinkels en kongresse. Onderwysers kan ook aansluit by verskeie professionele vakverenigings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.