‘Wolkskool het alles soveel makliker gemaak’

Clive Righardt (Foto: Verskaf)

“Stap die ekstra myl. Glo in jouself en moet nooit wag op iemand om jou te voer met die nodige inligting nie.”

Dit was die wyse raad van Clive Righardt, ʼn 2020-matrikulant, wat nie toegelaat het dat die inperkings sy matriekjaar deurmekaarkrap nie. Hy was een van talle leerders wat verlede jaar by die Wolkskool aangesluit het en ekstra klasse hier geneem het om voort te gaan met skool in die afsonderingstyd.

Clive, ʼn voormalige leerder van Spandau Sekondêr in Graaff-Reinet, het met behulp van sy onderwysers en die Wolkskool sy gr.11-wiskundigegeletterdheidpunt van 60% verbeter. Hy het uiteindelik ʼn onderskeiding in dié vak te behaal in die matriekeindeksamen.

Hy sê hy het dit geniet om op sy eie te werk, maar dat die Wolkskool baie gehelp het. “Dit het alles soveel makliker vir my gemaak. Alles was mooi verduidelik aan ons en die hulp was so goed.”

Clive studeer vanjaar onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein.

Nog ʼn voornemende onderwyser is Johanné Bester. Sy wil graag haar kennis terugploeg in die gemeenskap en ander leerders inspireer om suksesvol te wees.

Johanné, ʼn oudleerder van die Hoërskool Erasmus, het onderskeidings behaal in Engels eerste addisionele taal, besigheidstudies en lewensoriëntering.

Sy vertel spottenderwys dat die inperking nie altyd sleg was nie: “Ek kon koffie en beskuit eet terwyl ek aanlyn leer.” Sy voeg by dat selfdissipline iets is wat haar baie gebaat het. Sy het, soos duisende ander matrikulante, die Wolkskool se regstreekse klasse in April 2020 bygewoon en het groot lof vir die inisiatief.

“Ek kan wiskunde uitsonder wat my veral gehelp het. Die somme en formules is op baie goeie maniere verduidelik en het my gehelp om dit beter te verstaan. In matriek is dit nodig om soveel moontlike ekstra werk te doen en ʼn ander persoon verduidelik dit soms beter.”

Leoné van Niekerk (Foto: Verskaf)

Leoné van Niekerk, ook ʼn oud-Rassie, spog met vyf onderskeidings en sê dit was lekker om tuis te kon bly en werk, maar dat dit terselfdertyd moeilik was omdat daar nie onderwysers naby was wat die werk verduidelik het nie. Hier het Wolkskool ʼn groot verskil gemaak omdat sy vooruit kon werk en hersiening doen teen haar eie pas. Leoné is opgewonde oor haar toekoms aan die NWU waar sy ingeskryf het vir BCom Kommunikasiebestuur, en moedig die klas van 2021 aan om uit die staanspoor hard te werk. Sy voeg by: “Jy kan niemand anders verantwoordelik hou vir jou punte nie.”

“WhatsApp, e-posse, aanlyn platforms, D6 en telefoonoproepe, asook video-oproepe.” Dit is hoe Marisha Hermann die verskeidenheid planne beskryf wat in haar matriekjaar by die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria gemaak is om leerders op datum te hou.

Marisha het ses onderskeidings behaal en het vanjaar ingeskryf vir Akademia se splinternuwe BA Kommunikasie en Joernalistiek-graad.

Sy sê ʼn platform soos die Wolkskool het gehelp om struktuur aan haar dag te gee en hersiening makliker gemaak. Die lang tydperk van aanlyn leer het wel ʼn emosionele tol geëis, maar sy sê die nuwe matriekgroep moet moed hou. “Alles gaan okei wees. En selfs as dit nie okei is nie, gaan dit okei wees. Byt vas. Ons weet nie waar deur julle gaan nie, maar ons weet julle gaan dit maak en uitstekend vaar. Bly in kontak met jou ondersteuningsnetwerk! Wees net geduldig met jouself.”

“Ek neem ʼn oorbruggingsjaar waar ek skaduwerk gaan doen om uit te vind wat ek volgende jaar wil studeer, en is betrokke by gemeenskapswerk. Ek wil graag ook reis, indien die pandemie dit toelaat.” Sό vertel Jana Basson wat aan die Hoërskool Stellenbosch matrikuleer het met niks minder as agt onderskeidings nie.

“Die Wolkskool het my veral gehelp om die video’s oor die gedigte vir die tale te kyk voor die eksamen as ʼn vinnige opsomming. Ek kon die video’s se spoed versnel, wat beteken het dat ek my tyd meer produktief kon gebruik. Ek sal dit 100% aanbeveel vir ander leerders. Dis toeganklik, en gee vir ʼn mens ʼn algehele goeie indruk van die werk.”

Nog ʼn uitblinker by die Hoërskool Stellenbosch is Jani Badenhorst. Met sewe A-simbole agter haar naam, beplan die slimkop om vir die volgende vier jaar musiek te studeer en hoop om eendag ʼn musiekonderwyser te word.

Sy sê die lang ure voor die rekenaarskerm terwyl die son heerlik buite skyn, was moeilik en sy het haar vriende gemis. “Die Wolkskool het gehelp om ʼn groter, gedetailleerde prentjie van die werk te vorm. Daar is verskeie hulpmiddele beskikbaar op die internet. Baie van hulle is gratis en goed saamgestel, maar min is Afrikaans. Die Wolkskool gee ook die versekering dat die inhoud saamgestel is deur ervare en opgeleide mense wat weet wat in die kurrikulum aangaan en hoe om jou voor te berei vir eksamens.”

Haar raad aan die matrieks van 2021: “Vertrou jou onderwysers. Hulle wil ook hê jy moet slaag en presteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.