Wolkskool op radio: Kleuterskoolonderwys, wat sê die reg?

vetkryte-inkleurboek-inkleur-kleuter-speel

Foto: Pixabay/Pexels.com

Marnelda de Beer, hoof van die Afrikaanse Grondslagfasevereniging (AGV) van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), het Donderdag gesê die departement van maatskaplike ontwikkeling het nog geen datum vir die heropening van kleuterskole verskaf nie.

Kleuterskole en dagsorgsentrums is sedert Maart gesluit nadat die algehele staat van afsondering in Suid-Afrika vir die bekamping van Covid-19 ingestel is. “Tot dusver is daar betrekklik min oor dié skole se opening gesê behalwe dat die departement aangedui het hy sal nou saam met die departement van basiese onderwys werk om hieroor te besluit,” het sy gesê.

Volgens De Beer het die AGV saam met die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) ʼn handleiding saamgestel vir kleuterskole om hulself gereed te maak vir wanneer die departemente die groen lig gee.

Sy verduidelik ook hoe jy jonger kinders (jonger as gr. R) besig kan hou tydens die inperkingstyd, en vra dat dié kinders spesifiek eerder fisieke aktiwiteite doen as om ʼn werksboekie by ʼn tafel te sit en voltooi.

De Beer het met MD Greyling van Pretoria FM hieroor gesels, asook wat ouers se verpligting is teenoor kleuterskole en wat die hoofde van dié skole se verpligting teenoor hulle werknemers, ouers en kinders is.

Die Wolkskool is ʼn produk van die Skoleondersteuningsentrum wat videolesse van hoë gehalte, assesserings en ondersteunende lesmateriaal in vakke soos wiskunde, wetenskap en Afrikaans as huistaal verskaf. Die SOS is ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn span onderwyskundiges wat die gehalte van Afrikaanse onderrig wil help verseker. Besoek Skole.co.za of die Wolkskool vir meer inligting hieroor.

Hierdie gesprekke is moontlike gemaak met ondersteuning uit die opleidingafdeling van die Solidariteit Beweging se krisisfonds.  Luister na ʼn podsending van hierdie gesprek boaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.