Word jou gr. 1’tjie vir sy beroep ontwikkel?

(Foto: Hung Nguyen Phi/Unsplash)

Deur Marnelda de Beer

Vandag se sakeleiers beweer dat daar ʼn tekort aan jongmense is met die nodige opleiding en vaardighede om sekere beroepe te vul. Teen 2030 gaan daar wêreldwyd na raming 1,8 miljard jongmense wees wat nie die vaardighede of kwalifikasies gaan hê wat nodig is om aan die arbeidsmag deel te neem nie. Namate die werksplek as gevolg van die Vierde Industriële Revolusie (4IR) verander, en veral met die opkoms van outomatisering en kunsmatige intelligensie, sal daar ʼn verskuiwing moet plaasvind in hoe jongmense met die toepaslike vaardighede en kennis toegerus word.

Vyf en sestig persent van leerders wat die laerskool betree, sal beroepe beoefen wat vandag nog nie bestaan nie. – Wêreld Ekonomiese Forum

“Preparing tomorrow’s workforce for the Fourth Industrial Revolution” is ʼn nuwe verslag van Deloitte Global en die Global Business Coalition for Education wat uitgereik is. In die verslag is ʼn raamwerk uiteengesit waarvolgens ondernemings ondersteun word om die toekoms van jeugvaardigheidsontwikkeling binne die wêreld van werk te ondersteun. Die verslag voer aan dat die gebrek aan voldoende opleiding van die volgende generasie werkers vir die digitaal-gedrewe ekonomie tot groter inkomste-ongelykheid, verhoogde werkloosheid, verhoogde staatsuitgawes en meer massamigrasies sal lei. Die doemprofete skep wel ʼn neerdrukkende blik op die toekoms, maar dit verskaf ook geleenthede vir ontwikkeling en entrepreneurskap.

Tydens hierdie 4IR benodig jongmense vier kernvaardighede om suksesvol in die werksplek te funksioneer. Een van die vier kategorieë is die ontwikkeling van sagte vaardighede, onder andere entrepreneurskap. Sagte vaardighede bied aan jongmense die vermoë om op ʼn hoë vlak in die werksplek te presteer. Sagte vaardighede kan reeds met sukses vanaf ʼn jong ouderdom ontwikkel word.

Die vraag is egter: “Hoe gaan ek my kind vir die toekoms voorberei in die Vierde Industriële Revolusie (4IR)?”

Kodering word ook soms rekenaarprogrammering genoem. Dit behels die kommunikasie tussen die mens en die rekenaar. Die kode vertel vir die rekenaar watter aksies om uit te voer. Kodering is dus ʼn stel instruksies wat in ʼn spesiale taal geskryf word. Hierdie instruksie word ʼn algoritme genoem. Mense gebruik hierdie programmering om webwerwe en toepassings (apps) te onwikkel, asook om data te prosesseer en robotte te laat beweeg. Algoritmes word in enige elektroniese toestel gebruik, van jou slimfoon tot by die rekenaarspeletjies wat jou kind speel. Kodering is een van die belangrike vaardighede wat enige jong leerder, vanaf graad een, sal help om sagte vaardighede sowel as ander kognitiewe vaardighede te ontwikkel.

Kodering ontwikkel sagte vaardighede soos:

  • Probleemoplossing– Die vermoë om ʼn probleem op te los, is gewoonlik ʼn eienskap wat in die lewe benodig word. Jy sal beslis wil hê dat jou kind ʼn nederige en slim probleemoplosser moet word. Deur te leer om te kodeer, sal beslis help met die kognitiewe ontwikkeling van jou kind.
  • Deursettingsvermoë– As kinders leer kodeer, ontwikkel hulle die vermoë om hul man ná moontlike mislukkings te staan. Hulle leer gaandeweg dat mislukkings immers nie ʼn slegte ding is nie. Eintlik is dit net een verdere stap na sukses. Dit is een van die belangrikste redes waarom kinders moet leer hoe om te kodeer, aangesien hulle die hele konsep van kodering vinniger as ʼn volwassene begryp. Hulle word hierdeur gelei om leer op ʼn meer doeltreffende manier te benut sodra hulle volwasse is en in die arbeidsmag staan.
  • Kreatiwiteit– Steve Jobs het per geleentheid gesê: “ʼn Rekenaar is ʼn fiets vir jou gedagtes.”

Deur te leer om te kodeer, leer hulle dat daar meer as een oplossing vir probleme is. Rekenaarprogrammering gaan nie net daaroor om hulle te leer hoe om ʼn reël met kodes te skryf nie, maar ook om hulle in ʼn situasie te plaas waar hulle hul kognitiewe denke moet uitdaag om ʼn logiese oplossing vir ʼn probleem te vind. Hulle sal leer hoe om ʼn groot probleem op ʼn effektiewe manier op te los. Kinders wat leer om te kodeer, gebruik die kreatiewe kant van hulle brein om idees in iets nuttig en effektief te omskep.

  • Kommunikasie– Leerders moet enige probleem wat hulle moet oplos aan ander leerders en die onderwyser kan verduidelik. Goeie kommunikasievermoë en woordeskat is nodig om die boodskap korrek oor te dra.
  • Samewerking– Dit leer leerders om oor die algemeen met ander leerders saam te werk asook om gesamentlik aan ʼn spesifieke projek te werk.
  • Kognitiewe denke– Leerders leer dat geleerdheid ʼn proses en nie ʼn produk is nie.

Hetsy jou kind oor 12 jaar die volgende programmeerder vir Apple of Samsung gaan wees of enige ander beroep gaan beoefen, sal hy of sy sagte vaardighede nodig hê om dit suksesvol te kan doen. Gee jou kind daardie voorsprong om baie belangrike vaardighede deur middel van spel en genot te ontwikkel.

Kyk na die webwerf vir verskeie gratis koderingsprogramme om jou kind ʼn voorsprong te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.