Raad vir parfuumliefhebbers

Foto ter illustrasie. (Foto: Laura Chouette/Unsplash)

Parfuum is altyd die laaste stap in jou skoonheidsroetine – hetsy jy ligter blomme- of vrugtenote vir die dag kies of swaarder note van jasmyn of amber vir ʼn spesiale aand uit.

Geraldine Augustine-Darwood, handelsmerk-en-produkbestuurder van die parfuumhandelsmerk Gold Series, sê dat parfuum aan soveel van ons sintuie gekoppel is.

“Parfuum kan jou gelukkig laat voel, dit kan jou herinner aan iemand spesiaal en twee geliefdes bymekaarbring, of dit kan jou laat voel asof jy die wêreld kan verower.”

Dit kan ʼn goedvoel-stimulant wees wat jou gemoedstoestand verbeter en jou selfvertroue ʼn hupstoot gee. Augustine-Darwood meen dat sitrusgebaseerde parfuum veral dít kan aanwakker.

Parfuum is egter meer as net ʼn mengsel van geurige essensiële olies en aromas.

Parfuum word gedefinieer deur sy bonote, hartnote en basisnote. Nadat parfuum aangespuit word, word die reuke vrygestel en die bonote kom uit. Hierna vervaag die reuk na die hartnote toe en eindelik kom die basisnote uit.

Bonote is gewoonlik fyner en hou nie so lank soos hart- en basisnote nie. Hartnote kan uit speserye, kruie- of blomnote bestaan, terwyl die basisnote amber-, muskus- of houtnote bevat wat gewoonlik langer hou.

Volgens Augustine-Darwood is dit beter om parfuum aan polspunte te spuit, aangesien parfuum deur liggaamshitte geaktiveer word. Dit kan die binnekant van jou pols, nek of agter jou oor wees.

“Jy moet egter nie jou polse teen mekaar vryf nie, want dit beskadig die molekules van die parfuum en verander die reuk daarvan.”

Vroue moet ook in gedagte hou dat elkeen se vel anders is. Dit het verskillende chemiese en PH-vlakke, daarom ruik dieselfde parfuum anders van persoon tot persoon.

Sy stel voor dat vroue ook nie meer as drie soorte parfuum gelyktydig toets nie. Die geure raak oorweldigend en later kan jou neus nie daartussen onderskei nie. Dis voordelig om koffiebone tussendeur te ruik sodat jou neus ʼn ruskans kry.

Vermy ook lyfroom wat ʼn ander reuk as jou parfuum bevat, sê Augustine-Darwood. Die reuke van jou parfuum en die room kan bots. Gebruik eerder ʼn lyfroom wat reukloos is, of dieselfde reuk bevat as jou parfuum. Hierdie lae sal verseker dat jy heeldag jou parfuum kan ruik.

Jou lyf kan egter uitgeput word wanneer jy heeltyd dieselfde parfuum gebruik, daarom voel dit soms asof die reuk verdwyn het. “As jy vir ʼn lang tydperk aan dieselfde reuk blootgestel word, kan dit ʼn rukkie neem voordat jou sensitiwiteit daarvoor terugkeer,” sê sy.

“Een manier om te voorkom dat jou lyf ‘moeg’ raak vir jou parfuum, is om dit af te wissel tussen twee of meer geure waarvan jy hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.