10 geleenthede wat jy nie dié Desember moet misloop nie

Desember is sonder twyfel die heerlikste maand van die jaar ─ die son skyn, die strandhanddoeke is agter uit die kas gehaal en die beste deel is dat daar ’n markstalletjie om te verken en ’n fees om te geniet om elke hoek en draai is. LekkeSlaap het tien van die bestes gekies wat jou Desember definitief nóg meer feestelik gaan maak.

  1. Spier Light Art Festival

Kom maak ’n draai by die Spier-wynlandgoed vir ’n aand van liggies en verwondering.

Dansende liggies by die Spier Light Art Festival. Foto: Spier Wine Farm.

Die Spier-wynlandgoed word jaarliks met ’n verskeidenheid kunswerke wat in lig en klank beklee is, verlig. Om dié fees van liggies weer dié jaar in die aand te beleef, sal die Kersfees-gevoel en die kind in jou aanwakker. Geniet ’n smaaklike ete by een van die restaurante voor jy die 21 liggie-uitstallings invaar.

Waar: Stellenbosch, Spier Wine Farm
Wanneer: 8 Desember 2019 – 19 Januarie 2020
Soek verblyf naby Spier Wine Estate

  1. Hot Afrihost Summer of Touch

Die strand en rugby kom vir dae se pret bymekaar ─ twee van ons gunsteling-aktiwiteite gedurende die Desembervakansie.

Pret op die sand by die Hot Afrihost Summer of Touch. Foto: Hot Afrihost Summer of Touch.

Touchies en ’n behoorlike Desembervakansie gaan hand aan hand en daarom kan jy gereed maak vir ’n opwindende reeks van agt touchie-wedstryde in verskeie dorpe wat oor die volgende drie weke versprei word. Kom neem aan die wedstryde deel, of moedig die spelers van die kantlyn af aan.

Waar: Kleinmond, Strand, Onrus, Struisbaai, Stilbaai, Diaz-strand en Hartenbos.
Wanneer: 7 Desember 2019 – 31 Desember 2019
Soek verblyf in: Kleinmond, Strand, Onrus, Struisbaai, Stilbaai, Diaz-strand en Hartenbos.

  1. Cape Town Carols at Kirstenbosch

“Stille nag, heilige nag …” Ons weet jy kon nie help om saam te sing nie!

Aande vol betowering by die Kirtsenbosch Botaniese Tuin. Foto: Cape Town Christmas Carols.

Kom skud jou Kersfees-vere reg en woon die Cape Town Carols at Kirstenbosch-aand by. Dié geleentheid word deur Kirstenbosch se Rotary Club aangebied en deur Pick n Pay geborg. Die botaniese tuin sorg vir ’n rustige omgewing en die musiek verseker vir ’n warm hart en ’n groot glimlag! Piekniekmandjies kan by die geleentheid gekoop word, maar jy moet jou eie stoel en kombers saambring, sodat jy die aand lekker vers vir vers saam kan sing.

Waar: Kaapstad, Kirstenbosch Botaniese Tuin
Wanneer: 12, 13, 14, 15 Desember 2019
Verblyf naby: Kirstenbosch Botaniese Tuin.

  1. Die Fort Food Truck Market

Is jy mal oor lekker kos? Dan is die Fort Food Truck Market net die plek vir jou dié vakansie!

Pret tussen kosstalletjies. Foto: Fort Food Market.

Kom stap tussen die stalletjies by die Fort Food Truck Market rond en proe van Kaapstad se heerlikste eetgoed. Daar is iets vir elke gesinslid ─ van musiek-optredes en vermaak vir die kinders, tot tonneltoere. Én moenie vir Wagter by die huis los nie, want honde is ook by dié fees van kos en musiek welkom.

Waar: Kaapstad, Groenpunt
Wanneer: 20 Desember 2019
Soek verblyf in: Groenpunt

  1. J-Bay Rocks

Dié fees spog met kunstenaars soos Theuns Jordaan, Elvis Blue, Van Pletzen, Jeremy Loops, Francois van Coke en soveel meer!

Foto: J-Bay rocks. 

J-Bay Rocks keer hierdie Desember terug na Jeffreysbaai met top-SA-kunstenaars wat daagliks die voete sal laat jeuk! Die fees is bekend vir ’n groot partytjie en sorg jaar na jaar vir ’n witwarm samekoms.

Waar: Jeffreysbaai
Wanneer: 21 Desember 2019 – 31 Desember 2019
Soek verblyf in: Jeffreysbaai

  1. Liggiefees@Potch

Kunstenaars soos Elandré, Riana Nel, Spoegwolf, Snotkop en meer gaan hierdie jaar by dié fees optree.

Wat ’n fees inderdaad. Foto: Aldus Smith Photography.

Die Abraham Kriel & Youth Care Centre in Potchefstroom spog vir die vyfde jaar met ’n fees so reg uit ’n feëverhaal ─ die Liggiefees@Potch! Dit is die organisasie se vlagskip-fondsinsamelingsgeleentheid wat gemaak is om jou te prikkel. Duisende liggies betower duisende besoekers tydens dié maandlange uitstalling. Hiér word vermaak vir die kinders gereël sodat jy lekker kan rondloop, die liggies bekyk, iets heerlik kry om te eet en die optredes kan geniet

Waar: Potchefstroom
Wanneer: 29 November – 31 Desember 2019
Soek verblyf in: Potchefstroom

  1. Innikloof Musiekfees

Die Innikloof Musiekfees is ’n eg Suid-Afrikaanse fees.

Foto: Innikloof Musiekfees.

Met kunstenaars soos Martin Bester, Bok van Blerk, Adam Tas, Pieter Koen, Fat Man en meer kan jy maar weet: Die Innikloof Musiekfees gaan pret wees! Kom teug aan ’n yskoue bier in die biertent, smul aan heerlike stalletjie-eetgoed, of gooi sommer jou eie vleisie oor die kole! Musiek, die buitelug en ’n braaivleisvuur ─ ons kan nie aan ’n beter manier dink om dié Desember deur te bring nie.

Waar: Swadini, A Forever Resort
Wanneer: 20 Desember 2019 – 31 Desember 2019
Verblyf by: Swadini, A Forever Resort

  1. Super Sokkie

Gooi die meel, trek jou skoene uit en maak daai litte los ─ dis tyd vir ’n sokkie-skouspel!

Foto: Carnival City.

Super Sokkie is nét die plek om te wees as jou voete vir ’n plesierige danspartytjie jeuk. Kunstenaars soos Kurt Darren, Karlien van Jaarsveld, Dirk van der Westhuizen, Juan Boucher en Die Campbells staan gereed om saam met jou die Nuwe Jaar in te wals.

Waar: Johannesburg, Carnival City
Wanneer: 31 Desember 2019
Soek verblyf: naby Carnival City

  1. Dans van die Vlamme

Ja, jy het reg gelees! Dié fees is letterlik en figuurlik aan die brand!

Vuurdansers dans die aand aan die brand. Foto: Afrikaanse Taalmonument. 

Dans van die Vlamme word by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl aangebied en is ’n geleentheid waar Psychedelic Theatre gaste met vuurdansers en vlammende voorwerpe sal verstom. Dit is beslis ’n unieke geleentheid wat jy nie kan misloop nie! Jy kan jou eie drankies en piekniekmandjies saambring, of voor die tyd iets by die koffiewinkel bestel.

Waar: Paarl, Afrikaanse Taalmonument
Wanneer: 28 Desember 2019
Soek verblyf in: Die Paarl

  1. Rotary Knysna SPLASH

Doen jou deel vir liefdadigheid, word fikser en wen pryse dié Desember.

Foto: Dennis Jarvis op Flickr

Knysna se Rotary Club is dié jaar terug met die Rotary Knysna SPLASH-fees wat ’n prettige uitstappie vir die hele gesin bied. Behalwe dat jy en die jongspan aan die swemkompetisie kan deelneem en die Yellow Duck-resies kan geniet, kan jy ook minderbevoorregtes help ─ alle opbrengste van die inskrywingsgeld word aan plaaslike liefdadigheidsorganisasies geskenk.

Waar: Knysna
Wanneer: 28 Desember 2019
Verblyf in: Knysna

Waarvoor wag jy? Kry die gesin bymekaar en woon dié tien opwindende gebeure die Desember by.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Lisa Slippers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.