10 prettige idees vir die langpad

Hou die kinders gelukkig op die langpad hierdie Desember. (Foto: iStock)

“Hoe ver is dit no-o-o-og?” Hoor jy gereeld dié refrein as julle langpad ry? En dikwels begin dit skaars nadat die enjin aangeskakel is. Hier is ’n paar kreatiewe idees om die jongspan in die motor besig te hou – sonder ’n tabletrekenaar of draagbare DVD-speler!

Karkrieket: Hierdie speletjie is ’n ou gunsteling – en dit is sommer ’n goeie manier om hoofrekene in die vakansie te oefen! Die passasiers maak beurte om te kolf. Vir elke voertuig wat verbykom, kan jy tydens jou kolfbeurt lopies aanteken.

  • ’n motor = 1 lopie
  • ’n bakkie = 2 lopies
  • ’n vragmotor = 3 lopies
  • ’n voertuig wat ’n woonwa sleep = 4 lopies
  • ’n sportmotor met ’n afslaankap = 6 lopies

* enige rooi voertuig = uitgeboul

Die eerste speler wat 120 lopies aanteken, is die wenner. (As die pad baie besig is, pas die reëls aan sodat slegs sekere kleure voertuie punte verdien.)

Alfabetspeletjie: Soek dinge langs die pad wat met opeenvolgende letters van die alfabet begin. Elkeen wat iets raaksien, kry ’n punt. Iemand kan byvoorbeeld met “appelboom” vir die letter “a” begin, en dan moet die spelers kyk wie eerste iets kan raaksien wat met ’n “b” begin. (Om dit makliker te maak, kan julle ook motors se registrasienommers laat tel – veral vir moeiliker letters soos “c”, “q”, “x” en “z”.) Die speler met die meeste punte, is die wenner.

Skattejag: Maak ’n rooster met verskillende bakens of dinge wat julle moontlik langs die pad kan sien, byvoorbeeld “windpomp”, “perd”, “padstal” of “woonwa”. Laat die kinders saamspan om die items te soek en af te merk. Sodra hulle alles afgemerk het, kry hulle ’n prys.

’n Bottel vol vrae: Dié speletjie is ’n fantastiese manier om almal aan die gesels te kry – en met ’n bietjie oorreding sal selfs die knorrige tiener(s) in die motor saamspeel. Skryf ’n klomp verskillende vrae op stukkies papier neer, en laat elkeen ’n beurt kry om een uit ’n botteltjie te trek. Jy moet die vraag beantwoord wat jy trek. Voorbeelde van vrae:

  • Waar sal jy volgende Desember graag wil vakansie hou?
  • Wat is die lekkerste boek wat jy dié jaar gelees het?
  • Watter superkrag sou jy graag wou hê, en hoekom?
  • As jy op een van die dorpe moet gaan woon waardeur ons op vandag ry, watter een sal jy kies?

Verrassingspakkie: Maak ’n verrassingspakkie met peuselhappies en verskillende speelgoedjies of aktiwiteitsblaaie vir elke dorp op julle roete. As jy genoeg tyd het, kan jy byvoorbeeld interessante feite of ’n vasvra oor elke dorp of streek insluit.

Kies ’n liedjie: Stel ’n speellys met almal se gunstelingliedjies saam. Laat almal beurte maak om ’n nommer te kies, en luister dan saam na daardie snit (byvoorbeeld snit nommer 15) op die lys.

Grapjas: Pak ’n paar grappieboeke of boeke vol snaakse rympies in. Laat almal (behalwe natuurlik die bestuurder!) ’n beurt kry om ’n grappie of rympie te kies en hardop voor te lees.

‘n Voëlgids en luisterboeke kan ook help om die pad korter te maak. (Foto: iStock)

Voëlgids: Hou ’n goeie voëlgids byderhand en laat die kinders kyk hoeveel voëlspesies hulle langs die pad kan identifiseer.

Luisterboeke: Laai ’n oudioboek deur een van jou kinders se gunstelingskrywers af en laat hulle in die motor daarna luister. Dit is nie net groot pret nie, maar help sommer ook om hulle luistervaardighede op te skerp. (En Ma en Pa gaan beslis net so lekker saamluister.)

Fotojoernaal: As die kinders groot genoeg is om ’n selfoon of kamera te gebruik, laat hulle foto’s neem van dinge wat hulle langs die pad of by stilhouplekke op jul roete sien. Elkeen moet aan die einde van die reis 10 van hul gunstelingfoto’s kies, wat julle dan almal laat uitdruk en in ’n spesiale vakansieplakboek sit, of wat julle as deel van jul vakansieherinneringe in ’n album op sosiale media kan deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.