10 skitterende swembaddens vir die somer

Die somer is hier en dit beteken dis weer tyd vir swem, sonbaai, stap op die strand en smul aan draairoomys. Of jy nou Desember koers kies na die kus, of selfs die bosveld se hitte aandurf — dié vakansie gaan dit tien teen een weer só lekker warm wees dat die kraaie behoorlik gaap! Daarom het LekkeSlaap ’n paar bobaas-blyplekke opgespoor met skitterende swembaddens waar jy dié snikhete somer alte lekker kan afkoel.

1. Khaya Ndlovu Manor House – Limpopo

Khaya Ndlovu Manor House Foto: Lekkeslaap

Khaya Ndlovu Manor House net buite Hoedspruit in die Laeveld spog met ’n pragtige swembad wat uitkyk oor die beboste bewarea en ’n watergat waar wild gereeld hul dors kom les. Dis die perfekte plek as jy in weelde wil ontspan en met luukshede bederf wil word. Voor jy nog jou tas uitgepak het, sal jy al jou skoene uitskop en in dié helderblou swembad plons!

Khaya Ndlovu Manor House Foto: Lekkeslaap

Slaapplek: 18 gaste in luukse suites.
Geriewe: ’n Restaurant en kroeg, spa-behandelings, braaiplek en pieknieks op versoek.
Doendinge: Begeleide wildritte en voetslaanroetes, perdry, voëlkyk en helikoptervlugte na die Blyderivierskloof.

2. Days At Sea Beach Lodge – KwaZulu-Natalse Suidkus

Days at Sea Beach Lodge Foto: Lekkeslaap

Verbeel jou jy ontspan in dié skitterblou swembad met ’n skemerkelkie in die hand terwyl die son se laaste strale die lug pienk verf — dít klink nou mos idillies! Days At Sea Beach Lodge is ’n luukse lodge in ’n welige tropiese tuin aan KwaZulu-Natal se Suidkus waar dit skoon voel asof ’n mens in die paradys bly. Die see-uitsigte sal jou heeltemal sprakeloos laat en die moderne, byderwetse afwerkings sal jou asem wegslaan!

Days at Sea Beach Lodge Foto: Lekkeslaap

Slaapplek: 4 suites met slaapplek vir 2 gaste in elk en ’n strandvilla met slaapplek vir 4 gaste.
Geriewe: ’n Restaurant, ’n kroeg, en wynkelder, spa-behandelings en toegang tot ’n privaat strand.
Doendinge in die omgewing: Gholf, skubaduik, tennis, dolfyn- en walviskyk, diepsee-hengel, fietsry en staproetes.

3. De Zeekoe Guest Farm – Oudtshoorn

De Zeekoe Guest Farm Foto: Lekkeslaap

Mik jy dié Desember vir die Grootvoëlparadys? Dan moet jy langs dié swembad by De Zeekoe Guest Farm kom uitspan! Hierdie plaas word omring deur die Swartberge en die Outeniekwaberge en die uitsigte sal jou behoorlik bekoor. Maak tog seker jy pak jou sonbrandroom in en slaan die sambrele op, want die Klein-Karoo se son is fel en julle sal vir ure op die grasperk langs dié swembad wil kuier.

De Zeekoe Guest Farm Foto: Lekkeslaap

Slaapplek: 28 eenhede met slaapplek vir 60 gaste.
Geriewe: ’n Restaurant met vars plaasprodukte en vleis, ’n kroeg, spa-behandelings en ’n kinderoppasser op versoek.
Doendinge: Visvang (bring jou eie toerusting), voetslaan, voëlkyk, kanovaart en sterrekyk.

4. Kariega Game Reserve, Ukhozi Lodge – Kenton-on-Sea

Kariega Game Reserve Foto: Lekkeslaap

Dié kamma-rotspoel by Kariega Game Reserve se Ukhozi Lodge is mos nét die plek om lafenis te kom soek as die Oos-Kaap se hitte jou begin ore aansit. Dié poel bied panoramiese uitsigte op die heuwels en die dramatiese valleie van die 1000 hektaar-wildreservaat. Jy kan bedags wildkyk en die reservaat verken en daarna op die sonstoele ontspan — dít klink mos nou na ’n blink plan!

Kariega Game Reserve Foto: Lekkeslaap

Slaapplek: 10 luukse hout-suites met slaapplek vir altesaam 20 gaste.
Geriewe: ’n Restaurant, boma-kuierplek, skoonheidskliniek met spa-behandelings, gimnasium en ’n privaat uitkykdek.
Doendinge: Begeleide wildritte, kunsvlieghengel, voetslaan en voëlkyk.

5. Kagga Kamma Nature Reserve – Citrusdal

Kagga Kamma Natuurreservaat Foto: Lekkeslaap

By die Kagga Kamma Natuurreservaat naby Citrusdal in die Sederberge skuil daar ’n pragtige swembad omring deur skouspelagtige rotsformasies. Bespreek een van hulle grot-suites of grasdakhuisies as jy ook langs dié merkwaardige swemplek wil sonbaai en saans die Melkweg in al sy glinsterende glorie wil bewonder.

Kagga Kamma Natuurreservaat Foto: Lekkeslaap

Slaapplek: Grot-suites en ’n grasdakhuis met slaapplek vir altesaam 30 gaste.
Geriewe: ’n Restaurant en kroeg, konferensiegeriewe, spa-behandelings en ’n kinderoppasser op versoek.
Doendinge: Begeleide voetslaanroetes en bergfietsroetes.

6. Canelands Beach Club & Spa – KwaZulu-Natal se Noordkus

Canelands Beach Club & Spa Foto: Lekkeslaap

By Canelands Beach Club & Spa in Salt Rock aan KwaZulu-Natal se Noordkus kan jy jou lyf Chad le Clos hou en ’n paar lengtes in die ellelange swembad swem. Jy hoef darem nie nét te oefen nie, want dié praghuis spog ook met ’n spa waar jy behoorlik gepamperlang kan word.

Canelands Beach Club & Spa Foto: Lekkeslaap

Slaapplek: 10 luukse suites met slaapplek vir altesaam 20 gaste.
Geriewe: ’n Restaurant en kroeg, konferensiegeriewe, spa-behandelings en ’n gemeenskaplike sitkamer.
Doendinge: Visvang, mikrovliegtuigvlugte en perdry op die strand.

7. Leshiba Wilderness – Limpopo

Leshiba Wilderness Foto: Lekkeslaap

In die skouspelagtige Soutpansberge in Limpopo is daar ’n lodge wat al jou wildste wildkyk-drome sal laat waar word! Leshiba Wilderness bied spoggerige selfsorgverblyf op ’n privaat wildreservaat en die blou-blou swembad sal siel én liggaam verkwik. Jy sal ure en ure in hierdie swembad kan deurbring terwyl jy oor die bosveld tuur en miskien is jy selfs gelukkig om van hier af ’n eland of ’n koedoe te gewaar!

Leshiba Wilderness Foto: Lekkeslaap

Slaapplek: Chalets en ’n rondawelkamp met slaapplek vir altesaam 37 gaste.
Geriewe: ’n Gemeenskaplike sitkamer, ’n houtdek, masserings op versoek, kombuisgeriewe en braaiplek.
Doendinge: Wildritte, wildkykstaptogte, bergfietsry, perdry vir gesoute ruiters en rotskuns-ekspedisies vir avonturiers.

8. Rhino Ridge Safari Lodge – KwaZulu-Natal

Rhino Ridge Safari Lodge Foto: Lekkeslaap

Soek jy ’n safari-ervaring soos min? Laai dan die tasse in die motor en kom pak hier by Rhino Ridge Safari Lodge in KwaZulu-Natal af. Hierdie moderne lodge lê hoog teen ’n beboste randjie en spog met ’n randvloeiswembad met luisterryke uitsigte oor die immergroen bos. Hiér kan jy heeldag luilekker in die sonnetjie lê en bak en elke nou en dan in die pragtige swembad afkoel voor jy teen sononder op ’n wildkyk-avontuur gaan!

Rhino Ridge Safari Lodge Foto: Lekkeslaap

Slaapplek: Verskillende bos-villas met slaapplek vir altesaam 44 gaste.
Geriewe: ’n Restaurant en kroeg, houtdek, spa-behandelings en konferensiegeriewe.
Doendinge: Begeleide wildritte en voetslaanroetes, wildkyk en voëlkyk.

9. Mount High Luxury Country Lodge – Mpumalanga

Mount High Luxury Country Lodge Foto: Lekkeslaap

Net buite Lydenburg in Mpumalanga se berge lê daar ’n swembad wat jou sommer dadelik nader nooi! Mount High Luxury Country Lodge is die perfekte plek vir ’n salige wegbreek en dis veral die sonsondergang in dié geweste wat jou asem sal wegslaan. Skink vir jou ’n glasie wyn en ontspan in dié prag-swembad!

Mount High Luxury Country Lodge Foto: Lekkeslaap

Slaapplek: 6 slaapkamers met slaapplek vir altesaam 14 gaste.
Geriewe: ’n Kroeg, braaiplek, houtdek en ’n privaat sjef.
Doendinge: Bergfietsry, wildkyk, voëlkyk en visvang.

10. Zwahili Game Lodge – Limpopo

Zwahili Game Lodge Foto: Lekkeslaap

Net twee uur se ry vanaf Johannesburg wag ’n bloublink swembad en verruklike uitsigte nét vir jou! Zwahili Game Lodge lê aan die voet van die Waterberge en beloof eksklusiewe, rustige bosveldverblyf vir moeë stadsjapies. Ontdek die diep klowe, oeroue rotskuns, helder strome en golwende grasvelde van hierdie besonderse gebied en plons daarna in hierdie aanloklike swembad!

Zwahili Game Lodge Foto: Lekkeslaap

Slaapplek: Verskillende kamers en suites met slaapplek vir altesaam 20 gaste.
Geriewe: ’n Restaurant en kroeg, konferensiegeriewe, spa-behandelings en ’n houtdek.
Doendinge: Wildritte, wildkyk, voetslaan en voëlkyk by die nabygeleë Nylsvlei-voëlpark.

Is jy nou lus vir die somer? Kliek, bespreek, trek jou swemklere aan en duik in!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Daleen Venter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.