11 romantiese wegbreke in die berge

(Champagne Haven. Foto: LekkeSlaap)

’n Romantiese wegbreek in die berge omring deur vars lug en onvergeetlike natuurskoon kan wonders vir enige verhouding verrig en ons dink dis tyd dat jy en jou geliefde na die berge ontsnap!

LekkeSlaap het na elf afgeleë plekke in die berge reg oor die land gaan kyk waar julle vir ’n wyle van die stad se geraas kan ontsnap en net op mekaar kan fokus.

Cederkloof Botanical Retreat, Wes-Kaap

(Cederkloof Botanical Retreat. Foto: LekkeSlaap)

’n Wegbreek op dié rooibosplaas naby Citrusdal sal enige paartjie verfris laat voel. Elke privaat kothuis het ’n Jacuzzi op die stoep vanwaar julle die uitsig op die indrukwekkende berge en oor die inheemse fynbos kan geniet. Verken die berge se eienaardige rotsformasies op die vier kilometer lange roete, gooi ’n vleisie oor die kole en geniet saans die sterreprag!

Wolwekrans Eco Lodge, Mpumalanga

(Wolwekrans Eco Lodge. Foto: LekkeSlaap)

Elke chalet by dié eko-lodge spog met ’n uitsig oor die Laeveldvallei en op die Schoemansberge. Die privaat piekniekplekke op die perseel dra ook by tot ’n romantiese atmosfeer en julle kan die talle staproetes saam aanpak. Wild loop vrylik by Wolwekrans rond en dis ’n fantastiese voëlkykbestemming met arende, valke en kleiner eksotiese voëls! Die selfsorg-chalets is omgewingsvriendelik, so julle kan behoorlik van die stad vergeet.

Dumbe Cottages, KwaZulu-Natal

(Dumbe Cottages. Foto: LekkeSlaap)

As julle op soek is na verblyf met ’n ongeëwenaarde uitsig op die Drakensberge is Dumbe Cottages naby Harrismith nét die plek vir julle. Elke kothuis is luuks ingerig vir ’n romantiese wegbreek en selfs die hoekbad bied ’n uitsig op die berge! Julle kan lekker op die sondek ontspan en ’n skemerkelkie of twee geniet.

Opstal Stay, Wes-Kaap

(Opstal Stay. Foto: LekkeSlaap)

Sowat een uur se ry vanaf Kaapstad, tussen die Bolandse berge naby Rawsonville skuil Opstal Stay. Elke moderne eenheid het sy eie houtvuurwarmbad en ’n braai-area buite en julle kan die asemrowende uitsig oor die wingerd en fynbos en op die berge van die stoep af geniet. Daar is ook ’n restaurant op die perseel wat heerlike maaltye, pizza en wyn bedien.

SANParks Highlands Mountain Retreat, Vrystaat

(SANParks Highlands Mountain Retreat. Foto: LekkeSlaap)

Dié unieke verblyf is ideaal vir diegene wat op soek is na ’n afgeleë ligging in die berge. Die houthuisies is hoog in die berge geleë en het ’n asemrowende uitsig op die omliggende Malutiberge. Bring ’n romantiese aand langs die kaggel deur en verken bedags die pragtige omgewing.

Arcadia, Vrystaat

(Arcadia. Foto: LekkeSlaap)

Dié huis is op ’n sandsteenheuwel op ’n plaas geleë en het ’n uitsig op die Rooiberge. Die huis is ekovriendelik en maak nie van elektrisiteit gebruik nie, so dis ideaal as julle heeltemal wil afskakel en die eenvoudige dinge in die lewe wil geniet. Gaste ontvang komplimentêre sjerrie, tuisgebakte beskuit en dertig plaaseiers met aankoms.

Wolwehoek Private Reserve, Wes-Kaap

(Wolwehoek Private Reserve. Foto: LekkeSlaap)

Dié luukse tent-eenheid is diep in die berge in ’n afgeleë vallei naby Montagu geleë. Die tent het al die nodige geriewe en selfs ’n pootjiesbad wat ’n uitsig oor die pragtige vallei bied! Daar is ook ’n buitebraai, pizza-oond, buitesitkamer en ’n houtvuur-warmbad waar julle ure kan deurbring.

Gwahumbe Game & Spa, KwaZulu-Natal

(Gwahumbe Game & Spa. Foto: LekkeSlaap)

Bederf jou geliefde met ’n welverdiende wegbreek na die Natalse Middellande. Dié wildsplaas tussen die berge bied ’n bederf-ervaring met ’n eksklusiewe spa op die perseel en ongelooflike natuurskoon wat julle ontspanne sal laat voel. Daar is luukse eenhede en ’n ongekunstelde boskamp waarvan julle kan kies en maaltye word by van die verblyf-opsies ingesluit.

Kagga Kamma Nature Reserve, Wes-Kaap

(Kagga Kamma Nature Reserve. Foto: LekkeSlaap)

Dié gewilde vierster-lodge in die Sederberg bied grot-suites wat met die natuurlike sandsteenformasies saamsmelt. Elke suite het ’n stoepie vanwaar julle die manjifieke uitsig kan aanskou. Daar is talle doendinge vir avonturiers op die perseel, so julle sal nie vir ’n oomblik verveeld wees nie. Rotskunstoere, vierwiel-safari’s en skemerkelkietoere kan vir ’n buitengewone ervaring bespreek word.

Mackaya Bella Country Lodge, KwaZulu-Natal

(Mackaya Bella Country Lodge. Foto: LekkeSlaap)

Wil julle in die hoogste bergreeks in Suid-Afrika gaan bly? Dan is Mackaya Bella Country Lodge in die uKhahlamba-Drakensberg Park nét die plek vir julle! Die lodge skuil aan die voet van die bergreeks en bied ’n uitsig op Cathkin-piek, Champagne Castle, Monks Cowl en Dragon Peaks. Die kliprondawels is gerieflik ingerig vir ’n onvergeetlike wegbreek in dié wonderskone omgewing.

Cedarpeak Mountain Cottages, Wes-Kaap

(Cedarpeak Mountain Cottages. Foto: LekkeSlaap)

Dié gasteplaas in die Sederberg bied gerieflike verblyf aan paartjies wat lief is vir buitelugdoendinge. Die kothuise is afgeleë vir privaatheid en bied pragtige uitsigte. Die plaas bied toegang tot een van die grootste privaat wildernisareas in die Wes-Kaap waar gaste kan gaan voetslaan en in die rotspoele swem.

Laai solank die voertuig en mik na die berge waar jy en jou maat kosbare tyd saam kan deurbring!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Daniëlle Terblanche.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.