50 jaar later: Nuwe opskudding oor Tulbagh se aardbewing

Yellow Wood House

Toe Oom Koos dáái namiddag terugstap huis toe en sy hond hom nie soos gewoonlik al ’n entjie in die pad af kom haal nie, het hy geweet iets is nie pluis nie. Dié iets sou toe in die mees vernietigende aardbewing wat Suid-Afrika al getref het ontaard en het Tulbagh letterlik en figuurlik op sy knieë gehad. Nou, 50 jaar later, vier die Tulbagh-gemeenskap die herdenking van dié skrikwekkende gebeurtenis en jy word uitgenooi om saam met die gemeenskap die herinneringe op te haal.

Die aardbewing

Vroeër die middag, op 29 September 1969, was daar reeds ’n effense trilling in die aarde, asof Moeder Natuur die inwoners ’n waarskuwing wou gee van wat sou volg. Hulle sê mos diere weet dinge voor ons mense dit weet, en dit is presies wat met Oom Koos gebeur het toe sy hond hom nie oudergewoonte daardie middag tegemoet hardloop nie. Hy’t maar gedink die hond het iets snaaks geëet, met sy roetine voortgegaan en daardie aand vroeg in die bed geklim. Net ná 22:00 het die aarde begin bewe, huise het in mekaar getuimel en die mense het begin bid. Oom Koos het na buite gehardloop, nie honderd persent seker wat aan die gebeur is nie, maar toe hy die brandende berg sien, was dit vir hom duidelik ─ die oordeelsdag het aangebreek!

Oude Kerk Museum (Wikimedia Commons)

Natuurlik was dit toe nie die oordeelsdag nie, maar ’n aardbewing van 6,3 op die Richterskaal ─ die grootste een wat Suid-Afrika nog ooit beleef het! Volgens bronne het die aardbewing van vyftien sekondes twaalf mense se lewens geëis en is die bewing tot so ver as Zimbabwe gevoel! Krake het in die paaie verskyn, pype het gebars en die vonke van vallende rotse het tot groot brande gelei wat die berge verwoes het. Toe die stof gaan lê, is die meeste van die vallei se inwoners met niks behalwe die klere aan hulle lywe agtergelaat nie. Die dorp is in puin gelê en geliefdes is aan die dood afgestaan, maar hoe groot die skade ook al was, die hulp wat ingestroom het om die dorp te herbou was groter. ’n Begroting van R20 000 000 in hedendaagse geldwaarde is vir Kerkstraat se restourasiewerk beskikbaar gestel. Net een van die 28 geboue in die straat was heeltemal onherstelbaar, ’n paar het hulle oorspronklike karakter verloor, maar 25 kon tot hulle eertydse glorie herstel word. Mense van reg oor die land het gehelp om die dorp weer op die been te bring en daar word gesê dat die opknappingsprojek een van die grootste nóg in die land was.

Die fees

Vir die aardbewing se vyftigste herdenking span die hele gemeenskap weer saam. Tulbagh se museum en toerismeburo gaan ’n naweek lange fees vanaf 27 tot 29 September hou, waar plaaslike inwoners se talente gevier gaan word en stories oor hoe hulle die aardbewing beleef het vertel gaan word. Al wat leef en beef gaan in Tulbagh wees en jy moet seker maak jy loop dit nie mis nie.

Die fees skop Vrydag af met die Earthquake 50 Klassieke Musiekkonsert by die Oude Kerk Museum in Kerkstraat. Die toegangsfooie wat hiér ingesamel word, sal vir die restourasie van die Sendingkerk aangewend word. Daarna kan besoekers by verskillende kunsgalerye, die stadsaal en die Sendingkerk inloer vir kunsuitstallings, boekbekendstellings en musiekkonserte. Saterdagmiddag moet jy beslis by die Sendingkerk ’n draai maak, want die plaaslike inwoners gaan by die Stoepstories-geleentheid van hulle aardbewing-ervarings vertel ─ en alhoewel die aardbewing groot hartseer veroorsaak het, het dit ook vir ’n paar staaltjies gesorg wat jou maagspiere behoorlik lam sal laat!

Sendingkerk (Wikimedia Commons)

Klop by The Tulbagh Boutique Heritage Hotel aan vir ’n verfrissende Monks-ginproesessie waar jy smake soos sitrus, bessies en boegoe sal proe. Wandel oor die straat na M.I.T (Made in Tulbagh) waar jy plaaslike produkte, soos serpe en mussies, leerhandsakke en -beursies, en konfyte kan koop. Die deli in die winkel verkoop ook kaas, wyn en internasionale produkte. Saterdagmiddag gaan die Bush Pub in rep en roer wees wanneer die Earthshakes Musiekfees om 14:00 afskop. Uitstekende kunstenaars van die Witzenbergvallei gaan tot laat musiek maak en dan neem die Reggae-groepe, Denve Jacobs & The Rockstone Band en Colorfields oor ─ hulle sal sorg dat jou voete behoorlik jeuk!

Ouers met kinders moet by Duikersdrift ’n draai gaan maak ─ behalwe vir die Parkrun met sy 60’s-tema wat vir groot vermaak gaan sorg, is daar ook prettige aktiwiteite vir kinders, braaivleisvure, piekniek-geleenthede en maaltye met ’n 60’s-tema wat saam met lewendige musiek by die Obiqua-restaurant geniet kan word.

Links: Monbijou, Regs: Kerkstraat 24, 42 en 10 (Wikimedia Commons)

As jy ’n geskiedenis-foendi is, moet jy ook Monbijou in Kerkstraat besoek. Dis die enigste huis in die straat wat die aardbewing oorleef het en is in 1953 tot nasionale monument verklaar. Maak seker jy kom hiér verby om die gedenkuitstalling van hoe mense in die 60’s en 70’s gelewe het te sien. Die uitstalling spog met 50 artefakte, insluitend ’n staanhorlosie wat 22:04 gaan staan het, nét toe die aardbewing deur die vallei begin rammel. Verder spog Tulbagh met oorgenoeg wynplase waar gaste wyn en peuselhappies kan proe, plaaslike produkte kan koop, en saam met lewendige musiek kan sing.

Die verblyf

Die naweek se propvol program vereis eintlik dat jy die hele naweek in die skilderagtige dorpie kuier. Gelukkig het LekkeSlaap.co.za talle verblyfopsies in dié kontrei, sodat jy nie onmiddellik terug huis toe hoef te ry nie. Van sakpas-selfsorgopsies tot luukse blyplekke waar jou ontbyt ingesluit is, kliek hiér om al die lekke opsies te sien:

Kloksgewys vanaf links bo: Yellow Wood House, Victorian House, The Tulbagh Boutique Heritage Hotel, De Oude Herberg

Én as jy nie die naweek van die fees in Tulbagh kan uitkom nie, maar jy wil graag in die prentjiemooi vallei kom kuier en meer oor die aardbewing leer, kan jy jou blyplek hiér bespreek en enige tyd by die Oude Kerk Museum in Kerkstraat gaan inloer. Dié kerk is deel van die museum en een van die min geboue wat die aardbewing die hoof gebied het.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Nanje Lourens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.