5 lekker daguitstappies vir Gautengers

Daar is soveel meer aan Gauteng as net kantoorgeboue en verkeer. As jy jou oor ʼn naweek of vakansie by die huis bevind en jou kinders sê al vir die vierde keer “Mamma, ek is verveeld!”, hoef jy nie jou goed te pak en kus toe te ry nie.

Gauteng het talle aktiwiteite vir ʼn heerlike daguitstappie – van museums tot wildkyk en selfs ʼn paar staproetes.

Hier is ʼn paar daguitstappies om te oorweeg as jy in Gauteng is:

Cullinan

Cullinan (Foto: Cullinan Toerisme/Facebook)

Cullinan is ʼn klein dorpie sowat ʼn uur en ʼn half se ry uit Johannesburg en selfs nader van Pretoria af, en daar is net genoeg om ʼn dag lank besig te bly.

Sir Thomas Cullinan het in 1898 diamante op dié dorpie gevind en het later ook die Premier Diamond Mine daar gestig.

Cullinan is bekend vir sy diamanttoere, wat wissel tussen R150 en R600, maar daar is ook baie ander besienswaardighede buiten die diamantmyn.

Talle historiese geboue en huise, asook heerlike restaurante en snoepwinkels, kan besoek word as jy die strate van Cullinan te voet aanpak.

Wieg van die Mensdom

Wieg van die Mensdom (Foto: Facebook/Cradle of Humankind)

Dié Wêrelderfenisgebied is minder as ʼn uur se ry van Johannesburg en is die tuiste van die wêreld se oudste menslike voorouers.

Dagbesoekers kan die Sterkfontein-grotte en die Maropeng-besoekersentrum verken. Dié sentrum is ʼn museum wat besoekers op ʼn reis deur die geskiedenis van die heelal vat, en ʼn kaartjie vir ʼn besoek sal altesaam R160 beloop. Die Wieg van die Mensdom is ook ʼn pragtige plek om rond te ry en die natuurskoon te geniet.

Dinokeng

Dinokeng-wildreservaat (Foto: Facebook/Dinokeng Game Reserve)

By Dinokeng-wildreservaat kan jy die groot vyf van jou voorstoep af besigtig.

ʼn Groot deel van Dinokeng is oop vir dagbesoekers of mense wat self deur die park wil ry, maar bied ook vele verblyf-opsies indien jy daar wil oornag.

Marievale-voëlreservaat

Marievale-voëlreservaat (Foto: André Kleinhans/Facebook)

Geniet ’n rustige dag by ’n pragtige vleiland sowat ʼn uur buite Johannesburg, naby Nigel. Toegang tot dié voëlreservaat is gratis en daar is sowat 300 verskillende voëlspesies en ʼn verskeidenheid vleiland-diere.

Vir die beste resultate moet besoekers met die sonsopkoms opdaag in ʼn motor wat modderige paaie kan hanteer. Nadat jy jou gunsteling-voëls opgespoor het, kan jy in die natuurskoon braai vir ontbyt by die piekniekterrein.

Parke

The Wilds (Foto: Facebook/The Wilds Nature Reserve)

Johannesburg se parke is van die stad se mees onderskatte aantreklikhede wat ure se genot inhou.

Spandeer tyd in The Wilds, ʼn munisipale natuurreservaat tussen Killarney en Houghton. Die park is vol plante en bome vir skadu en hier en daar is ʼn kleurvolle kunswerk wat jou aandag sal trek.

Melville se Koppies-natuurreservaat is nog ʼn park en die perfekte plek vir ʼn stappie, terwyl jy die silhoeët van die stad in die verte kan sien.

Oorspronklik deur: Heather Mason

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Onthou tog net om jou vuurwapen saam te neem as jy die parke gaan besoek – soos by Zoo Lake.

Stof ·

Pretoria se Derdpoort Park is ook ‘n minder bekende juweel. As die druk van ‘n gemeenskap te veel raak, is dit moontlik om daar te gaan wegkruip vir ‘n dag. Dit is groot, met vele digte wegkruipplekke dieper in die park. Elke keer na ‘n siësta hier, voel die stowwerige minder stowwerig en weer gereed om die uitdagings van ‘n sosiale stelsel aan te pak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.