Afrika se Suidpunt: twee dorpe en twee oseane

Struisbaai se hawe: geselligheid tussen mense wat visvang en kinders wat rondspeel. (Foto: Dalene de Vente)

Laatmiddag stop ek en my Kia in Agulhas. Dis ysig koud. Donker wolke hang in die lug. ʼn Mens is nie noodwendig stomgeslaan deur die skoonheid nie, maar die atmosfeer… Daar is iets groter as jy.

Op ʼn bewolkte dag is die atmosfeer in Agulhas amper iets magies. Daar is stories van skeepswrakke en ontdekkingsreisigers. Vir sommige was dit die plek van dood, vir ander ʼn plek van hoop. Vir eeue lank al is Agulhas ʼn plek waar mense vis vang. Op die oog af gebeur daar nie opwindende dinge hier nie, maar gaan stap jy rond, ontdek jy waarom mense hiernatoe kom.

Ek het nooit besef Struisbaai en Agulhas is net so langs mekaar nie. By Agulhas ry jy terug verby Spookdraai en daar is Struisbaai. Agulhas is die plek waar die twee oseane mekaar ontmoet. Die onstuimigheid teen die rotse ken geen einde nie. Struisbaai het ʼn hawe. Daar vang kinders rustig vis en ry rond met hul fietse. ʼn Ottertjie baljaar in die waters.

Daar is nie ʼn Royal Hotel in Struisbaai nie, maar daar is ʼn kroeg en daar sit die manne (en vroue). Almal is almal se pelle. Hulle kyk rugby, speel pool en drink ʼn biertjie. Ek daag saam met my nefie daar op en voel die skok van die mense. Wie is die nuwe meisie? Is hy dan nie die meisietjie wat by die restaurant werk se kêrel nie? Dinge raak eers rustig na ʼn halfuur, toe hulle hoor ek is net ʼn niggie.

Ek kuier by Bianca. Sy werk by Gavin’s Trattoria in Agulhas, maar bly in ʼn tuinwoonstel in Struisbaai. Sy sluit nooit haar woonstel se deur nie. “Jy’s altyd welkom, trek net die deur oop.” Ek sou net een nag bly, maar ek besluit om nog ʼn nag te bly. Bianca neem my na die indrukwekkende geskenkwinkel in Agulhas: Potpourri. Daar eet jy ontbyt en spandeer die res van die dag om inkopies te doen – so voel dit. In die winkel is daar skilderye, dekor, koppies en allerhande kreatiewe dinge. Daarna gaan wys sy vir my Suiderstrand. Daar is nie ʼn winkel in Suiderstrand nie: net huise en die see. “Hier kom maak jy jou kop skoon,” sê Bianca.

Die vuurtoring by Agulhas is gesluit vir opknappings. Ek gaan stap by Agulhas. Net ʼn bietjie verder in die park is daar ʼn strand met klippe. Ek sit die ure om en luister vir die pragtige geluid van die see wat teen die duisende klippies klots. Saans gaan lê ek, vrou alleen, op die strand en kyk vir die sterre. Net ek, my matras en komberse. Tussen seevoëls en sout lug. Soms ry daar ʼn kar verby.

By die Potpourri-winkel kan jy gaan ontbyt eet. (Foto: Dalene de Vente)

Hoe het die Portugese ontdekkers gevoel toe hulle hier aanland? Toe hulle vir die eerste keer hier aan wal stap? Het hulle geweet waarheen die vonds sou lei? Soos ek hier staan is ek oorweldig met dit wat Agulhas inhou. Nuwe hoop vir moeë reisigers. Nuwe drome. Die mees suidelike punt van Afrika was alles behalwe ʼn laagtepunt. Tussen die twee oseane is daar soveel plek om heen te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.