Auschwitz-Birkenau – ná 75 jaar skok die werklikheid nog

Die bekende woorde bo die kamp se ingang, wat jy al soveel keer in films en dokumentêre gesien het. (Foto: Clifford Roberts.)

Die jaar 2020 is ’n groot een in die geskiedenisboeke, maar nie net omdat die Covid-19-pandemie oor die aardbol kruip en lewens eis nie. Dis vanjaar 75 jaar sedert die Tweede Wêreldoorlog in 1945 ten einde geloop het. ’n Oorlog waarin ’n geraamde 85 miljoen mense, wat destyds sowat 3% van die wêreldbevolking uitgemaak het, gesterf het.

Een van die plekke van verskrikking was die konsentrasiekampe van Auschwitz-Birkenau, net meer as 70 km kilometer buite Kraków in die suide van Pole. Meer as 1,1 miljoen mense – waarvan bykans 1 miljoen Jode – het binne drie jaar hier in die gaskamers gesterf. Die twee kampe het in 1979 in hul geheel deel geword van die Unesco-wêrelderfenisgebied onder die Staatsmuseum van Oświęcim.

Die verskrikking van daardie heinings en drade bly jou dae later nog bly. (Foto: Clifford Roberts.)

Maryke Roberts was op 1 Januarie vanjaar daar.

Ek moet van die begin af erken dat hierdie besoek nooit op my emmerskoplysie was nie. Elke keer as nuwe flieks oor die oorlog, die Joodse volksmoord (holocaust), Hitler, of die tyd vóór die oorlog waar die onheil wat nog kom, duidelik te sien is, verskyn, het ek vir dae ’n knop op my maag en slaap ek sleg. Steven Spielberg se Schindler’s List was beslis een van dié wat my die meeste ontstel het.

Maar deur ’n sameloop van omstandighede, besluit ons en ’n paar vriende om Berlyn as Kersbestemming te gaan ontdek. Een van ons vriende uit Kaapstad se Joodse familie is bykans heeltemal deur die oorlog uitgewis of het op die nippertjie met net hul klere aan hul lyf, ontsnap. Hy wil graag in hul voetspore gaan stap in die konsentrasiekampe; ons moet asseblief saam, want dis nie iets wat jy alleen moet ervaar nie en sy pa en broer sien nie kans nie.

Dis pikdonker op 1 Januarie toe die klein toerbussie om 08.15 voor ons woonstelletjie stop. Die bestuurder is ’n jong Poolse vrou met ’n swaar aksent. Sy vertel die temperature in Berlyn het al tot minus 35 geval.

Binne sit ’n jong Franse paartjie en ’n ouer Deense paartjie. Die Dene se Engels is vlot; hul kennis oor die oorlog en die kampe skrikwekkend. Die jong Franse probeer verduidelik van oupagrootjie wat iewers gesneuwel het, maar baie gaan met die vertaling verlore.

Die Dene vertel hul woonstelgebou se sypaadjie het ook een van die brons Stolpersteine (klein struikelblokkies) – net ’n bietjie groter as ’n pakkie kaarte. Dit dui aan waar Jode wat deur die Nazi’s vermoor is, gewoon het. Stolpersteine is 10 cm x 10 cm en die werk van die Duitse kunstenaar, Gunter Demnig, wat sedert 1992 die blokkies – die wêreld se grootste gedesentraliseerde gedenkteken – geïnstalleer het. Die slagoffer se naam, geboortedatum, die datum waarop hulle uit hul woonstelle of huise geneem en vermoor is, is daarop gegraveer.

Die ouerige Deense paartjie kom bring nou hulde aan die jong gesin wat voor die oorlog in hul woonstel gewoon het en in Auschwitz-Birkenau gesterf het. Sy haal ’n boek uit haar handsak: If This is a Man – The Truce deur Primo Levi. Ons moet dit lees, dring sy aan. Dit gee insig in hoe dit daar was. Primo het dié kamp oorleef.

In een gebou is daar rye foto’s van die mense wat in daardie gebou geleef het, sommige vir ’n paar dae voor hul dood. Die gesigte van mense soos ek en jy. (Foto: Clifford Roberts.)

By die museum aangekom, is die rye etlike meters lank. Mense staan dig teen mekaar om die verskriklike koue af te weer. Die jasse is dik, serpe is om koppe gedraai en handskoene keer dat jou vingerpunte vries. Eenkant probeer ’n museumbeampte mense volgens taal, tydgleuf en toegelate getalle opdeel. Gidse met mikrofone voor hul monde begin stap met die volgende groepe.

Ons moet ’n halfuur wag en ek gaan soek koffie. Ek sien in die verte die bekende hek met die woorde “Arbeit Macht Frei” (werk maak jou vry) wat al soveel keer in rolprente en dokumentêre gewys is.

Ons gids kom haal ons – ’n ouerige vrou met bottelblond hare. Sy lyk moeg. Sy noem die getal mense wat hier in gaskamers dood en toe veras is en gee ’n oorsig oor die Auschwitz-kamp wat tussen 15 000 en 20 000 gevangenes per keer gehuisves het. Birkenau is later gebou en het in 1944 meer as 90 000 gevangenes gehad. Die kampe is gebou omdat die plaaslike tronke nie meer al die Jode kon huisves wat die Nazi’s wou doodmaak nie.

Ons stap tussen die koshuisagtige geboue deur. Die gids vertel hoe wanvoeding die meeste mense skaars ’n paar weke lank laat oorleef het. Dis nou diegene wat nie onmiddellik vergas is nie.

In die eerste gebou wat ons ingaan, staan die woorde in Pools en Engels op ’n enorme swart bord: “Those who do not remember the past are condemned to repeat it.” – George Santayana.

Ons sien die karige slaapsale, die kripagtige wasbakke, oop toilette en strafkamers waar ongehoorsame gevangenes in ’n staande posisie in die donker toegesluit is. En die Doodsmuur by Blok 11 waarteen mense vir geen klaarblyklike rede doodgeskiet is, sodat die bloedbesmeerde sement as waarskuwing vir ander kon dien.

Soos ons in stilte stap, hoor jy ons gids se asemhaling deur die mikrofoon voor haar mond en in die agtergrond almal se skuifelende voetstappe op die yskoue sement. Die trappe is hol getrap en die klip onder die bedekking is deurgeloop. Dis verbasend hoe stil so ’n groot groep mense kan wees.

Kamers vol van die oorledenes se besittings: brille, tasse, skoene, is ’n stille herinnering aan wat regtig hier gebeur het. (Foto: Clifford Roberts.)

Ek maak my oë toe. Die verskrikking is net te veel om te aanskou, die mure net te werklik oor wat hier gebeur het.

In een gebou is daar rye foto’s van die mense wat in daardie gebou geleef het, sommige net vir ’n paar dae voor hul dood – gesigte van mense soos ek en jy. Toe ons uitkom en ek op die trappie vertoef, begin dit sneeu. Ek hoor die droewige wind deur die hakiesdraad fluit, die voetstappe van die res van die groep op die koue, harde grond.

Daar is vertrekke waar vroue se hare in ’n reusehoop lê: afgesny om verkoop te word vir stoffering. In ’n ander vertrek is die tasse wat by hulle afgeneem is, in ’n derde al die kinders en vroue se skoene. In nog ’n vertrek is ’n vrag brille van die dooies. En ook die karige besittings wat ouerpare kon saamdra vir die nuwe lewe wat hulle elders sou begin. Dié leuen is deur die Nazi’s as rede vir hul verskuiwing uit hul huise voorgehou.

By die krematorium kry die gids ’n veraf uitdrukking op haar gesig as sy in die rigting van ’n groot gesinshuis ’n paar meter weg wys. “Dié gesin se aarbeie was gereeld bedek met ’n dun lagie as van die krematorium.” Sy sien die onbegrip op ons gesigte. Dis waar die Nazi-bevelvoerder en sy gesin gewoon het. Ongelukkig het die wind soms in die verkeerde rigting gewaai en die Jode se as het die groentetuin met ’n grys laag bedek.

Ek weet ek is nie die enigste een wat aan die fliek The Boy in the Striped Pajamas dink nie.

Ons bussie ry na Birkenau, ook bekend as Auschwitz II, wat in 1941 op die dorpie Brzezinka, drie kilometer van Oświęcim gebou, is. Die Poolse inwoners is uit hul huise gegooi en die dorpie platgestoot voor die konstruksie van die kamp begin het.

Die ikoniese rooi baksteengebou met die treinspoor wat as’t ware daardeur loop, gee my rillings. Wat moes deur jou kop gegaan het as die deur van die treintrok oopskuif en jy ná dae in die donker, sonder kos of water, half verkluim en honger, daar uitgeboender word. As jy siekerig lyk, is jy direk gaskamer toe. As jy sterk en gesond gelyk het, het jy onmiddellik begin met slawe-arbeid.

Ons stap ver na die ruïnes van grys sementgeboue. Dis die gaskamers wat byna heeltemal verwoes is net voor die mense uit die kamp bevry is – só is daar probeer om die wandade wat daar gepleeg is, te verbloem. Nie ver van die bouvalle nie, wapper blou-en-wit-vlae in die ysige windjie by die Internasionale Monument – Auschwitz II-Birkenau. Die vlae is om die gevangenes te eer, vertel ons gids. Ironies dat die blou-en-wit-streepvlae gekies is. Dit was wel die gevangenes se drag in die kampe, maar ons gids vertel dat al die oorlewendes wat haar pad gekruis het, baie duidelik laat blyk het dat hulle nooit weer gestreepte klere kon dra nie.

Daar is baie foto’s met beskrywings van die dae in die kamp en die haglike omstandighede waaronder mense daar geleef het. (Foto: Clifford Roberts.)

Die monument versinnebeeld die gaskamers en krematorium se skoorstene en grafstene met die boodskap:

“For ever let this place be a cry of despair and a warning to humanity, where the Nazis murdered about one and a half million men, women, and children, mainly Jews from various countries of Europe. Auschwitz-Birkenau 1940 – 1945” wat in 22 tale aangebring is om al die nasionaliteite wat daar gesterf het, te huldig.

Toe ons groet, vra iemand ons gids oor die groot opgewondenheid omdat wêreldleiers en oorlewendes drie weke ná ons besoek daarheen kom om die bevryding van die gevangenes daar te herdenk. Haar gesig vertel ’n heel ander storie.

“Ek doen hierdie toere al vir 30 jaar. In die beginjare het ek baie oorlewendes op my toere gehad. Veral vroue wat hul gesinne bring om die plek te wys waar hulle soveel ontbeer het, maar dankbaar was dat hulle dit oorleef het. Byna almal se bene het komplikasies gehad van die harde houtskoene wat hulle gedra het; die onmenslike koue en wanvoeding.

“Die laaste paar jaar is daar geen oorlewendes meer nie; net kinders en kleinkinders wat kom stap om hulself van die omstandighede te vergewis.

“Niemand wat hier oorleef het en waarmee ek kennisgemaak het, het sonder diep emosionele letsels hier weggegaan nie. Ek weet nie of opgewonde en feesvier toepaslik is vir dié wat hier gely het nie.”

Ons groepie stap in stilte na ons bussie. Dis ysig buite; almal is dankbaar vir die hitte van die verwarmer. Jou voete word warm, maar jou hart is omvou deur ’n ysige hand. Die gids se woorde weergalm lank daarna nog luid in my kop.

Die geskiedenis van daardie jaar se verloop:

  • Januarie: Die Nazi’s begin dokumente verbrand en geboue afbreek om hul spore te verbloem toe hulle hoor die Rooi Leër is op pad;
  • Hulle begin die uitgeteerde gevangenes op dodemarse stuur. Nege dae voor die Rooi Leër in Auschwitz arriveer, laat die Nazi’s 56 000 gevangenes na ’n ander kamp naby aan Wodzislaw, sowat 56 km verder, stap. Daar word diegene wat die stap oorleef, op goederetreine gesit om na ander konsentrasiekampe oorgeplaas te word. Meer as 15 000 mense het tydens dié mars gesterf;
  • Op 27 Januarie word die gevangenes van Auschwitz deur die Rooi Leër bevry;
  • Op 28 April word Mussolini in Giulino vermoor;
  • Op 30 April neem Hitler sy eie lewe ná die Duitsers die onderspit delf in die Slag van Nuremberg en die Slag van Hamburg. En omdat die Slag van Berlyn duidelik aangedui het dat hy nie kan vlug nie;
  • Op 8 Mei gee die Duitsers onvoorwaardelik oor;
  • Op 6 Augustus laat val Amerika ’n kernbom op die Japannese stad Hiroshima en op 9 Augustus op Nagasaki;
  • Op 15 Augustus gee Imperialistiese Japan oor en die oorlog eindig amptelik; en
  • Op 2 September word die oorgawedokument amptelik onderteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Colombo ·

Om in Auschwitz te wees is aangrypend en sal jou die res van jou lewe bybly.Dit is die moeite werd om so n toer te onderneem.

Toergids ·

Op ‘n somer dag, 4 April 1944, styg ‘n Mosquitos merk XVI van No 60 Eskader van die Suid Afrikaanse Lugmag op, by San Severo vliegveld in die Suide van Italië.

Die vliegtuig is op ‘n verkennings vlug vir die United States Army Air Forces, die voorloper van die Amerikaanse lugmag. Die vlieënier was Lt. C.H.H Barry en die navigator was Lt. I McIntyre.

Die verkennings vlug Sortie no. 60PR/694 het die eerste fotografiese bewysstukke van die Auschwitz-Birkenau kompleks opgelewer.

Die lug foto’s sou uiters geheim bly totdat dit in 1979 deur die Amerikaanse Central Intelligence Agency vir die publiek beskikbaar gestel was.

Erika ·

Ironies herhaal die mensdom dieselfde foute Waneer gaan mense besef All lives matter..Crime doesnt discriminate disregard of race..&racism doesnt discriminate

katerinadiekat ·

Hierdie is die volksmoord (genocide) wat die wereld nooit sal vergeet nie. So n afskuwelike gebeurtenis. Maar in ons land is daar ook n volksmoord aan die die gang. Net stadiger. An assassination style genocide where the victims are picked off one family at a time, over a long period of time. Tortured just as brutally as in the concentration camps. And just as dead as the victims of the Hitler Regime.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.