Besoek aan die Duits-Poolse grensgebied

‘n Eertydse nyweraarsvilla in Guben

Om soms die gewoel en gejaag van Berlyn te ontkom, reis ek, my seun en ʼn vriend na plekke wat nie tipiese toeriste-bestemmings is nie.

ʼn Gebied met sy eie karakter, wat selfs in Duitsland skaars bekend is, is die Lausitz, die grensgebied van Duitsland en Pole langs die Neisserivier. Dit lê in die verre ooste van Duitsland en is die gebied waar werkloosheid en ontvolking die hoogste is. Twee stede wat kenmerkend vir die gebied en sy probleme is, is Guben en Forst.

Die stadsaal en ruïne van die hoofkerk

Guben was ʼn beduidende nywerheidstad en het ʼn groot rol gespeel in Duitsland se industriële revolusie in die 19de eeu. Hier was onder andere ʼn groot fabriek vir vilthoede wat wêreldwyd uitgevoer is. Vandag is dit net nog ʼn museum. Die Lausitz was eintlik tradisioneel ʼn voorspoedige nywerheidsgebied – veral die tekstielbedryf was hier sterk. Bruinkool (ʼn voorvorm van steenkool met swakker gehalte) wat vir die opwekking van krag nodig is, is in oopgroefmyne gemyn en dit was, soos in Engeland ʼn eeu vroeër, die basis vir die nywerheidsontwikkeling in hierdie gebied toe dit nog deel van Pruise was. Nou, met die “energiewende” (oorskakeling na groen energie) is die dae van die myne en daarmee saam van die laaste oorblywende ekonomiese pilaar getel. Hier is wel intussen heelwat windmeulens en sonplase gebou, maar dit skep geen volhoubare werk nie.

Die hoofstraat in Guben

In die Tweede Wêreldoorlog was Guben, wat aan weerskante van die Neisserivier geleë is en die toegang na Berlyn vanuit ʼn suid-oostelike rigting is, in die aanvalsroete van die Sowjetunie se troepe gewees. Hitler het dit tot ʼn vesting uitgebou en dit is feitlik heeltemal vernietig onder die aanval van die Rooileër. Van die historiese ou stad oos van die Neisse, vandag in Pole, is nog net die stadsaal en die ruïne van die hoofkerk oor. Alles anders, insluitende die pragtige groot markplein, is weg en daar staan nou niksseggende woonstelblokke uit die na-oorlog tydperk.

Die Neisserivier

Aan die westekant, wat vandag nog steeds Duitsland is, was die nywerheidsgedeelte en dus moes die stad, wat eens ʼn eenheid was, nuut bedink word. Die eertydse hoedefabriek is nou die stadsaal met ʼn museum aangesluit. Teen die rivier staan nog enkele pragtige villas van nyweraars van die eeuwisseling. Opvallend is die groot oop ruimtes en die min mense in die strate. Die stad het al meer as die helfte van sy inwoners verloor sedert die val van die muur, omdat saam met die einde van die kommunistiese era ook die talle “volkseie bedrywe” gesluit is en te min alternatiewe werksgeleenthede in hierdie uithoek geskep is.

Stadskerk in Forst

Sedert Pole deel van die Europese Unie is en mense en produkte vrylik heen- en weer kan beweeg, is daar egter weer hoop. In die Poolse deel is meer lewe, daar is meer jongmense en die bevolkingsgetal is stabiel. Daar is ook Poolse ondernemers wat in die Duitse deel sekere besighede wat sluit oorneem en bedryf. Daar is ook die idealistiese enkelinge wat, ten spyte van die agteruitgang, glo aan hulle stad en wat bakens van kultuur soos ʼn klein gedenksentrum vir die Duitsers wat uit die Ooste verdryf is of ʼn antikwariese boekwinkel en uitgewery bedryf of ʼn vervalle villa restoureer en herskep in ʼn restaurant.

Ook Forst, ʼn entjie suid van Guben en ook langs die Neisse, is eweneens ʼn stad wat ʼn blink verlede as voorspoedige nywerheidstad, veral klere en materiaal, gehad het en selfs as die Manchster van Pruise bekend gestaan het. ʼn Groot stadskerk en enkele geboue in die historistiese styl getuig nog daarvan. Die strukturele verandering is ook hier sigbaar, met talle huise en winkels wat leegstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kirst ·

Interessante artikel. Tog opvallend hoe, ten spyte van die ekonomiese agteruitgang, die strate op die foto’s almal silwerskoon en alles op die oog af goed onderhou is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.