Besoek die beeldskone Bergkwaggapark

(Foto: Verskaf)

Dis ʼn landskap wat ek nie verwag het nie; ʼn landskap wat my heel onkant met sy wilde skoonheid betrap het. Omsingel met die berge en aanstormende wolke en troppe diere wat tussen geil, goue gras wei, herinner die Nasionale Bergkwaggapark ʼn mens aan foto’s wat jy al van die Serengeti gesien het. Ja, jy kan jou maklik verbeel dis ʼn tikkie van die magtige savanna van Oos-Afrika hier reg op ons eie Suid-Afrikaanse voorstoep. Hoekom het niemand my nog ooit van die Bergkwaggapark in die Oos-Kaap vertel nie? wonder ek. Want magtig, dis pragtig! Al is dit die kleinste nasionale park in ons land, word dit aangeprys vir biodiversiteit weens die samekoms van drie biome: grasveld (53%), Nama-Karoo (37%) en ruigtebos (10%). Dié verskeidendheid sorg natuurlik vir interessante wildslewe en minstens 680 plantspesies is hier opgeteken, waarvan dertien op die rooidata-bewaringslys is.

Die Nasionale Bergkwaggapark is in 1937 gestig en het toentertyd uit 1 712 hektaar bestaan. Die plan was om die bedreigde Kaapse bergkwagga van uitwissing te red en ʼn boer, ene Hans Jurgen Lombard, het elf bergkwaggas aan die park geskenk – die saad wat lewe sou gee aan die bykans vierhonderd bergkwaggas wat tans in die park aangetref kan word. Deur die jare is nog nege omliggende plase opgekoop en die park is tot 28 386 hektaar uitgebrei. Diere wat vir langer as ʼn eeu nie hier voorgekom het nie, is in hulle natuurlike habitat hervestig – Kaapse buffels, bruin hiënas, jagluiperds en leeus.

Ek en my gesin besoek die park op ʼn yskoue wintersnaweek. Volgens Karjakker, ons kar, is dit -2ºC teen agtuur die oggend, en eers ná tienuur skuif die temperatuur bo vriespunt. Die kaggelvuur brand warm in die familiekothuisie waar ons oornag en ons voel knus. Die park bied verblyf aan hoogstens 222 besoekers, dus is dit stil en vredig en die wildkykroetes word nie oorbenut nie. Tydens ons selfrit kronkel ons op – op vanaf die vallei na die middelplato met rollende heuwels, tot bo-op die ruwe berge, verby kliptorings en rotsstapels en deur welige grasvelde. Te danke aan die ligging van die berge is die park se reënval heelwat hoër as in ander dele van die Karoo. Sommer vinnig kruis ons pad met die bergkwaggas en die res van die dierebevolking. Ons merk hulle op die inligtingsbladjie af: springende springbokke en klipspringers op ʼn klip. Gemsbokke en elande. Koedoe, rooihartbees, swartwildebees, blesbok en bontkwagga. Grondeekhorings skarrel oor die pad, blouape baljaar in die takke en die bobbejane blaf vanuit die kransagtige koppies. Die swartrugjakkalse is alleenlopers, alte mooi gekamoefleer in die lang gras en so spelerig soos jong hondjies – ons tel vyf! Dis ook besonders om die bakoorvos en aardwolf raak te loop en die bloukraanvoël, bleeksingvalk, swartrugarend en jakkalsvoël in vlug te ervaar. Van die Kaapse buffels het ons slegs tekens gesien (tonnels in die boomruigtes) en die renosters en groot roofdiere het ons ook ontwyk, maar ons weet hulle lê doer iewers op loer.

Die naweek is kort en ons tyd is knap, maar nadat ons al 65 km van wildspaaie gery het, stap ons saam met Richard, die bekwame veldgids, na die San-rotstekeninge. Reeds 14 000 jaar gelede het die eerste Steentydperkbewoners hierdie stuk aarde deurkruis. Aan die oewers van die Wilgerboomrivier en elders in die park het navorsers van die Universiteit van Stellenbosch op dertig plekke die bewyse van hulle bestaan gevind – oeroue pottebakkery en artefakte van klip. Die San-rotstekening is ongeveer driehonderd jaar oud en Richard neem ons met die oop voertuig daarheen. ʼn Mengsel van oker, plantsap, houtskool en eier is vir die rotskuns gebruik, en daar is gewoonlik onder oorhang-sandsteenrotse geteken. Richard wys die figure vir ons uit en ons herken dit maklik: ʼn hasie, bobbejaan, eland, gemsbok en Nguni-beeste. ʼn Medisyneman en ʼn kryger. Dis duidelik dat die San ook hier vuurgemaak en gewoon het. Naby aan die rotstekeninge is ʼn drupkeldergrot met “trappe” wat oor baie eeue heen deur ʼn waterval gevorm is. Bosvark se blyplek, waarsku Richard. ʼn Ent verder tel hy klipskerwe op: die oorblyfsels van antieke wapens.

As ek weer hierlangs kom, sal dit in die somer wees wanneer die goue gras weer groen verkleur – ʼn ander soort betowering. Dan wil ek na die skaakbord op Salpeterskop gaan kyk. In die Anglo-Boereoorlog het Britse soldate wat hier geskuil het ʼn skaakbord bo-op die 1 514 m-hoë koppie gebou. Hulle het met hulle medesoldate by ʼn ou fort in Cradock skaak gespeel deur die skuiwe met ʼn spieël, wat vir waarskuwingseine bedoel was, te sein. Volgens oorlewering het een van die Boere die seine gesien en vanaf sy stoep teen die Kakies begin skaak speel, sonder dat hulle weet! Die skaakbord en die name van die soldate kan vandag nog op Salpeterskop in die park gesien word.

Een van my gunsteling maniere om ʼn nuwe omgewing te verken, is om dit onder my voete te voel. Stap, stap, stap met ʼn outydse soort wünderlust. Van die twee roetes in die park wat jy sonder ʼn gids kan bewandel, is Imbila die piepkortste, net 1 km, maar die ruigtebos is mooi en die grasse is benoem met dramaties-digterlike name soos oulandgras wat in Engels wheeping love grass is. Die Swartarend-roete van 2,5 km neem jou verby dassies, kiepersolle en doringbome vol vinkneste, ronde rotse en bo-oor klipplate. Die doleriet staan ook as groensteen bekend. Van doer bo af het jy pragtige uitsigte. Alles gloei in die sakkende son.

Ons sluit die naweek met ʼn aandete by die park se restaurant af. Die ondervloerse verhitting help om die knyp uit die koue te haal. Restaurantbestuurder Emmanuel is baie verwelkomend en Meisie, die kelnerin, is dierbaar en flink. Kyk, die Karoo ken van vleis – dis van die smaaklikste lamskenkels en geroosterde biefstuk wat ons al in ons dag des lewens geproe het. Ook die poedings is pure Karoo – ruim en hartlik – en na die vleisoorvloed lê ons weg aan malvapoeding en ʼn sjokolade-vulkaan. Toe ons uitstap, is die lug kraakvars, die sterre is helder en hoog en die sekelmaan is ʼn geel glimlag.

Reisraad

  • Die Nasionale Bergkwaggapark is 15 km buite Cradock in die Oos-Kaap geleë.
  • Die park bied verblyf vir uiteenlopende smake: ʼn kampeerterrein, kliphuise, kothuisies (waarvan sommige rolstoelvriendelik is) en die ou Doornhoek gastehuis wat luuks opgeknap is. Alle verblyf sluit ʼn braaiplek, beddegoed, handdoeke en daaglike skoonmaakdienste in. (In die koronavirustyd kom die skoonmakers elke derde dag.) Ons het in ʼn familiekothuis oornag, wat uit ʼn goedtoegeruste oopplankombuis, ʼn kuierplek met ʼn kaggel, twee slaapkamers en ʼn badkamer bestaan.
  • Jy mag die park maar platry! Hier is ’n eie klein petrolstasie met een petrolpomp binne-in die park. Ander geriewe is die swembad en die winkeltjie by ontvangs. Bederf jouself gerus met ʼn smaaklike ete by die restaurant.
  • Wild Card-lede kan SANParke gratis besoek. Die park is oop van 07:00-18:00 in die herfs en winter, en 07:00-19:00 in die lente en somer.
  • Wintertemperature wissel van -2ºC tot 24ºC. Somertemperature wissel van 6ºC tot 30ºC. Soms is hier ligte sneeu op die berge.
  • Die meeste selfrypaaie in die park is vir alle soorte voertuie geskik, behalwe vir die 4×4-roetes.
  • Bespreek voor die tyd vir aktiwiteite soos die jagluiperd opsporing, begeleide wildritte en begeleide stap na die San-rotstekeninge.
  • Skakel Mountain Zebra National: 048 801 5700 of 048 801 5701. Vonkpos: [email protected] Webwerf: www.sanparks.org

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.