Besoek die Beloofde Land in die woestyntyd

Beloofde Land (Foto: Carina Stander)

In die lente van 2020, in ʼn jaar wat baie mense as ʼn woestyntyd beleef, swaai Beloofde Land vir die eerste keer haar deure oop. Binne ʼn week vandat die gasteplaas einde Oktober geopen het, maak dit soveel dreunings op sosiale media dat duisende mense kiekies van dié pragplaas in die Langkloof met mekaar deel. Ieder en elk verlang na ʼn kliphuis tussen die berge waar hulle van die kwellinge van die ou lewe kan vergeet.

Die mooie R62 na die plaas voel al klaar soos vakansie met dramatiese kranse en veldblomme net waar jy kyk – vygies, fonteintjiebos, bloulelies. Hier en daar is ʼn plaashuis, volstruis of vee.

Saam met my in ʼn rooi gevaartetjie met die beskeie naam Saartjie, is my vriendinne Fredel en Estie. Ons is al jare lank vriende en ons al drie het negejarige seuns wat ʼn hond uit ʼn bos met mekaar speel, maar in hierdie vreemde jaar het ons sowaar in Maart laas saam gekuier. Soos soveel ander mense het ons beroepe vanjaar aan garingdraadjies gehang en soos ware volksmoeders het ons die kroos deur tuisskoolwerk gehelp. Maar vandag vat ons die pad. Net vir een aand. Piepkort, ek weet, maar die verpligtinge by die huis maak net ʼn blitskuier moontlik.

So opgewonde soos studente rits ons in Saartjie en ons klets so lekker dat ons die afdraai na Beloofde Land skoon misry. O velskoen! Daar beland ons op ʼn ander bergpad sonder internet of GPS. Beloofde Land se eienaar Barry-met-die-radio-omroeperstem gebruik elke soort tegnologie tot sy beskikking om ons weer op die goeie weg te kry en ʼn halfuur later is ons voor sy plaashek. “Onthou, ons het nié verdwaal nié! Ons het net ‘foto’s gaan neem’,” knipoog Estie.

Met die inry windsweef ʼn valk bo die plaasdam. Skape vat ʼn middagslapie in die koelte teen die heining. Max, die Parson Russell-terriër, is ʼn vrolike siel wat gou kom kennis maak.

Barry en Sunette Luus vertel hoe hulle ná vele omswerwinge hier by Beloofde Land tuisgekom het. Eers het Barry vyf jaar in Sierra Leone gewerk terwyl Sunette nog in Johannesburg gewoon het, vandaar is hy na Saoedi-Arabië en later is hulle saam na die Demokratiese Republiek van die Kongo waar hulle in Kolwezi gewerk het. Baie toere deur Suid-Afrika later het die twee wêreldreisigers in 2018 hulle harte op die plaas in die Langkloof verloor en besluit om hier wortel te skiet. Die plaas se naam kom van Die Heuwels Fantasties se “Die Beloofde Land – ’n lied wat die musiekgroep in lewende lywe op hul troue gespeel het. Op hulle Facebook-blad is ook ʼn ander verwysing na die plaasnaam, Deuteronomium 8:7-11. Vers 7 lees: “Want die Here jou God bring jou in ’n goeie land met waterstrome en poele water, met fonteine wat in die valleie en berge ontspring.”

Sunette gesels gesellig terwyl sy ons rondwys. In die winter was hier sneeu op die berge, beduie sy. Hier is foto’s van die luiperd en haar welpie wat in die kloof ronddwaal, so naby dat jy sommige aande die aardige gegrom kan hoor.

Die landskap voor ons is renosterveld en wemel van bolplantjies en vetplantjies. Dis van die mees bedreigde biome ter wêreld, minder as 5% renosterveld bestaan nog. “Kyk hoe wip die swart springboklam! Lyk of hy nou-net sy bene ontdek het,” sê Sunette. Hier is anderdag ook ʼn brons springbokkie gebore. Die springboktrop met hulle sierlike spronge in die voorgrond en die onherbergsame berge op die agtergrond, is oermooi.

Die klipwerk van die drie huise op die plaas wat verhuur word, eggo die klip wat in die berge voorkom. Twaalf jaar gelede het die vorige eienaar die afgebrande plaas gekoop en klipmesselaars spesiaal vanaf Lesotho laat kom om die huise te bou. Die huise voel daarom betreklik vars en nuut, al gee die klip dit ʼn geskiedkundige atmosfeer. Die swaar balke en breë mure laat mens dink aan klein klipkapelle. Elke huis het ʼn unieke karakter.

Die Sonvanger het sy eie windpomp, plaspoel, aalwyne en ʼn kleurvolle Mexikaanse invloed. Die Visserman is knus met ʼn kaggel – ideaal vir ʼn romantiese paartjie. Die Keurboom waar ons oornag is egter my allergunsteling. Dit het ook ʼn plaspoel en in die tuin is ʼn sonwyser en madeliefies, vygies, irisse, malvas en papawers. Die vertrekke is ruim en die langwerpige boogvensters herinner aan ʼn afgeleë kasteeltjie in die berge. Die badkamers se grysgroen sementmure skep ook ʼn antieke gevoel.

Alles binne is duidelik met die hand uitgesoek, van die ou kiste tot die kuiertafel in die kombuis, die plante in koperpotte en die springbokvelmatjie. Die afwisseling van aardse ruheid teenoor fynheid skep ʼn interessante kontras, soos die bokskedel teen die sitkamermuur teenoor die fluweelkussings; die skilpaddop teenoor die gesofistikeerde boeke; die ou melkkanne op die stoep teenoor die feetjieligte bo die sagte wit bed.

Om op ʼn sondeurdrenkte, windverwaaide midweekmiddag met ʼn glas koue witwyn op ʼn stoep saam met jou liewe vriendinne te sit en kuier terwyl julle uitkyk oor die berge, is ʼn lafenis. Die rustigheid. Die stilte. Geen televisie en g’n siel in sig nie. Net die goeie geselskap langs jou en voor jou: die berge soos geplooide olifante. Oranje-groen korsmos teen die kranse. Doer onder seil ʼn stroompie deur die vallei, ons hoor dit kabbel vanaf die stoep.

Die weer draai skielik in die geweste en teen skemertyd is dit verrassend koel vir Oktober. Barry kom bou vir ons ʼn kaggelvuur – sommer vir die geselligheid. Fredel was so gaaf om ʼn heerlike klaargaar aandete van haar huis af te bring, sodat ons nie hoef te bodder met kosmaak nie. Hoe lekker om vir ʼn slag in vol sinne te praat, sonder kind of kraai of selfoon wat mens in die rede val. Ons kuier laat dit klap voor die kaggel en klim eers elfuur in die kooi.

Toe ons die volgende oggend moerkoffie drink, is die berge verberg agter miswolke. Dit stuifreën. Ongelukkig ontneem die reën ons van die kans om kloof-op te stap na die grot waar die Boesmans se handmerke teen die wande is. Later skuif die wolke weg en die vogeltjies tjirpsing en kwetter en kwinkeleer. ʼn Duif koer asof dit ʼn Sondagoggend is. ʼn Dwergmuishond woerts om ʼn hoek en die bobbejaantrop koggel mekaar vanuit die kranse. Estie probeer om met die donkies maats te maak, maar toe ons lag, begin die donkie histeries balk (of saam te lag) en sit haar agterna – jy sien net hakskeensenings soos sy laat spaander!

Ons hik van die lag, want dis mos wat vriendinne doen. Mens lag saam oor die ontberinge en gee jou sommer oor aan die ligsinnigheid. Dis sowaar al hoe mens die vreemde tye gaan oorleef: staan op jou kop en fluit ʼn deuntjie deur jou tone! En as jy mooi kyk, is daar manna en kwartels in die woestyn, wonderwater uit ʼn rots en ʼn Beloofde Land wat op die horison wink.

Reisraad:

  • Skop jou wegbreek af met koffie en koek op die kuierstoep van Rosenhof-roosplaas! (Dis ook die tuiste van Ludwig’s Roses Outeniqua). Die roosplaas is net buite George en 78 km vanaf Beloofde Land. Ons het op die balkonstoep gesit waar die rose teen die mure oprank, ʼn wye uitsig oor die berge, en ons verlustig aan ʼn behoorlike sny wortelkoek en cappuccino. Skakel: 044 886 0042.
  • Beloofde Land is ʼn allerlieflike 850 hektaar gasteplaas in die Wes-Kaapse gedeelte van die Langkloof. Die naaste dorp is Uniondale. ʼn Gewone tjor doen die ding, jy het nie ʼn 4×4 nodig nie. Vat jou swemklere, sonhoed en stapskoene. Daar is drie karaktervolle kliphuise te huur, almal selfsorg. Stuur ʼn WhatsApp aan Barry of Sunette: 082 562 3736 of 082 626 1965. Vonkpos: [email protected]

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alta Alleman

Sjoe asemrowende mooi fotos.

Elsabe

Hier wil ek bly.