Besoek ’n wonderskone bergplaas in die Oos-Kaap

(Foto verskaf)

Laatmiddag bereik ons die bergplaas Pitlochrie in die suidelike Drakensberg. Dis herfs, en alles is in ʼn ambergloed gehul – die berge, die geil gras, die trop perde. Die laning akkerbome verkleur. In die tuin is die koperbeuk se blare oranje, die eikehout bloos bloedrooi en die silwerberk lyk of dit in geel vlamme opgaan.

Die boer, Joe Sephton, verwelkom ons met ʼn stewige handdruk en wye glimlag. Hy vertel sy voormense was deel van die oorspronklike 1820-setlaars wat uit Brittanje in die Oos-Kaap aangekom het. ʼn Honderd jaar later, in 1920, het sy oupa op Pitlochrie begin boer en nou, nóg honderd jaar later, is die plaas steeds die Sephtons se bergvesting.

Die Farm House, waar gaste kan oornag, is ʼn statige huis wat in 1951 gebou is tydens die hoogbloei van die wolbedryf. Dit was Joe se grootwordhuis. Die sonkamer en kuierstoep het wye uitsigte oor die berge en die ommuurde tuin is pragtig.

Die White House waar ons tuisgaan is in die 1960’s gebou. Die huis is ruim en gerieflik toegerus met ʼn skottelgoedwasser, wasmasjien, veerpyltjiebord, goeie boeke en selfs ʼn klavier. In die yskas is ʼn bottel vars plaasmelk en die tafel is gedek met wynglase, kerse en rose uit die mooi tuin. Ons steek die kaggels in die oopplankombuis en slaapkamer aan – hoe gesellig om kos te maak en te slaap terwyl die vuurtjie knetter.

Ná oggendkoffie en beskuit onder die druiweprieel op die stoep, ontmoet ons die boerin van die plaas, argeoloog Dawn Green. Haar storieboeknaam pas so goed by haar, dis asof sy bestem was om naby die natuur te leef. Dawn het grootgeword in Johannesburg, maar woon sedert haar vroeë twintigs tussen dié berge. Haar oorlede man het op die buurplaas geboer, hy was Joe se boesemvriend. Jare nadat hy aan kanker gesterf het, het Dawn en Joe getrou en saam begin boer.

Dawn ondersoek al ʼn kwarteeu lank die Khoekhoe- (Khoi) en Sankuns van die Oos-Kaapse Hooglande en tans doen sy navorsing vir haar doktorsgraad in argeologie. Die Joe Gqabi-streek het van die beste rotskuns op aarde met ʼn geskatte duisend argeologiese terreine. Jagter-versamelaars het 30 000 jaar gelede in die streek gewoon en verskeie volke het ʼn rykdom kuns nagelaat wat vertel van rituele vir reën, jag en beskerming. Dawn neem ons deur die veld en teen die berg af na ʼn groot oorhangrots met die indrukwekkendste rotskuns wat ons nog ooit gesien het. Die sandsteen is poreus en ʼn goeie “skilderdoek” – dis maklik om die opgekrulde adder, beeste, reebok, elande, dansers en jagters te herken. Die tekeninge is sensitief geskakeer van lig na donker. Ysterryke klei is gebruik vir ʼn okerrooi pigment, geel klip is verpoeier, wit is verkry van aasvoëlmis en swart van houtskool. Kwaste is gemaak van ystervarkpenne, vere of pels. Op die grotvloer tel ons stukkies klipgereedskap op, neem ʼn foto en strooi dit weer rond vir volgende besoekers om te vind.

Ek is nogal nie stapónfiks nie, maar goeiste, ek hyg toe Dawn soos ʼn lenige luiperd weer teen die berg op glip. Ek verkyk my aan die mooi wetenskaplike met die grys vlegsel en hoë wangbene wat so veldslim is.

Sy sê blomtyd op die plaas is meestal Maart, April, November en Desember. Met ons besoek is die heide, lobelia en kooigoed in blom. Die stekelrige biskopballe strooi hulle katoenagtige saad. Ander tye van die jaar blom die visstok-van-die-engel (Dierama), vetplante soos die koesnaatjie (Crassula) en verfblommetjies (Zaluzianskya). Hoeveel mense kan spog dat ʼn spesie na hulle vernoem is? Wel, die legendariese stamvader van die plaas, Paul Sephton, het ʼn fyn wit veldblom (Ornithogalum sephtonii) op die plaas wat na hom vernoem is.

Die gras groei heuphoog na die goeie reëns. In die poele langs die pad gewaar ek geelbekeende en in die weiveld ʼn mahem. Ongeveer 220 voëlspesies is op die plaas aangeteken en gereelde besoekers is die korhaan, reier, visvanger, vlieëvanger en bokmakierie. Dis ook die woonplek van die baardaasvoël, ons sien die spiraalvlug. Dawn vertel dat ʼn dooie bul van 400 kg eendag binne vier ure skoongemaak is deur die aasvoëls – ʼn waarskuwing dat ʼn mens liefs nie in dié berge moet verdwaal nie.

Teen die middag kry ons vir Joe by sy huis. Sy Great Danes is so groot en bont, ek dog amper dis Nguni-kalwers. Joe vat ons op ʼn wandeling deur sy plaas. Hy vertel hy is as tienjarige koshuis toe op Grahamstad, ses ure se rytyd weg; naweke en vakansies het hy van vroeg tot laat op die plaas gewerk en ná universiteit permanent saam met sy geliefde pa, Paul, begin boer. Die pragtige boogbrug op die plaas is juis deur Paul gebou. Vonkel in die oog vertel Joe wat nodig is om te boer: geduld, stamina en “grit”.

(Foto verskaf)

Dis ʼn mooi middag. Die berge is pienkbruin en lila, die gras is goudgroen en die stapelwolke wit. Hy neem ons na ʼn swempoel en my manne klim in. Die oorsprong van die rivier is onder Avocapiek – op 2 771 m een van die hoogste pieke in die Witteberge. Die strome het volop vis en die grootste een wat hier gevang is, is ʼn reënboogforelwyf van 60 cm.

Ná die swem neem hy ons deur die dennewoud waar ons verras word deur ʼn hele versameling vlieëswamme (Amanita muscaria) – daardie sprokiesmooi, gifrooi sampioene met die wit vratte. Ander sampioene op die plaas is wel eetbaar, en soms oes hulle steenswam (Boletes) en melksampioen (Lactarius).

In die somer word die plaas nie sommer meer as 30 °C nie en in die winter is dit saans tot -15 °C. Dit kan énige maand van die jaar sneeu, vertel Joe. Trouens, die meeste winters is die hoë berge ʼn wit wonderwêreld, en die donderweer in die Drakensberg is skouspelagtig.

Met grendeltyd het hulle volwasse kinders en dié se lewensmaats van heinde en verre gekom. Dawn se seun Jake (wat vir die Olimpiese roeispan oefen) het kitke-brood gebak en Joe se seun Matt het ciabatta gemaak. Hulle het gedoen wat Sephtons doen: geboer, gebak en soos bergbokke gehol. Joe is immers een van die stigters van die uitmergelende, epiese 100 km SkyRun –  tussen hom en Dawn het hulle al agtien SkyRuns voltooi.

(Foto verskaf)

Van die 4 000 ha plaas, is 90% veld, ideaal vir bees en skaap. Die son sak en die perderuiters jaag die kudde vir die aand kraal toe. Derduisende rande se skaap word jaarliks deur jakkalse gevang, maar vir mense is hierdie die veiligste uithoek in die land, sê die seningtaai boer met die sagte hart: Die heinings is net om die beeste binne te hou, nie om skelms uit te hou nie. Self ry hy so een keer in tien dae dorp toe, maar Dawn is sielsgelukkig wanneer sy die plaas net een keer in drie maande hoef te verlaat want dié is hulle habitat, huis en bergheiligdom.

(Foto verskaf)

Reisraad:

  • As jy ʼn voëlkyker is, onthou jou verkyker; as jy ʼn hengelaar is, bring jou visstok. Meer as 10 km van die Three Drifts-stroom – ʼn sytak van die Kraairivier – vloei deur die plaas en besoekers het ook toegang tot 30 km van Diepspruit. Reënboogforel en geelvis word hier uitkatrol.
  • Pak ʼn tennisrakette en balle in vir die kleitennisbaan, swemklere vir die rotspoele, ʼn bergfiets vir die grondpaaie en stapskoene.
  • Vir berghardlopers is hier die SkyRun Teaser, Pitlochrie 10 Peak Challenge en Pitlochrie 30 km High-Mountain Challenge. Hoogte wissel tussen 1 700 m en 2 771 m bo seevlak.
  • Verken die nege bergpasse vanaf Pitlochrie: Joubertspas, Lundinsnekpas, Volunteershoekpas, die Otto du Plessis-pas, Carlisleshoekpas, Naudésnekpas, Pitsengpas, Bastervoetpadpas en Barklypas. Die allerlieflikste Barklypas is die enigste een wat geteer is. Die passe is begaanbaar met ʼn 2×4, behalwe Bastervoetpadpas en Volunteershoekpas waarvoor ʼn 4×4 benodig word. Swaar reën maak dit soms onbegaanbaar, maak eers seker van padtoestande.
  • Pitlochrie se plaasverblyf is ideaal vir ʼn romantiese wegbreek of ʼn familiefees. Slaapplek is as volg: Farm House (10), White House (8), Cottage (4) en Fieland Cottage-kampering (4). Linne, handdoeke en ʼn bietjie vuurhout word voorsien; meer kan aangekoop word op die plaas. Kraanwater kom uit die berg en is veilig om te drink. Dis volkome selfsorg en skoonmaakdiens is beskikbaar.
  • Die naaste dorp vir inkopies is Barkly-Oos, 31 km se grondpad. Dit neem ongeveer 45 minute per kar.
  • Bespreek by Joe of Dawn. Skakel: 045 971 9078. WhatsApp: 083 469 9919. Vonkpos: [email protected]. Webwerf: Pitlochrie.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.