Betowerende Baviaanskloof: ’n Reis deur onherbergsame berge

(Foto: Carina Stander)

“Hulle moet die volgende Mandalorian hier verfilm!” roep my seuns toe ons die Baviaanskloof binnery. Die landskap lyk werklik onwerklik, soos iets uit ’n wetenskapfiksie-cowboyfliek.

Die Baviaanskloof in die Oos-Kaap strek van oos na wes tussen die Baviaanskloofberge in die noorde en die Kougaberge in die suide. En vandag rits ons gesin op die een en enigste kronkelende grondpad deur die kloof.

Die kranse lyk soos oeroue kasteelmure. ’n Kaapse grysbokkie wip verby – die ene ore. Ook ’n springbok. Hier is ontelbare wegkruipplekke en grotte in die kranse. Gerrit, my man, dink lekker verregaande stories uit van vlugtelinge wat honderde jare gelede deur ’n rotsstorting hier vasgekeer is en nog nooit van selfone of vliegtuie gehoor het nie. My negejarige seunskind sien gesigte in die skeure en figure in die krake van die berg, maar vir my lyk die geelbruin klip nes karamelroomys. Want ek is dors. En warm.

Dis tweeuur die middag toe ons op die plaas van Go Baviaans stilhou. ’n Stoomwarm wind waai vanaf die Karoo, maar die plaashuis, Cedar Falls Guest House, met die dik mure en hoë plafon is verrassend koel. Die huis is ’n eeu oud en het ’n gekrulde sinkplaatdak, lang gange, growwe houtvloere en ’n heerlike kuierstoep met uitsig oor die Sedervallei. G’n diefwering nie. Veilige geweste hierdie.

Toe die ergste hitte teen die laatmiddag breek, trek ons gesin ons stapskoene aan. Die laventelbosse langs die paadjie is so songebak, mens kan byna die olie ruik. Eers stap ons die labirint wat met wit rivierklippe gebou is, maar ons dertienjarige se bergbokgeit skop in en hy wil die Arend-uitsigpunt klim. Bo gekom, sien ons hoe ’n valk ’n swaeltjie deur die lug jaag.

(Foto: Carina Stander)

Onverwags is dit stormagtig. Donker wolke rol oor die horison. ’n Reëntjie sak uit wat die aarde stofnat laat en die kleure van die korsmos laat gloei. Geel. Roesbruin. Oranje. Grys. Korsmos, wat die kleurryke resultaat van die simbiose tussen ʼn swam en ‘n alg is, is uiters gevoelig vir lugbesoedeling, maar hier in die Baviaans kom dit volop voor. Net so vinnig as wat die reën verskyn het, verdwyn dit weer en ons leer dat die weer binne ’n uur kan wissel van moegmaakwarm tot sterk wind en reën.

Op pad terug na die huis ontmoet ons die plaaseienaar Linden en sy broer Robin. Hulle gaan die luiperdkamera in die berg verskuif en vertel dat hulle al talle luiperds en selfs otters met die luiperdkamera afgeneem het. Dis nou amper twintig jaar sedert Linden die plaas gekoop het en hy het omtrent berge versit, onder meer met die ontwikkeling van die uitstekende Luiperdstaproete.

Ons gesin spring in die plaasdam wat deur die bergstrome gevoed word – ’n lafenis vir liggaam en siel. Daarna braai ons in die tuin. Die tuin is amper kothuisagtig met fynbos, wilde irisse en bloulelies asook krismisrose, wilgers en ou appelbome. Die vetplantjies kom uit die veld en die aalwyne vanaf ’n buurplaas. Paradysvoëlvangers swiep verby met lang stertslierte. Muisvoëls maak moles. Die hoenderhen en haar kuikens skrop-skrop naby ons voete.

Ons het pas klaar geëet toe een van die kinders roep: “Kyk! ’n Reënboog!” Nadat ons ’n paar potjies kaart gespeel en die seuns gaan slaap het, sit ek en Gerrit op die stoep en verkyk ons aan die sterre. Die lug is silwer van die sterre. Ek het al vergeet dis moontlik om soveel sterre te kan sien.

Die volgende oggend stap ons na die Cedar Waterfall. Al is die stap na die eerste poel skaars 3,7 km moet mens minstens ’n halfdag inruim om die roete ten volle te ervaar. Daar is hoë kranse weerskante van die paadjie en kliptorings wat lyk soos primitiewe beeldhouwerke. Ons stap verby seders en kiepersolle, bokbaaivygies in geel en pienk, oor riviersand en spoelklippe, bo-oor talle stroompies wat van die paddavisse krioel. ’n Jakkalsvoël sirkel deur die lug. ’n Bloukopkoggelmander bak in die son. ’n Baba-adder proe die lug met sy tong vanonder die klip waarop ons negejarige nou net getrap het! Skielik is ons in ’n vrugbare rivierbedding met biesies en varings.

“Oase!” roep die jongste.

Dis vanweë dié soort uitstaande biodiversiteit dat die Baviaanskloof tot ’n Wêrelderfenisgebied verklaar is.

Die kloof raak breër en smaller, dit swel en krimp en maak skerp draaie. Aan die einde van die vallei versper ’n hoë krans die pad asook ’n bergpoel wat gevul is met helder, suiwer water. Mens kan deur die smal kloof klim of die 10 m swem – ons klouter sommer oor. Bo gekom, draai die rivier in die versteekte Sederwatervalkloof. Ongeveer 400 m verder bereik mens die waterval wat in ’n diep, ronde poel verdwyn. Ons swem en dryf onder die waterval, verkyk ons aan die boomvarings en blommende Septemberbos en die muur van kranse rondom. Die waterval is besonder swemvriendelik, maar die son skyn in die somer net laatoggend hier in, daarna skuif die skaduwee oor die kloof en sal die water te koud wees vir swem. Ná die swem lê ek op ’n sonwarm klipplaat en raak ’n rukkie aan die slaap, terwyl Gerrit en ons oudste na die ander waterval hoër op in die kloof swem. Hierdie is van die mees ikoniese bergpoele in ons land. Dis soos om ’n geheim te ontdek.

Die volgende dag stap ons die Gabriel’s Loop. Dis 12,7 km en skakel die eerste helfte van dag een met die tweede helfte van dag twee van die Luiperdroete. Vanaf die huis klim ons die stywe bult met die naam Kick-Start. In die eerste tien minute verskyn daar vier skilpadjies op ons pad – van handgrootte outjies tot bielies. Weerskante van die pad is malvas en ons merk ook die oorblyfsels van ’n ou dam. As jy eers die plato bereik, is die pad rustig en geleidelik afdraand deur geil gras. Lank gesels ons oor ons reisdrome en maak lysies in ons koppe – ons gesin het gróót planne om nog lang paaie saam te stap! Die uitgeholde termiethope lyk soos pizza-oonde. By die murasie van ’n ou geboutjie is ’n trop perde wat nuuskierig naderstap. Die viooltjieagtige blomme en groen gras verklap dat hier water naby is en inderdaad is dit die smal kloof van Gabriel’s Loop, maar in die plek van die salige, helder swempoele wat ons verwag, is dit ’n troebel poel. Duidelik het dit nie genoeg gereën nie – die stilstaande poel is die ene slyk en paddas. Dapper stap ons die halfuur bergop na die Reflection Pools, maar dis ewe troebel… Wanneer dit vloei, moet Gabriel’s onvergeetlik wees, maar vandag is ons teleurgesteld.

Dis 38 °C en die roete is boomloos. Omdat ons niks lus is om op die hitte van die dag te stap nie, lê ons ’n uur op ons rûe onder ’n oorhangkrans en kyk na die swaeltjies wat deur die blou lug glip. Die kinders speel trom met stokkies op ’n klip. Ons skep moed toe Gerrit drinkwater in ’n poeletjie hoër op teen die berg vind – so warm soos teewater. My voete brand deur my skoensole as ek te lank stilstaan, maar die kinders is vrolik, daarom volg ek maar hul vrolike voorbeeld. Die bobbejane (waarna die Baviaanskloof vernoem is) laat spaander toe hulle ons sien, en beloer ons vanaf die kranse. Ons stap deur fynbos en boegoegeure in die lug. Die silwer seders lyk soos Kersfeesboompies. Die klippe by Dragon Ridge is wit en groot – dalk draakeiers? Aan einde van die roete wag die indrukwekkende rooi krans wat ons gewoonlik vanaf die plaashuis se stoep sien.

By die voordeur gekom, is ons verbaas deur die geraas van twee passievolle parende bergskilpaaie! Dis steeds snikwarm en ons spring in die dam, tuimel en tol soos otters. Verkwikkend. Daarna deel ek en Gerrit ’n koue boetiekbier wat op Baviaanse bodem gebrou wordGeskend deur die ontberinge van ’n stapavontuur het ons sonverbrande nekke, stukkende skoene en my broek wat so ver geskeur is, dat dit nou amptelik broekskeur met my gaan – maar ’n klaagpot kry jy nie in ons geledere nie. Daarvoor is die mooiheid darem net té mooi. Ná sononder sak ’n genadereëntjie uit en ons asem die veldgeure in voordat ons wegdommel in drome.

(Foto: Carina Stander)

Die laaste oggend maak ons oudste ons wakker met koffie en beskuit. Ons kuier vir oulaas op die stoep voordat ons teen half agt die roete deur die Baviaanskloof Natuurreservaat aandurf. Dis ’n roete wat ons al jare lank wil ry, maar ons het nie die regte voertuig gehad nie. Karjakker, ons Fortuner, is nou drie maande oud en dis sy heel eerste stofdoop, sy eerste “road trip”. En wat ’n rit! Eers ry jy verby plase. Die landskap herinner aan die Bosveld met sy soetdoringbome wat hul geel bloeisels oor die pad sprinkel. ’n Troppie angorabokke wei aan die peule en ’n bobbejaantrop van so vyftig swerkaters grou in ’n landery. Ek raai dat die aalwyne in die winterblommaande iets is om te aanskou.

Al is dit midsomer, is dit vandag bewolk, soel en koel – skaars 23 °C. By die westelike hek van die Natuurreservaat vertel amptenaar Clive dat ’n buffel en renoster sy voertuig ’n paar weke gelede gejaag het. Hy skat die roete deur die reservaat neem so drie en ’n half uur tot by die oostelike hek.

Net anderkant die hek by Nuwekloof is die Sleutel (’n enorme gesplete rots) en die oorblyfsels van die hangleer wat deur heuningversamelaars gebruik is om die byekorwe onder die oorgangrots te bereik. Ons is op die uitkyk vir die Sewe Dwerge-rotsformasie en die inheemse sederbome. Die Campbell-gedenksteen is hier opgerig vir die slagoffers van die 1916-vloed.

(Foto: Carina Stander)

Daarna kronkel die pad deur Studtispoort waar dit dié tyd van die jaar van die blommende soetdoringbome wemel.

“Dís ook nou weer tipies, reis is darem nes die ou lewe!” roep ek. “Die een dag verwag jy ’n swempoel, maar jy kry slyk; die volgende dag verwag jy ’n dor landskap, en jy kry bloeisels!” Die renosterveld (’n rare mengsel van fynbos en vetplantjies) is ewe pragtig.

Die pad raak hoe later, hoe kwater. Ons vorige tjor, ’n sedan, sou oor die grondpad gehik en gesnik het, maar nie Karjakker nie! Karjakker is ’n rakker en hy stof die dongas uit. Ons sien Scholtzberg in die verte: Op 1 625 m is dit die hoogste piek in die Baviaanskloof-bergreeks. Ons hou stil en klim uit by Grasnekpas vir ’n dramatiese uitsig. Hierna kronkel die roete al hoër op met die Holgatpas. By Bergplaas hou ons stil op die plato en stap verby heide, speldekussing- en koningproteas na die ou kabelweg wat ’n plaaslike boer, ene Winston le Roux, in 1967 opgerig het. Hy het die kabelweg toentertyd gebou omdat hy plase aan weerskante van die kloof besit het en dit wou gebruik om sy goedere en vee te vervoer – 410 m ver bo-oor ’n hengse hoogte van 287 m! ’n Legendaries man.

Die laaste pas, Combrinck, is steil. Ons besef ’n halwe bottel ingelegde kwepers is die enigste kos in die kar en my manne word honger, daarom talm ons nie verder nie en vat die laaste stuk pad tot by Poortjies. Hier raak dit al hoe ruier met talle stroompies waarlangs boomvarings, vyebome, kalanders en witstinkhoute groei.

In al die ure deur die Baviaanskloof Natuurreservaat het ons skaars tien ander karre teëgekom. Sondagstil? Ek reken op weeksdae is dit selfs stiller! Koronavirus-verantwoordelike sosiale afstand? Belaglik maklik in die Baviaans! Is dit die moeite werd om te bespreek? Absoluut, veral as jy van nuuts af verlief wil raak op die wilde skoonheid van ons land.

(Foto: Carina Stander)

Reiswenke:

  • Jy kan die 200 km-pad van die Baviaanskloof per voertuig verken, maar as jy die geheimenisse van die kloof werklik wil beleef, verken dit per fiets of voet.
  • Cedar Falls-gastehuis is selfsorgverblyf op die gelyknamige pragplaas van Go Baviaans. Dit het vier slaapkamers (slaapplek vir agt) en twee badkamers, ’n gerieflike kombuis en ’n stoep wat jou hart sal steel. Daar is ander verblyfopsies ook op die plaas. Sorg dat jy lank genoeg bly om ’n hele paar van die dagstappe aan te pak – dis ’n goeie alternatief vir diegene wat nie die vierdag Luiperd-staproete kan doen nie. Veral die stap na Cedar Waterfall is een van die allerpragtigste eendagstaproetes in ons land. Skakel Catherine: 074 939 4395. Webwerf: Gobaviaans.co.za
  • Ry die bergpasse en grondpad van die Baviaanskloof Natuurreservaat met ’n sterk, betroubare voertuig. Daar is geen eetplekke of padstalletjies binne die reservaat nie – neem jou eie kos en water en hou genoeg stil om die uitsigte in te drink. Die hekke open 09 00. Daar is ’n toegangstarief. (Mens kry nie korting met ’n Wild Card nie.) Skakel Oos-Kaap Parke en Toerisme: 043 492 0881.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peter ·

Carina Stander Baie Baie dankie jy maak ‘n ou man van 80 se hart bly -ek het in 1978 saam met 3 ander manne van ons gemeente in PE met ‘n Volkswagen daardeur-deesdae ry almal met “grand” 4X4’s — twee van die manne Hans Strydom en Hohan Smith het van daardie wereld gekom!! Tot by Statis gery en daarvandaan tot in Willowmore-of soos die plaaslike mense se Wiilemoer!!
Ai!-die wereld is darem een woord pragtig, ons God se skepping!!- wat ons nie aldag waardeer nie!! Jou mede Maroelaar!! Peter John Kilian

Lynelle ·

Pragtige fotos Carina, jy vat ons sommer nou weer ver terug. Baviaans bly besonders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.