Foto’s: Bewandel die berg van die draak

Carina Stander en haar seuns. (Foto verskaf)

“Ukhahlamba”, noem die Zoeloes dit: Die muur van omgekeerde spiese. Ons ken dit as die Drakensberg – ʼn plek waar mites groei soos gras. Die Berg, soos die plaaslike mense dit liefderik noem, is fabelagtig mooi, gevaarlik, en ewig onherbergsaam. Dis ʼn stappersparadys met ʼn magdom valleie, glinsterende watervalle, grotte, ysingwekkende bergpieke, klippilare, maagdelike woude en grasheuwels besprinkel met blomme. Die lug is fluitskoon en die strome spieëlblink.

Ons gesin het die uKhahlamba-Drakensbergpark in die Sentrale Drakensberge van KwaZulu-Natal besoek. Monk’s Cowl, waar ons die meeste van die tyd deurgebring het, is deel van die 260 000 ha Maloti-Drakensbergpark. Dit bied toegang na van die wonderlikste wildernisgebiede in die land: die Mlambonjaberge en Mdeleloberge. Champagne Castle (3 377 m) is deel van Monk’s Cowl en is die tweede hoogste piek in Suid-Afrika. Weens die ryke verskeidenheid van plante, insekte en voëls en die groot versameling van San-rotskuns, is die Drakensberg verklaar tot Gemengde Wêrelderfenisgebied.

Meer as 30 000 San-rotstekeninge is in 520 rotsskuilings in die Maloti-Drakensberge gevind. Van die 1 800 plante wat hier aangeteken is, is 350 endemies tot die gebied. Die bedreigde Drakensberg-broodboom (ʼn lewende fossiel wat uit die dinosourusse se tyd dateer) word ook die vuur-en-ys-broodboom genoem, omdat dit veldbrande en sneeu kan oorleef. Teen die warm, droër, rotsagtige noordelike hange het ons verby boomvarings gestap, asook die dwergprotea, silwersuikerbos, die ligpienk lippeblomsuikerbos, die saliehout en ouhout. Teen die natter, suidelike hange is ons betower deur die opregte geelhoute, boomvarings, swamme en sampioene. Op die kruin was die heide volop en die wildlewe skaars, behalwe vir ʼn blaffende bobbejaan. Ons het ook bosbokke en klipdassies aangetref.

Ander bokke wat hier dwaal is die klipspringer, grysreebok en elande en met goeie rede: In ʼn goeie reënjaar soos vanjaar is die gras geil en is dit die ene rooigras, bootjiegras, assegaaigras, polgras, hoëveldse suurgras en tweevingergras wat heuphoog groei. Die Drakensberg is ook bekend vir roofvoëls en ons het ʼn kransvalk sien sweef, asook ʼn lammergeier en ʼn jakkalsvoël.

Die Drakensberg in al sy glorie. (Foto verskaf)

Die Berg van die Draak is egter nie ʼn man en ʼn meisie se maat nie. Daar is glo ʼn storie wat vertel word, deur die oumanne van Amangwane wat sit om die kraal van Dukuza in die vallei van Mnweni, van die draak van die Drakensberg wat elke jaar ʼn menselewe vir homself neem. “Come not between the dragon and his wrath”, waarsku Shakespeare in King Lear. Ek reken die draak van die Berg is ʼn verskynsel: die weer. Die weersomstandighede in die Drakensberg kan sonder waarskuwing in ʼn ommesientjie swaai en dan kan jy enigiets te wagte wees: sneeu, ysreën, stormwinde, digte mis, skouspelagtige weerlig, veldbrande, vloede en hittegolwe. Jy kan ook verras word deur ʼn pofadder, bergadder of rinkhals. Dit is daarom uiters noodsaaklik om die register by die ingang in te vul voordat jy pad vat, sodat die reddingspan weet waar om jou uit te katrol indien nodig.

Die Drakensberg het talle kort stappe vir stoelpatatas en uitdagende roetes vir fikse bergbokke. In die agt dae wat ons gesin die Drakensberg bewandel het, het ons 88 km se dagstappe voltooi. Sommige sirkelroetes het ons meer as een keer gestap – elke keer in ʼn ander rigting. Al die roetes wat ek hier onder lys, begin en eindig by Ezimvelo KZN Wildlife-kantoor by Monk’s Cowl-natuurreservaat se hoofhek waar jy die bergregister moet teken en ʼn permit kry voordat jy die berge invaar. Vir Wild Card-lede is toegang gratis.

(Foto verskaf)

Die Sphinx en Blindman’s Corner:

 Die roete vanaf Monk’s Cowl se ingangshek na die Sphinx is mooi en matig. Op pad sal jy die lieflike Crystal-waterval bereik. As jy agter die watervalgordyn wil instap, kan jy deur ʼn deursigtige sluier na die wêreld kyk. Die Sphinx is ʼn enorme rots wat in die regte lig soos die mitiese wese lyk waarna dit vernoem is. Die uitsigte van bo is pragtig – dis die ene berge, valleie en veldblomme. Die sandsteenkranse is veelkleurig, van swartgrys tot byna blou, roomkleurig, geel, roesrooi en stofpienk.

Die fikses kan vanaf die Sphinx opstap na Blindman’s Corner en via Keartlandspas terug. Op die plato is dit soms modderig en moerasagtig met biesies. Keartlandspas is baie steil op sekere gedeeltes en seepglad. Ons is oorval deur digte mis en moes gly-gly en rem-rem teen die steiltes af, met angswekkende afgronde aan die een kant! Die totale afstand vir die sirkelroete is ʼn raps meer as 12 km en neem ongeveer 6 ure om te voltooi.

(Foto verskaf)

Sterkspruitwaterval na die Poele:

Die roete vanaf Monk’s Cowl se ingangshek na die Sterkspruitwaterval is ʼn maklike, reguit afdraande pad. Jy kom nie tasbaar-naby aan die waterval nie, maar sien dit van die oorkantste krans af. Die klim terug na die beginpunt is ʼn bietjie opdraande. Die pad is goed gemerk. Dis 3,4 km en neem ongeveer 1,5 uur.

Kikker die roete op deur vanaf die Sterkspruitwaterval na die Poele daar naby te stap. Die Poele is natuurlike “swembaddens” in die rivier met lekker groot klippe rondom waar jy kan piekniek hou, terwyl die jongspan in die water baljaar. As jy beide die Sterkspruitwaterval en die Poele by die roete insluit, is dit ongeveer 5 km in totaal.

Sterkspruitwaterval na Nandiwaterval:

Dis ʼn goeie idee om vanaf die Sterkspruitwaterval verder te stap aan die noordelike oewer van die Sterkspruit. Vir diegene wat nie stapfiks is nie, is die styging maklik genoeg en die paadjie is goed gemerk. Dis ʼn sirkelroete wat jou beloon met berguitsigte en veldblomme soos sewejaartjies, wildedagga, watsonia, vuurpyle, fynbos en grasklokkies in die grasvelde. Nandiwaterval is pragtig en die woud rondom blink van die sproeireën.

(Foto verskaf)

Hlatikhulu:

Hierdie is een van die lieflikste dagstappe wat ek al ooit op enige plek gedoen het. Hlatikhulu beteken “groot woud”. Vir ʼn groot deel van die roete stap jy in ʼn welige woud wat so groot en magtig soos ʼn groen katedraal voel.

Vanaf die ingangshek van Monk’s Cowl vat jy pad na Sterkspruitwaterval. Kies dan die roete waar dit Sterkspruit oorsteek en vul jou waterbottel, want die pad wat voorlê het ʼn effense klim. By die aansluiting neem jy die pad wat jou in die woud in sal lei. Die Hlatikhulu-woud sal jou betower met hoë bome en dik rankers; varings en geelhoute; blommende lugplante wat bo-op die boomstamme groei; hangende mos en mosbegroeide rotse; bont swamme en sampioene; die voëls en talle swenkende strome. Volg die pad uit die woud terug na die rivier waar ʼn swemgat is. Stap dan die kort ent verder tot by die pragtige Nandiwaterval. Hierna stap jy terug na Monk’s Cowl se ingang – deur veldblomme en met mooi uitsigte van die berge alom. Die roete van 8 km het ʼn klim van 330 m. Gun jouself 4 ure om dit te voltooi.

Nog doendinge in die Champagne-vallei:

Die Drakensberg Seunskoor. (Foto verskaf)

Nadat jy die berge te voet verken het, kan jy jouself met ʼn rustiger aktiwiteit beloon wat jou sal help om nog dieper onder die vel van die gebied in te klim. Hier is ʼn paar unieke doendinge:

Die Drakensberg-seunskoor, oftewel die Drakies, is al sedert 1967 ʼn kulturele fenomeen van passie, perfeksionisme en pret. Toentertyd is die koor gestig in navolging van die Weense seunskoor. Tans bestaan die skool uit 75 seuns van graad 4 tot graad 9, wat uit landswye oudisies gekies is, waarvan 54 volwaardige koorlede en 16 koorlede-in-opleiding is. Hulle skooldag bestaan uit sewe algemene akademiese lesse, twee ure van koorrepetisie en sport in die middae. In gewone jare (wanneer Covid die mensdom nie pootjie nie) hou hulle tot tagtig konserte per jaar, insluitend die weeklikse konserte in die Ken Mackenzie-ouditorium op die skoolgronde, asook nasionale en internasionale toere en twee musiekfeeste, Music in the Mountains en Kersfees in die Berg. Om die besonder begaafde seuns in hulle eie ouditorium tussen die berge te beleef, is ideaal. Ek het nie verwag dat my relatief onmusikale laerskoollaaitie die konsert sou geniet nie, maar ons hele gesin was in vervoering en hoendervleis! Die konsertprogram vir 2022 sluit klassieke werke in soos “Gloria” van Vivaldi en “Lacrymosa” van Mozart, kontemporêre musiek soos “Nella Fantasia” uit die film The Mission, “Follow you” van Imagine Dragons, “Kiss the girl” uit die film The Little Mermaid en ʼn sameraapsel van Andrew Lloyd Webber se musiekblyspele. Die rubbersteweldanse en djembe-tromspel is heerlik energiek en hulle sing ook ʼn Afrikaanse gedig, Zoeloe en Tswana gebede, ʼn Sotho-straatlied en ʼn Xhosa-wiegelied wat ʼn mens sommer weer trots Suid-Afrikaans laat voel. Baie van die mense wat betrokke is by leierskap, is oud-Drakies soos alumnus Vaughan van Zyl (kunsdirekteur), Tristan Trent (produksiehoof) en JJ Leteane (klankingenieur). Die musiekhoof, wat ook die koor begelei, is die beroemde pianis Lisa Joubert wat hoeka die bekende liedjie, “Lisa se klavier”, van Koos Kombuis geïnspireer het. Weeklikse konserte is Woensdae 15:30 en Saterdae 10:30. Vir meer inligting, skakel 036 468 1012. Besoek Dbchoir.com vir die toerprogram en www.webtickets.co.za vir besprekings.

Gaan kuier by die Valley Bakery. (Foto verskaf)

Valley Bakery is gesellig, ruim en heilsaam. Hier kry jy jou daaglikse brood asook varsgebakte croissants, quiche, beskuit, koek en tert. Alles is 100% natuurlik, ongebleik en sonder enige bymiddels. Die koring word op die plaas verbou en die meel is klipgemaal. Jy kan ook aansit vir koffie en ʼn hartlike ontbyt. Vir meer inligting, skakel 060 397 7837 of 036 468 1017, e-pos [email protected], of besoek Champagnevalleystonemill.co.za.

Chocolate Memories is connoisseurs wat handgemaakte sjokolade hier reg in die hart van die Drakensberg vervaardig. Slegs die beste bestanddele word gebruik, soos natuurlike bourbon-vanilla en suiwer kakaobotter – geen palmolie of versadigde vette nie. Jy kan jou verlustig aan alles van truffels tot mousse, fudge, sjokolade-fondue, witsjokolade met ʼn tikkie karamel, suikervrye sjokolade (diabetes-vriendelik) en intense donkersjokolade. Gratis proe-sessies is moontlik. Hier is ook ʼn koffieroostery met egte boeretroos. Hulle is in die Cedarwood Village Centre in Winterton geleë. Vir meer inligting, skakel 072 310 3376, e-pos [email protected], of besoek Chocolatememories.co.za.

Verblyf in Champagne Valley aan die voetheuwels van die Sentrale Drakensberg is volop. Champagne Castle Hotel het die allermooiste uitsigte oor die berg. Hier is hotelkamers en gerieflike selfsorg chalets. Die poue en troppe perde dra by tot die romantiek. Vang forel in die dam en geniet die heerlike buffet-ete saans. Vanaf die hotel kan jy agt staproetes neem wat wissel van ʼn maklike 1 km rondom die dam tot 8 km na die Sphinx. Vir meer inligting, skakel 036 468 1063, e-pos [email protected], of besoek Champagnecastle.co.za.

Champage Lane is ʼn gesinsoord en tyddeel wat sorg vir ʼn tikkie bergnostalgie. Dit het uitsigte oor bergpieke soos Champagne Castle, Cathkinpiek, Monk’s Cowl, Sterkhorn en Dragon’s Back. Die grasdakrondawels is goed toegerus (slaap agt, ses of twee), die tennisbaan en speelgronde is prettig en die tuine is pragtig. Vir meer inligting, skakel 036 468 1215, e-pos [email protected], of besoek www.champagnelaneresort.com.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.