Bietjie De Hoop vir almal wat dit nodig het

De Hoop-natuurreservaat (Foto: Maroela Media)

In ʼn tyd waar peste en pestilensies ons almal pê het, is ʼn kort wegbreek soms net die energie-inspuiting wat jy nodig het. En wat is dan nou lekkerder as om weg te breek na ʼn plek waar die bokke, volstruise en bergkwaggas vry rondloop, kinders kan hardloop en lag en jy met ʼn skemerkelkie die sonsondergang kan dophou?

As jy jou in die Wes-Kaap bevind, dan moet De Hoop op jou moet-doen-lysie kom!

Bredasdorp Square

Bredasdorp Square (Foto: Maroela Media)

Ons het die Vrydagoggend uit Kaapstad gery en vir middagete by Bredasdorp Square stilgehou vir ʼn pizza. Dié imposante gebou dateer uit 1894 en vorm die hart van die oudorp. Binne word jy begroet met die mooiste dekor en geskenke waar jy na hartelus iets kan uitsoek vir almal in die familie – van jou niggie en kleinseun tot oupa of selfs jou buurvrou. Hier is sowaar iets vir almal.

Maak seker jy hou ook hier stil – selfs al is dit net om vinnig in te loer vir ʼn sny sjokoladekoek of om in die luukse kamers te oornag.

Op pad na De Hoop

De Hoop Collection se akkommodasie langs die De Hoopvlei (Foto verskaf)

Van die oomblik wat jy op die grondpad afdraai, op pad na die De Hoop-natuurreservaat, net meer as 40 minute buite Bredasdorp, kan jy reeds voel hoe die stadslewe agter jou verdwyn en jy jou sielevreugde in die natuur terugkry. Wanneer jy egter verby die hoofhek oor die bult ry en die uitgestrekte landskap voor jou sien lê – Koppie Alleen se sandduine voor jou en die De Hoopvlei skuins regs in die verte, dan weet jy dis hier waar jy weer die stuk hoop gaan terugkry wat jy stuk-stuk verloor het.

Die grond van die De Hoop-reservaat, wat tans deur Cape Nature bestuur word, het in die 1700’s aan die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie behoort. Dit is uitverhuur aan vryburgers. Die grond is in verskillende plase opgedeel en die eerste een wat uitverhuur is, was die gebied waar die oorspronklike opstal vandag nog staan. Die plaas was sowat 14 500 hektaar groot en een van die ou sirkelplase waar die grense bepaal is deur hoe ver die boer binne ʼn uur in verskillende rigtings kon ry van ʼn sentrale punt af. Dié sentrale punt was die Melkkamer. Die plaas se naam was ʼn verwysing na die hoopvolle aard van boerdery in ʼn gebied met swak grond en ongunstige klimaat.

Van die strukture wat jy vandag op die reservaat sien is van die geboue wat destyds opgerig is. Die geskiedkundige eenhede vertel elkeen sy eie interessante verhaal.

Gaan verken gerus die reservaat te voet – elande, bontebokke, volstruise en Kaapse bergkwaggas loop vrylik rond. Die De Hoopvlei is boonop ʼn lushof vir enige voëlkyker met meer as 260 voëlspesies wat hier kom nes maak.

Aasvoëlkolonie

Aasvoël in die lug (Foto: Anton Crone/verskaf)

Een van die talle ervarings wat jy kan meemaak is ʼn besoek aan Potberg se aasvoëlkolonie. Maak seker jy pak jou stapskoene, hoed en verkyker in en maak jou gereed vir ʼn stewige klim na bo (ongeveer ʼn uur lank, afhangend van hoe fiks jy is) – maar dis elke treë die moeite werd.

Die bedreigde kransaasvoël broei hier en Potberg is die Wes-Kaap se laaste oorblywende kolonie van dié spesiale voëlspesie. Talle kenners was besorg dat die spesie nie sou oorleef nie weens verwoesting van hul natuurlike habitat, ʼn toename in boerdery en vergiftiging. In die laaste dekade het die kolonie van sowat 100 voëls egter uitgebrei tot ongeveer 200 aasvoëls, te danke aan CapeNature se bewusmakingspogings en opleiding aan plaaslike gemeenskappe.

De Hoop se toergidse is vriendelik, behulpsaam en baie kundig om dié uitstappie onvergeetlik te maak. Van die uitsigdek kan jy kyk hoe die yslike voëls – met ʼn vlerkspan van ongeveer twee en ʼn half meter – moeiteloos deur die lug swiep en duik.

Op die roete kan jy boonop seldsame fynbosspesies raakloop met ʼn weergalose uitsig oor die oseaan en duine.

De Hoop pak selfs vir jou ʼn piekniekmandjie wat jy in ʼn rugsak kan saamneem. Die uitstappie is vir gaste ouer as 12 met ʼn minimum van twee gaste en ʼn maksimum groep van 10. Kostes beloop R550 per persoon (piekniekmandjie ingesluit).

Begeleide eko-bootreis

Eko-bootreis (Foto verskaf)

Die reservaat het vanjaar ongekende reënval geniet en die De Hoopvlei se watervlakke was hoër as wat dit in jare was. Ons toergids het sy misnoeë uitgespreek dat ons nie tydens ons besoek die hordes voëlspesies kon sien wat hulself gewoonlik kom tuismaak in dié vlei nie, maar selfs tydens ons rustige en stil rit oor die water kon mens hoor hoe die verskillende voëls roep.

ʼn Oggendvaart (omstreeks 11:00) sluit tee, koffie en fyngebak met croissants in terwyl jy met die middagvaart (omstreeks 15:00) wyn, plaaslike bier, vrugtesnap en southappies kan geniet. 

Ons was gelukkig genoeg om ʼn laatmiddagvaart te onderneem en het die son sien sak in die weste met ʼn skemerkelkie in die hand. Witkeelswaels het onder die boot nesgemaak en hulle het kort-kort voor ons uitgevlieg om op die rand van die boot saam te ry.

Kostes beloop R375 per persoon.

Mariene uitstappie 

Kundige toergidse deel die interessantste inligting (Foto: Maroela Media)

ʼn Hoogtepunt en iets wat beslis op jou emmerlysie moet wees! ʼn Begeleide toer onthul die oorvloedige seelewe in rotspoele. Een van die gaste het laat weet sy is oortuig die toergids is ʼn towenaar – want elke keer wanneer hy sy hand in ʼn rotspoel insteek, kom hy met iets nuut te voorskyn. Seesterre, seeanemone, seekomkommers, sponsdiere, seeslakke … te veel om op te noem.

Omdat die De Hoop-natuurreservaat binne ʼn mariene beskermde gebied geleë is, is dié rotspoele ryk aan seelewe. Mariene lewe wat jy voorheen nog net in akwariums te sien kon kry, kan jy vir die eerste keer in jou hand vashou.

Vanaf die spierwit duine kan jy boonop tussen Junie en Desember die Suidelike noorkappers hier te sien kry. Walviskoeie en hul kalfies speel te heerlik in die golwe en daar is nie ʼn boot, waterponie of branderplankryer in sig om hulle te steur nie.

Elke jaar besoek sowat 40% van die wêreld se Suidelike noorkappers dié kusgebied en tydens die seisoen is dit die tuiste van tussen 500 en 600 walvisse.

Kostes vir die begeleide mariene uitstappie beloop R250 per persoon.

Troues, familie en vriende

Akkommodasie vir vriende en familie (Foto: Maroela Media)

De Hoop Collection, wat die akkommodasie in die De Hoop-natuurreservaat bestuur, bied uitstekende akkommodasiegeriewe insluitend selfsorg-eenhede en kampstaanplekke.

Dit is ook ʼn besonderse plek vir ʼn onvergeetlike en ontspanne naweektroue saam met jou familie en vriende. Tot 120 gaste kan by De Hoop Collection tuisgaan in ʼn verskeidenheid van akkommodasiegeriewe in ʼn reeks bekostigbare maar luukse eenhede. Van die geriewe sluit aandete en ontbyt in terwyl ander selfsorgeenhede is – kies gerus wat vir jou die gerieflikste gaan wees.

Maak seker jy pak jou stapskoene of bergfiets in om die gebied te verken!

Akkommodasietariewe beloop vanaf R2 220 per persoon wat deel (waar aandete en ontbyt ingesluit is) tot R10 000 (waar tot agt gaste in die selfsorgeenheid kan tuisgaan). Klik hier vir ʼn volledige lys van tariewe.

*De Hoop Collection is ʼn lid van Cape Country Routes

Lady Stanford-bootvaart

Op pad terug na Kaapstad het ons na Stanford afgedraai vir ʼn riviervaart op die Lady Stanford. Stanford is ʼn ouwêreldse, historiese dorpie, sowat 1,5 uur uit Kaapstad en net 30 minute buite Hermanus.

Tussen sonop en sonsondergang kan jy dié rustige twee uur lange vaart op die Kleinrivier meemaak. Jy kan boonop ook die boot huur vir spanbougeleenthede of klein partytjies (bykomende dienste soos spyseniering en braaifasiliteite kan gereël word).

Die Lady Stanford is ʼn moderne, ekovriendelike rivierboot en ʼn gekwalifiseerde skipper het al die kennis en ervaring om die rit – veral vir voëlkykers – baie interessant te maak. Meer as 250 verskillende voëlspesies is in die groter Stanford-gebied te sien. Wees op die uitkyk vir visarende, flaminke, bloukraanvoëls, visvangers, reiers en vele meer.

Daar is ruimte vir tot 26 passasiers en aan boord vind jy voëlboeke, ʼn verkyker en komberse. Vaar verby die skilderagtige bergtonele op die onderste dek – wat bietjie skuiling bied of geniet die uitsig vanaf die oop boonste dek.

Stuur ʼn e-pos na [email protected] om jou riviervaart te bespreek.
Klik hier om die webwerf te besoek.
Kostes beloop R225 per persoon vir ʼn riviervaart van 2 ure.

*Lady Stanford is ʼn lid van Cape Country Routes

De Hoop Collection: Handige wenke en wat jy moet weet

  • Die natuurreservaat se hek is oop van 06:00 – 18:00 (19:00 op ʼn Vrydag). Toegang is R40 per persoon vir oornag gaste en R50 per persoon vir dagbesoekers. Toegangsgeld is betaalbaar in kontant.
  • Onthou, jy besoek ʼn natuurreservaat. As jy die kinders in die aand gewoonlik met ʼn televisiestorie besig hou, moet jy eerder ʼn storieboek of bordspeletjie inpak om hulle mee besig te hou. Hier is nie lawaaierige televisies in die kamers nie.
  • Onthou jou sonskerm, hoed en stapskoene.
  • Pak gerus jou verkyker in as jy van plan is om die aasvoëlkolonie te gaan besoek of as jy die honderde walvisse in die baai wil dophou.
  • Die Fig Tree-restaurant bied smaaklike disse en is baie gewild. Maak dus seker dat jy ʼn tafel bespreek vir aandete. Die kaggel word aangesteek as die weer dit toelaat.
  • Alle aktiwiteite hang af van die getye en weersomstandighede. Maak dus seker dat jy minstens ʼn dag vooraf opnuut jou bespreking bevestig.
  • CapeNature laat nie toe dat enigiemand ná sonsondergang op die reservaat rondry nie.
  • Maak seker jy pak ʼn flits in as jy saans van die restaurant af wil terugstap na die selfsorgeenhede.
  • Die naaste petrolpomp is sowat 15 – 20 minute se ry weg en slegs tydens besigheidsure van Maandag tot Vrydag beskikbaar. Maak dus seker dat jy eerder by ʼn vulstasie in die laaste dorp opvul (Bredasdorp, Riviersonderend of Swellendam).
  • As jy in een van die selfsorgeenhede tuisgaan, maak seker dat jy alles inpak wat jy gaan benodig. Die winkeltjie verkoop slegs hout, vuuraanstekers en vleis. Dit is ʼn geskenkwinkel, en nie ʼn supermark nie.
  • ʼn Landingstrook van 900 m is beskikbaar vir helikopters en privaat vliegtuie. Klik hier vir meer inligting.

Toe nou, waarvoor wag jy? De Hoop het alles wat jy nodig het vir ʼn vrolike gemoed en sakke vol hoop.

Koel af in die swembad (Foto: Maroela Media)

Klik hier vir ʼn feiteblad met al die belangrike inligting.
Klik hier om die webwerf te besoek.
Klik hier vir ʼn volledige lys van tariewe.

*Tariewe is onderhewig aan verandering. Tariewe sluit slegs begeleide aktiwiteit in en slegs eet- en drinkgoed waar dit só aangedui word. Vooraf bespreking vir enige aktiwiteit is noodsaaklik. Kinders jonger as 11 jaar betaal 50% van die tarief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Snowball ·

As jy op ‘n kleiner begroting moet vakansie hou, is daar ander meer bekostigbare verblyf (bv Die Dam) nie ver van Gansbaai af waar jy ook dieselfde ongelooflike natuurskoon, mooi kuslyn, ryk seelewe en walvisse kan beleef. Dan is jy in elk geval nader aan Baardskeerderbos, Grootbos, Stanford en Hermanus ook. Alles plekke wat ook die moeite werd is om te verken. ‘n Mens betaal vir die luukse, maar die see, die fynbos, die walvisse en die skoon lug is oral verniet.

Charl ·

Pragtige natuurskoon en uitnemende fassiliteite en geriewe maar…..prysgewys bietjie oordoen, ons is nie almal miljoeners nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.