Blitskuier in Kaapstad: Maak die meeste van jou naweek

Kaapstad. (Foto: Verskaf)

Pasgetroud en in ons twintigs het ek en Gerrit vir vier jaar in Kaapstad gewoon. Ons het toe nog nie kinders gehad nie en ál die vrye tyd denkbaar gebruik om die stad te verken. Selfs vir twee mense wat nie tipiese stedelinge is nie, was Kaapstad vir ons fantasties. Die Tafelbergreeks is ʼn magtige teenwoordigheid wat die weer beïnvloed; die wildernis van woud, fynbos en see is op jou voorstoep; die middestad en Skiereiland krioel van uniekheid.

Die afgelope vyftien jaar woon ons in die Tuinroete en kom nie dikwels in Kaapstad nie, maar met ʼn onlangse blitsbesoek was dit heerlik om saam met ons seuns onder die vel van die stad in te kruip. Dié was ons avonture vir die naweek:

Die blommeryk van Kirstenbosch Botaniese Tuin

ʼn Eeu gelede het die geleerde Britse botanis, Henry Harold Pearson, sonder betaling ʼn verwaarloosde plaas in ʼn beroemde tuin aan die hange van Tafelberg omtower. Sy grafskrif in Kirstenbosch lees: “If ye seek his monument, look around.”

Toe ons nog Kaapstedelinge was, het ons byna maandeliks die 6 kilometer-roete deur die inheemse Ceciliawoud gestap vir ʼn piekniek of buitelugkonsert by die Kirstenbosch Botaniese Tuin. Deur die jare het ons dié tuin seker al vyftig keer besoek, maar elke keer betower dit my.

Kirstenbosch is tot ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar. In die 528 hektaar is meer as 7 000 spesies van regoor Suider-Afrika. Die groot versameling proteas is besonders en jy kan jou verkyk aan vygies, aronskelke, clivias, blommende koraalbome en baldadige kraanvoëlblomme (Strelitzia reginae). In die lente maak die Namakwalandse beddings bont bakhandjies. ʼn Reusagtige bosvy slaan sy kloue in die grond. Daar is boomvarings en dammetjies, broodbome met lewensgrootte beelde van dinosourusse, ʼn beeldetuin, bonsai-versameling, klipbeelde en bronsbeelde. As jy dink hoeveel ure se vreugde die tuin bied, is toegang spotgoedkoop: R80 vir volwassenes, R25 vir skoolgaande kinders, gratis vir voorskoolse kinders en gratis vir bejaardes op Dinsdae. Beplan ten minste drie ure vir die tuin, neem jou eie piekniek saam of eet by die restaurant. Skakel 021 799 8783 of 021 799 8773, of besoek die webwerf.

Beleef Tafelberg te voet

Stap op na Tafelberg. (Foto: Verskaf)

Die maklikste manier om die ikoniese Tafelberg te bestyg, is met die kabelkar, maar as jy enigsins die lus in jou litte het, doen jouself ʼn guns en beleef die berg te voet. Tafelberg is deel van die Kaapse Blomkoninkryk en dis tot een van die Sewe Natuurwonders van die Wêreld verklaar. Tafelberg is ook een van die oudste berge op aarde.

Daar is talle roetes berg-op, maar terwyl ons by Kirstenbosch Botaniese Tuin was, het ons sommer die kans benut om Skeleton Gorge uit te klim. Dis een van die heel mooiste roetes aan die oostelike kant van die berg en bied ʼn mengsel van inheemse woud, fynbos, watervalle en interessante rotsformasies. Omdat dit onlangs gereën het, was die leer waarmee ons moes opklim gedeeltelik binne die waterval – groot glyrisiko! Ek was alleen met my twee seuns van veertien en tien en dan ook hulle laerskoolnefie, maar gelukkig is hulle regte bergbokke en ons is veilig anderkant uit. Ons is bo Nursery Ravine verby en by Constantia Nek af waar ons met iemand gereël het om ons op te laai. Staptyd is tussen 3,5 en 5 ure, afhangend van watter rigting jy inslaan. Die bergweer kan in ʼn oogwink verander – ons weer het gewissel van sweetwarm tot winderig met ligte ysreën, en dit in die somer. Neem altyd genoeg drinkwater en warm klere.

Oornag in die karaktervolle Bo-Kaap

Die karaktervolle Bo-Kaap. (Foto: Verskaf)

As jy nou regtig ʼn “sense of place” wil ervaar, gaan bly vir ʼn slag in die Bo-Kaap, die deel van Kaapstad wat ook as die Kaap Maleise-kwartiere bekendstaan. Met sy keisteenstraatjies en gekleurde bont huisies, is dit een van die mees fotogeniese dele van ons land. La Rose B&B in die Bo-Kaap is ʼn vervlegting van die eienaars se kulture – ʼn titsel Indiese en Franse invloede, asook ʼn tikkie Kaaps Maleis. Adheera is ʼn Indiër van Natal en ʼn prokureur, maar sy het nog altyd heimlik daarvan gedroom om ʼn gastehuis te besit. Yoann is van Frankryk. Toe hy 21 jaar oud was, het sy avontuurlus hom na Suid-Afrika gelei, waar hy op ons mooi land verlief geraak het – en op Adheera. Hulle het besluit om ʼn ou huis in die Bo-Kaap in ʼn gastehuis te omskep waarvan die deure in 2007 geopen het. Elke en-suite slaapkamer is stylvol en fluitskoon. Ek en Gerrit het in een kamer geslaap, terwyl ons seuns ʼn ander kamer op dieselfde vloer gedeel het. Die atmosfeer is ontspanne, huislik en kunstig. Toe ons gesin laatmiddag op die dakstoep met uitsigte oor die Bo-Kaap tee drink, het ons besluit dat die gastehuis ook ʼn Marokkaans gevoel het. Of dalk Meksikaans?

Die gastehuis is so sentraal, ʼn mens verwag nie dat jy so tjoepstil kan slaap nie – dankie tog vir dubbelglasvensters. Die ligging maak dit moontlik om van die bekendste bakens in Kaapstad te voet se verken sonder om oor vervoer bekommerd te wees. Dit is stapnaby van ʼn aantal plekke wat ek hieronder lys: 750 meter tot by die wonderlike restaurante in Langstraat; 1 kilometer tot by die Kompanjiestuin met sy museums; 3 kilometer tot by die Waterfront.

Die ontbyt is in die atrium waar natuurlike lig oor die rankende bougainvillea en koningsblou vensterrame invloei. Ontbyt is goeie koffie, tuisgebakte brood en ʼn omelet. Hier kan jy reisigers van regoor die wêreld ontmoet, en Yoann self sit graag en kuier met gaste oor ʼn koppie koffie voordat hy sy kinders skool toe vat. “La Rose is plek waar mense opdaag as gaste en weggaan as vriende,” sê hy. Ek glo hom goed. Skakel La Rose by 021 4225883. Vonkpos: [email protected] Webwerf: www.larosecapetown.com.

Kompanjiestuin

Die Kompanjiestuin in die middestad is die oudste openbare tuin in ons land. Dis in 1652 deur Hollandse setlaars begin met die doel om vars groente vir seemanne te kweek. Daar is rusbanke onder die reusebome, ʼn roostuin, kruietuin en restaurant. Seemeeue rus op die bronsbeelde en die uitsigte oor Tafelberg is allerpragtig. Terwyl jy daar is, loer gerus ook in by die Nasionale Biblioteek, die Sterrewag en St. George-katedraal. Die Suid-Afrikaanse Museum (Iziko South African Museum) is ʼn natuurhistoriese museum wat in 1825 gestig is en het ʼn goeie versameling fossiele, voëls en visse. Gun jouself ʼn halwe dag om al dié interessanthede naby die Kompanjiestuin in te neem.

Eet iets eksoties

Kom eet iets eksoties by Madam Taitou se restaurant in Kaapstad. (Foto: Verskaf)

Kaapstad is sekerlik die stad in ons land met die grootste samekoms van anderlandse smake. Maak die meeste van die geleentheid en eet iets nuuts. Van die 828 eetplekke in sentraal-Kaapstad wat op die publieke forum Tripadvisor gelys is, het Madam Taitou die sesde meeste stemme ingepalm – ʼn enorme prestasie. Die eienares, Helen Gebreyesus en haar man is albei oorspronklik van Etiopië. Sy is die sjef en hy sorg vir die fantastiese dekor. Dis ʼn sensoriese, ietwat surrealistiese ervaring om vanuit die trendy Langstraat by ʼn restaurant in te stap wat soos ʼn antieke oerwoud-basaar lyk. Die restaurant is ryklik met koperpotte, tapisserieë, Koptiese ikonografie, ʼn opgestopte gemsbokkop en luiperdvel, seepsteenbeelde, kralewerk, geweefde matte, kleipotte vol plante, skulpe, musiekinstrumente, wapens uit ander lande, antieke kaarte en boeke versier.

Ons gesin het in ʼn kring gesit en geregte gedeel. Bief “tibs” en lam “tibs”: gekapte bief en ontbeende lamsvleis wat geroerbraai is saam met uie, soetrissie, vars tamatie, roosmaryn en die spesiale Etiopiese spesery, berbere. Die geurige vulsels word in injera – glutenvrye Etiopiese pannekoek – opgerol. Ek het al ʼn hele klomp restaurante in my lewe besoek, maar die kos smaak soos niks anders nie. Dis ʼn eksotiese eetbelewenis wat voel soos ʼn reis in die kleine. Die poeding, asmerino, is geroosterde soetpatat met sjokoladesous. Die etes is billik en al was dit ʼn besige Vrydagaand, was die diens flink en vriendelik. Ons is versadig en sielstevrede daar weg. Besoek Madam Taitou by Langstraat 77. Vonkpos: [email protected]. Skakel hulle by 072 427 5184. Webwerf: madamtaitou.simdif.com.

(Foto: Verskaf)

Ander lekker doendinge wat ons tydens die naweekkuier kon inpas:

  • Die Victoria & Alfred Waterfront in die hart van Kaapstad se werkende hawe is een van die gewildste bestemmings in ons land met manjifieke see- en berguitsigte, gereelde opelug-vermaak en wêreldklas-winkels.
  • Chapmanspiek-rylaan is ʼn skouspelagtige bergpas wat hoog bo die see vanaf Houtbaai tot Noordhoek kronkel en is 11 kilometer lank. Maak ʼn halfdag-uitstappie daarvan en ry sit-sit-so verder deur die Skiereiland se mooi dorpies soos Kalkbaai en Simonstad.

● Chapmanspiek-rylaan is ʼn skouspelagtige bergpas. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.