Blommeprag en perdekrag

(Foto: Brian Cheyne)

Elke jaar met die draai van die seisoen ontplof Namakwaland met ’n kaleidoskoop van kleure. Dan klim almal in hul voertuie en haas soontoe. Die Facebook-groepies word oorval met vrae oor waar mens moet bly en waar die mooiste blomme is. Vir elkeen is daar tien verskillende antwoorde. Want sien, Namakwaland verras. Hy lewe en hy blom. Vandag op Skilpad, môre op Loeriesfontein. Jy kan niks voorspel nie; jy kan maar net saam met die golf beweeg.

Paulo Coelho het eenkeer gesê: “Eendag gaan jy wakker word en dan is daar nie meer tyd oor om die dinge te doen wat jy nog altyd wou doen nie. Doen dit nou!” Toe kom steel inperkings en grendeltyd ook nog die bietjie tyd wat ons het.

(Foto: Brian Cheyne)

My skoonouers wou nog altyd blommetjies gaan kyk het, maar toe hulle eindelik in hulle aftreehuisie intrek, en nie meer na die kleinkinders hoef om te sien nie, het die jare hulle ingehaal. Die afstand van Pretoria tot daar is net te groot. My skoonpa het hierdie jaar tagtig geword en ons het besluit om hulle te vat. Hierdie jaar nog. Ons gaan nie meer uitstel nie. Vir verblyf het ons besluit om drie aande in Springbok te vertoef en daarvandaan te verken. Jy kan onmoontlik voorspel waar die mooi blomme gaan wees, en ons wou nie sommer net ’n kans vat met verblyf nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Met die verblyf gereël, het ek Land Rover gekontak vir vervoer. Hulle het ingestem om hulle nuwe Defender 110 D300 X vir ons te leen vir die week. Die voertuig is ongelooflik luuks en verdien sy eie artikel.

Die pad deur die Wes-Transvaal het my weer weemoedig gestem oor hoe hierdie klein dorpies verval. Verstedeliking eis sy tol. Op Delareyville het ons verby die ou sportterrein gery. Daar in die stof, waar eens ’n groen veld sou wees, was ’n paar jong mannetjies besig om sokker te speel. Die paviljoen verlate en verwaarloos. Tog het hierdie manne met ywer gespeel, onbewus van die situasie waarin hulle is. Die NG Kerk is daar naby en ek wonder altyd hoe oorleef hierdie gemeentes.

Delareyville se sokkerspan. (Foto: Brian Cheyne)

Na ons oornagstop in Upington het ons die Augrabieswaterval besoek. Die rivier was maar klein in vergelyking met die wonderlike beelde wat ons vroeër die jaar gesien het. Tog bly dit ’n gesig om soveel water in hierdie dorre wêreld te sien. Daar is selfs ’n kameelperd of twee wat hier oorleef.

Op Pofadder het ons by ’n tuisnywerheid gestop en heerlike jaffels geëet. Met die betaalslag kon ek die versoeking nie weerstaan om vir my twee Wilson‑toffies ook te koop nie. Dit is wonderlik hoeveel herinneringe by my opgekom het met ’n eenvoudige boepensbroodjie en ’n toffie. Vandaar het ons gou by die Roomse Kerk in Pella ook gestop. Hierdie kerk is in 1895 ingewy en is gebou deur priesters met geen ervaring nie. Die kerk is steeds in gebruik.

Die Roomse Kerk in Pella. (Foto: Brian Cheyne)

Hoe nader ons aan Springbok gekom het, hoe meer het die spatsels kleur langs die pad sigbaar geraak. Oranje, geel en pers. Die Skepper se verfblikke was seker oorvol en het hier al begin mors. Net buite Springbok het ons ons tuisgemaak in die pragtige Liefland-selfsorgeenhede. Nie net is die plekke luuks en nuut nie, maar die stilte is oorweldigend. En die sterre! Ongelooflik.

Liefland se selfsorgeenhede. (Foto: Brian Cheyne)

Die Land Rover het ons geduldig gedra na die Namakwa Nasionale Park en oral waar ons die kleur gejaag het. Op Kamieskroon het een van die plaaslike mense, Sors Beukes, ons vertel waar ons die mooi moet gaan vind. Die Namakwa-park is mooi, maar is oorwegend oranje. Sors se dogter sê: “Alles is oranje. Dit lyk of ’n lorrie met nartjies daar omgeval het.” Sors het my gejaagde gemoed gesien en gesê: “Sit! Moet jou nou nie hier op hol jaag nie!” So het ons ook by die Kliphuis in Kamieskroon vertoef en Namakwaland se mense waardeer. Die blomme is oral. Al wat jy nodig het, is om te vra. Die plaaslike mense sal jou in die regte rigting stuur.

(Foto: Brian Cheyne)

Namakwaland en sy mense is goed vir jou siel. Volgens ons gasvrou, Laetitia van den Heever, is dit ’n harde wêreld waar hulle probeer oorleef. Covid en die droogte het ook nie gehelp nie. Maar die woorde wat my die meeste aangegryp het, was toe sy gesê het: “As jy nie in ons wêreld, Namakwaland, hard kan werk nie, dan hét jy nie werk nie.”

As jy nog wik en weeg om soontoe te gaan, hou op oorweeg en gaan! Môre is nie gewaarborg nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Mary Charlotte

Stem saam, heerlike opregte gul mense , die Namakwalanders, kan my verluister aan hul unieke manier van praat! Sout van die aarde.