Boerebarok kraai koning in Plett

bridal-tableHoe gemaak as jy dié Desember van die Tuinroete se strande af verwilder word deur ʼn hittegolf, ʼn wolkbreuk, ʼn wildvlaag, hiperaktiewe kleuters wat aan suikervergiftiging ly, studente in posseël-grootte bikini’s, jou baas (oeps, jy’t nie geweet hy’t ʼn strandhuis nie…), jou vervreemde skoonfamilie of watter skrikwekkende vloed van vakansiegangers ook al?

Vlug na Ouland Royale! Jy het egter géén ramp as verskoning nodig om aan die deur van dié barok skuur te klop nie, maar dit ís gerusstellend om te weet daar wag ʼn unieke, wonderskone plek van ontvlugting op jou.

victor-weding-019-1Wilja Reitz se deurdringende blou oë flits soos fosfor op ʼn brander as sy vertel hoe sy van kindsbeen af daarvan gedroom het om haar lyf sjef te hou. In 2013 het sy dié droom met hart en siel hier op haar ouma se plaas, Ouland, kom uitleef. As ʼn kind van die kontrei (haar pa is al jare lank ʼn veearts op Knysna) verstaan Wilja die behoeftes van die inwoners én diegene wat graag aan die Tuinroete kom vakansie hou. ʼn Fantastiese avontuur of ʼn avontuurlike fantasie. Dís mos wat mense in die streek kom soek.

Soos ek het Wilja ook haar nagraadse kwalifikasie in Beeldhoukuns behaal (maar by ʼn ander universiteit in ʼn ander jaar.) Haar kunshand is oral sigbaar in die enorme skuur, wat sy van die grond af opgebou het, van die loodglas-deur tot die antieke meubels met inlegwerk. Die purper stoele en mosterdgeel sofa is bietjie gek en baie speels en so ook die Barok engeltjie-lampe en ʼn voetstoel oorgetrek met luiperdvel. Vergulde spieëls, silwerware, lang tafels – alles voel eklekties en effens eksentriek.
005

ʼn Tikkie Art Nouveau (botanies en romanties), ʼn titsel oordadige drama van die Russiese koninklikes en ʼn bietjie plaaslike boereplaas. Dis daarom baie gepas dat Wilja haar plek Ouland Royale noem: ʼn samestelling van die familieplaas se oorspronklike naam en die liedjie, “Royal Hotel” van David Kramer

Tipies van die shabby-sjiek styl, is Ouland Royale nogal tong-in-die-kies. Dis ʼn plek wat jou wíl vermaak. Hier is ʼn ou staalraamfiets, vinkneste en rottangmandjies teen die plafon; ʼn pootjiesbad en kruiwa op die stoep, wat oorloop van die petunias. Talle oudwêreldse blomme om jou te plesier. Malvas. Laventel. Bloulelies. Waterlelies in die gronddam. Teen die koepeltjie in die tuin is pers rankrose. Wanneer die briesie waai, bring dit die malse soetheid van die jasmyn wat bo-oor die stoep se balke tuimel.

Wilja het ʼn hand in alles. Die stoffering en restourasie van die meubels, die lampskerms en die hoedens is haar handewerk. En natuurlik is sy die sjef! ʼn Eiesinnige soort sjef, wat self die slaaisous maak, dankie en die tuisgebakte rolletjie van jou hamburger vul met 200g bief, emmental kaas, gekarameliseerde uie, groenvye en geroosterde soetrissie. ʼn Burger soos jy in jou dag des lewens nog nooit beleef het nie!

ouland4Ewe verstommend is die organiese slaai met die lamsvleis wat vir vyf ure aaneen gerooster is, afgerond met vele avokadoskywe, tatziki en fetakaas. Om daarna die kaaskoek uit ʼn antieke Royal Albert bordjie te eet, bevegtig net weer jy is inderdaad weggevoer na ʼn ander wêreld. Want Ouland Royale is veel meer as ʼn eetplek. Dis ʼn fantasie. Dis die huis van ʼn kunstenaar. Dis haar heiligdom se deure wat sy hier vir jou oopmaak.

Doendinge binne ‘n halfuur se ry vanaf Ouland Royale

* Hoe gemaak as jy van die Tuinroete se strande af verwilder word deur redes reeds genoem, maar steeds lus voel om die see van naby te ervaar? Wip aanboord die ekovriendelike Ocean Blue! Hoewel winter die beste tyd is om walvisse te sien, is hier regdeur die jaar dolfyne wat deur die branders boogspring – soms honderde op ʼn slag! Dis ʼn see-avontuur vir oud en jonk. Op ons oop boot vir veertien mense, was daar van ʼn vyfjarige kind tot ʼn 75-jarige Duitse paartjie in eenderse safaridrag. In die 90 minute-lange bootrit verander die see van grysblou na diepblou en sien jy Formosapiek, die hoogste in die bergreeks, asook die kuslyn van Plettenbergbaai en Keurboomstrand. In die helder, ysgroen water rondom Robberg, kan jy kyk hoe die kolonie van 6 000 Kaapse pelsrobbe speel, duik en brul. Die reuse bulle waak bulkend oor die harem, terwyl die klein rob-karnallies op die rug dryf en jou met aartsonskuldige, seuntjieagtige oë aankyk. Onthou net: al raak jy hoe opgewonde, moet asseblief tog nie oorboord gaan nie! Skakel: 044 533 5083. Webwerf: oceanadventures.co.za

* Word weer kind tussen die bosreuse en boomvarings van die Tuin van Eden (044 532 7793). Die rolstoelvriendelike wandelroete is ʼn woonplek vir veertig voëlspesies, bosbokke, blouape en (as jy tjoepstil wag) selfs ʼn woudfeetjie of drie.

* Ouland Royale is oop vir ontbyt, middagete, troues en partytjies van tot 150 gaste. Dinsdag tot Vrydag 8.30 to 4nm, Saterdag 8.30 tot 12.30, maar tye wissel soms in die hoogseisoen. Vonkpos: [email protected] of skakel Wilja by 082 859 1250 en besoek die webwerf: oulandroyale.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.