Botswana en Zim: Oor olifante, sonsondergang en mense

Lizma saam met ‘n olifant in Botswana. (Foto: Verskaf)

Haar glimlag was so gul soos die sonsondergang oor die Chobe. En ons fooitjie was nie eens uitspattig nie. Maar Ozzy het gesê dit sou vir ʼn maand se elektrisiteit sorg.

Die vriendelike vrou in haar middel sestigs is ʼn portier by ʼn lodge langs ʼn stukkie van dié lewegewende rivier in die noordoostelike hoek van Botswana. Sy ontvang van April verlede jaar af net elke 45 dae betaling en maar net die helfte van wat sy voor die Covid-19-pandemie huis toe geneem het. Tog is Ozzy dankbaar vir die werk en glo, al begin die toeriste nog maar drupsgewys terugkom, dat Botswana weer sal lééf. Haar woorde is soos die belofte van reën wat in die al hoe harderwordende gegons van die sonbesies gehoor kan word.

Sonsondergang oor die Choberivier. (Foto: Willem Kellerman)

Dis 39 grade in Kasane. Die hitte is ʼn aanslag op jou lyf en ons soek deur die dag onder waaiers skuiling. Straatbrakke oortrek met stof en bosluise lê in skadukolle onder die dakke van die winkeltjies in President Avenue. Ek sit water en kos neer waar ek kan en verloor my hart op een hond in besonder wat met haar dankbare oë soos ʼn mens glimlag en haarself op haar rug vir ʼn maagkrappie neervly.

Ons eerste wildrit begin 16:30 en steeds staan die kwik op 37 grade. Gewapen met ʼn koelboks spring ons egter gesonroom en gehoed op die oop voertuig. ʼn Jong wittebroodspaartjie van Johannesburg is ons medeverkenners en sit, soos wat dit jong verliefdes betaam, styf langs mekaar op die agtersitplek van die tydbeproefde viertrek. Toergids Max is verbaas dat ek en my vriend Carel nie soseer in die Groot Vyf belangstel nie, maar ook in die geveerdes én die bosveldbome – elk wat Max eien en soos ʼn ou vriend oor uitbrei.

Vir drie ure beleef ons holtes en hoeke van die 11 700 km² Chobe Nasionale Park met die geharwar rondom die verkiesings in Suid-Afrika wat ligjare weg voel. Ons sien ʼn deurwinterde buffel wat onder ʼn boom koelte soek; rooibokramme wat mekaar met hulle horings karnuffel; ʼn matriarg-olifantkoei wat trompetter om ons op ʼn afstand van haar kosbare kroos te hou. ʼn Paar seekoeie kom snork-snork vir asem op en sak dan weer geluidloos terug in die dieptes van die Sedudu-eiland. Selfs Max trek sy asem in toe minstens 15 krokodille sleep-sleep by die wal opskuifel na waar ʼn opgeblaasde buffel in die son lê en verrot. Max noem dat al die renosters uit die park na ʼn plek van veiligheid geneem is weens die gevaar van stropery.

Die ys in die koelboks het al gesmelt toe Max skielik rem trap en beduie dat ons tjoepstil moet wees. Meters voor ons in die vuurwarm sandpad lê ʼn leeuwyfie na haar asem en hyg terwyl nie minder nie as vyf kleingoed aan haar drink. Die moeë ma bekyk ons sonder belangstelling, maar skaars twee meter weg waak haar maat met gesplete goudgeel oë oor sy familie.

Leeuwelpies saam met ‘n leeuwyfie in die sand. (Foto: Lizma van Zyl)

Ons is die volgende oggend vroeg op om die dorpie Kasane te verken en reëlings vir ons volgende Covid-toets te tref voor ons die grens na Zimbabwe sou oorsteek. Soos die doeanebeampte op die Kasane-lughawe gesê het, is ʼn PCR-sertifikaat deesdae die nuwe paspoort as jy êrens voet aan wal wil sit. Op pad na die apteek vang ʼn wapperende katoenbroek in ʼn rietdakstraatwinkeltjie my oog, want jeans in dié hitte is hel. Die verkoopsvrou se opregte ke a leboga! (dankie!) laat my besef hoe dankbaar mense weer vir die toeriste se pulas is.

Winkeltjie in Kasane se hoofstraat. (Foto: Lizma van Zyl)

Laatmiddag kry ons vir gids Charles by die vasmeerplek. Ons mik vir die stroomversnellings (rapids) waar swerms en swerms voëls teen sonsondergang elk ʼn slaaptak soek. Namibië lê stroomop en Zimbabwe en Zambië stroomaf. Charles stuur sy bootjie behendig om die eilandjies terwyl hy ons trots vertel dat die Chobestreek met sowat 450 voëlspesies pronk.

Ons is gelukkig genoeg om die bedreigde Afrika-waterploeër (African skimmer) van naderby te sien wat ons vriend Willem Kellerman se lens so netjies vaslê voordat Charles die visstokke uithaal. Hy gee vir ons ʼn vinnige tiervisvangles van agter sy modieuse donkerbril, maar gee my die versekering dat, as ons ʼn byt sou kry, dit ʼn catch-en-release sal wees. En soos die lyne (sonder enige noemenswaardige pluk) in die rivier agter ons aandobber, daal ʼn stilte oor die bootjie neer en gaan die grootheid van die omgewing in ons stadslywe sit.

Afrika-waterploeër ook bekend as die “African skimmer”. (Foto: Willem Kellerman)

Zimbabwe is ons volgende stop waar Carel ʼn kollega moet sien. Veteraandrywer en toergids Mike help ons met al die rompslomp by die Kasane-grenspos waar soldate met AK47’s op die oog af vriendelik maar paraat almal se kom-en-gaan dophou.

ʼn Uur later stop ons voor ʼn winkel in die mooi, maar meer gehawende Victoria Falls as in my jongmeisiedae, waar Carel vir ʼn simkaart moet uitspring. Die ry is lank en ek en Mike begin in die motor oor ditjies en datjies gesels voordat ons gesprek ʼn ernstiger wending neem. Mike vertel van die 80 tot 85% werkloosheidsyfer in Zimbabwe, hoofsaaklik weens Covid, en die slagting wat dit in sy reeds beleërde land veroorsaak het. Hy vertel van die desperaatheid – die daaglikse stryd om kos op die tafel te sit – maar ook van mense se veggees en kreatiwiteit om die geldnood te verlig.

Soos die minute verbytik en die aircon in die motor al hoe harder kreun, ontvou sy storie ook. Ek hoor hoe Mike sy lewenspaargeld tydens die Mugabe-era kwyt is. Meer as 30 jaar se maandelikse wegsit wat soos mis voor die son verdwyn het. Die waardige man bly ʼn oomblik stil en grawe in sy leersakkie op die passasiersitplek. Hy draai om en wys vir my drie foto’s. Van sy Treasure, sy lieflingdogter wat ʼn beurs ontvang het om in Utah, Amerika medies te gaan studeer. Die trots van sy familie. Maar Treasure is ʼn paar maande gelede in Salt Lake City in ʼn motorongeluk dood. Mike draai sy gesig weg, maar ek sien die klam onder sy oë …

Dis stil in die kar. Ek sit my hand op sy skouer, maar kyk by die venster uit sodat hy longe kan volmaak. Mike hervat sy storie met ʼn skor stem.

Hy moet van die grond waarin sy dogter begrawe is gaan haal sodat haar siel hier in Afrika, by haar huis, tot ruste kan kom. Maar Mike kan nie die vliegtuigkaartjie bekostig nie.

Dis met ʼn swaar hart dat ek vir Mike totsiens sê waar hy ons met ʼn glimlag, wat nie heeltemal sy oë bereik nie, aflaai.

Met mae wat van honger protesteer na ʼn lang dag van reis in die venynige son, verslind ons elke krieseltjie op ons borde by ʼn restaurant digby die Victoria-valle met ʼn arendsuitsig oor die Zambezi.

Victoria-valle. (Foto: Lizma van Zyl)

Hoewel die valle nog net so indrukwekkend is as wat ek dit onthou, het die groot reën nog nie gekom nie. Dan word die bruisende watergordyn van meer as 1,7 kilometer in breedte net nog méér majestueus.

Terwyl ons nou gelawe agteroorsit, sien ek links uit die hoek van my oog beweging. Daar word gebungee!

Tien minute later duik ek in die Zambezi af met die Victoria-waterval wat agter my druis.

Met voete weer op terra firma beleef ons die flora langs die valle deur gids Wonder se blink oë. En sy naam doen hom gestand. Selfs na honderde sulke begeleide toere bly Wonder in verwondering oor elke boom, struik en blom

Afrika-bloedlelie by die Victoria-waterval. (Foto: Lizma van Zyl)

Ons tyd in ons kamp raak min en ons asem elke bosveldgeur in asof dit die laaste keer is. Met ons voorlaaste sonsondergang kyk ons oor ʼn watergat waar tam diere hulle koppe dankbaar in die koel water laat sak. Twee olifantkalfies het nog energie en rol plesierig in die modder.

Dis ook dié einste trop weesolifante wat deel vorm van ʼn plaaslike bewaringsprojek, wat ons die volgende oggend ontmoet. Ek en Carel word ná ʼn behoorlike inligtingsessie oor die “moets en moenies” van die interaksie presies 40 minute by die grotes gegun, met patriarg Jumbo wat oor die res uittroon.

Ons hoor aangrypende stories van hoofbewaarder Amos oor hoe emosioneel olifante is – dat hulle onder meer werklik treur wanneer een van die trop wegval. Ons sien ook eerstehands hoe hulle blydskap toon toe twee laatkommervriende met flappende ore uit die (bos)niet verskyn. Ons skrik eers vir die luidkeelse getrompetter, maar Amos, wat al ʼn lang stofpad met dié groep weeskinders stap, verseker ons dis blote vreugde om mekaar te sien. Die opgewondenheid manifesteer ook in die stroompie vog wat uit ʼn klier tussen die oë en die ore afloop.

Maar met die wegstap is dit daardie uitdrukking in Jumbo se oë wat êrens permanent in die Google photo’s van my grysstof opgelaai word.

Soos ʼn vriendin van my dit gestel het: Die heelal skyn in daardie oog.

‘n Zim-olifant se oog. (Foto: Lizma van Zyl)

Met ons vertrek uit Victoria Falls, op pad lughawe toe, vertel ons motorbestuurder ewe nonchalant van die drama wat in die vroeë oggendure ʼn paar honderd meter verder in die dorp afgespeel het. ʼn Man wat van ʼn nagklub af teruggekeer het, het in die stikdonkerte in die pad van ʼn olifant beland. Die alleenloperbul wat aan die buitewyke van die dorp rondgedwaal het, het die man doodgetrap.

ʼn Groep soldate met AK’s oor hulle skouers, wat soos die dorp in ons truspieëltjie kleiner geword het, op soek na die alleenloper …

Afrika

Onvoorspelbaar

Ongenaakbaar

Onweerstaanbaar

ʼn Olifant soek lafenis in die Zambezi. (Foto: Lizma van Zyl)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Toy

So mooi.

Kirst

Ons mense kan baie leer by die buurlande. Ek het 12 jaar lank in toerisme gewerk en baie gereis in Suidelike-, Sentraal- en Oos-Afrika. Ek het ook telkens ervaar hoe mense in Zimbabwe nog vol vreugde en hoop kan wees ten spyte daarvan dat hulle salaris net genoeg is vir ‘n sak meel. Hier kla mense net en verwag van die regering om alles vir hulle te doen.